Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.10.18

Oom Hermie nog perdfris en gesond

MARGARET LOMBARD (Hans se weduwee) skryf: Frans Wessels (wyle Bienkie se seun) en ek het verlede Vrydagoggend by Hermie Hendriks in Huis Hoëveld (hene, vier hoofletter H's in 'n ry!) in Johannesburg 'n draai gaan maak.

Ons kry hom waar hy ewe gemaklik in die tuin rondloop. Sonder 'n bril en sonder 'n kierie "want netnou val ek oor die ding". Hy sê dit gaan op 93 nog goed, dis net die gehoor en die geheue wat hom in die steek laat.

Frans het sy tabletrekenaar saamgeneem en vir Hermie 'n paar K'rant-foto's gewys. Hy onthou vir Wessel Oosthuizen baie goed en vra uit oor 'n paar ander.


Terug in Hermie se kamer, neem Frans 'n foto (onder) van hom by 'n skets van twee perde wat hy l-a-n-k gelede by die Die Vaderland se spotprentkunstenaar Victor Ivanoff gekry het.


Hermie vertel van Ivanoff se agtergrond as seun van 'n Kosak-generaal en voeg dan by: "Stadig met daardie kamera; ek is vandag 'n spotprentkunstenaar se grootste nagmerrie."

Nee, oom Hermie, jy is steeds 'n respekteerde legende. (En so sê almal van ons! – Red.)

• Terwyl Stella Niemand in Portugal vakansie hou, hanteer Philip Deetlefs die taalversorging.