Waar dié twee ook al beland het, van die Sans Souci in Aucklandpark en die Residensie in Pretoria tot die Grand in Windhoek, het hul reputasie baard gekry. Hardekwas, sinies, onverskrokke. Manne van die Ou Skool wat vir niks en niemand gestuit het nie; nie eens vir ‘n regter van die Hooggeregshof nie. Dit het ek eerstehands ervaar met my vuurdoop in die Paleis van Justisie.
Die opspraakwekkende Vontsteen-moordsage was uit die staanspoor die nuus van die dekade. Tom sou Frans Vontsteen en Sonja Swanepoel se verhoor dek en ek, toe nog ‘n groentjie landdroshof-verslaggewer, is deur nuusredakteur Jan van Vreden benoem as Tom se "assistent".
Tom Smit |
Die regter het uit sy hoë stoel sy blik oor die stampvol hofsaal laat dwaal. Hy het afgekyk na die bondel persmense skuins onder hom en gesê die hofverrigtinge kan nie begin solank daar so ‘n samedromming in die persgalery was nie. Elke denkbare koerant en nuusbron was verteenwoordig.
Regter Victor Hiemstra |
Daar was ‘n geskuifel van voete deur se kant toe en ek was besig om my skryfgoed bymekaar te kry toe Tom hier langs my opvlieg.
“U Edele, ek maak beswaar!” het hy uitgeroep. Groot stilte. Almal het asem opgehou. Die regter het Tom ‘n paar oomblikke aangegluur. In ‘n kalm stem het hy ’Meneer Smit’ beveel om hom in sy kamers te spreek en die hof verdaag.
Dit was nie ‘n lang verdaging nie. Tog lank genoeg vir die res van ons om te wonder wat sou volg. Selfbehoud is seker ‘n natuurlike reaksie. Wat gaan ek/ons doen as Tom opgesluit word vir minagting van die hof, was al waaraan ek kon dink.
Tom het woordeloos met ‘n skouer-ophaling en ‘n vonkel in die oog teruggekeer persbank toe. Ons het in spanning op die regter se beslissing gewag. Die uitspraak was kort en saaklik. Dit het daarop neergekom dat Tom se pleidooi volgens die regter só oortuigend was dat net die Pretoriase koerante elk twee verteenwoordigers vir die verloop van die verhoor in die hofsaal kon hê!