Dit was my blyplek toe ek in Januarie 1970 by Die Transvaler aangesluit het, met ‘n fris opdraande stappie na die koerant in Braamfontein, huurgeld van R29 en salaris R180 per maand!
Maar ek was met alles gelukkig en tevrede, want Die Transvaler het my ‘n tuiskoms en gesellige samesyn tussen kollegas met dieselfde belange gebied, ná twee jaar in Londen en Europa waarna ek na my eie mense begin verlang het.
Klik HIER om na die skakel te gaan. |
As ek nou terugdink, kon die woonstelletjie nie meer as 25vkm gewees het nie, maar dit het my aardse besittings geakkommodeer en ek was skatryk. Daar was plek vir ‘n enkelbed, ‘n sofa, klein tafeltjie en stoel en laaikas met net drie laaie. Bo-op die laaikas was my kosbaarste besitting – ‘n hoëtroustel met reuse-luidsprekers soos in daardie jare, langsaan op die vloer. Daarop het ek LP’s gespeel, met treffers soos ‘Just Call Me Angel of the Morning; There’s Got To Be a Morning After; Pretty Belinda, Please Release Me, Leaving on a Jet Plane en Bobby McGee. In die kombuisie was net ‘n klein yskassie vir melk, brood, botter en kaas. Ons het mos heerlike en billike middagetes by die koerant se kantien op die tweede verdieping geniet!
Vanaf my sofa het die hoë Hillbrowtoring voor my die lug ingeskiet wat saans vir my met sy rooi flikkerlig geknipoog het.
‘n Baie eksklusiewe restaurant was The Three Ships in die Carlton Hotel waar ‘n talentvolle meisie met strelende vingers die klassieke kitaar bespeel het. Ek verbeel my al dit kon Tessa Ziegler gewees het. My metgesel vertel hy het een aand ‘n mooi meisie daarheen vir ete geneem en toe die rekening kom is ‘n ekstra R70 daarby gevoeg. Hy het by die kelner navraag gedoen wat hom na die bestuurder verwys het. Dié het hom meegedeel dat daar kringtelevisie in die vertrek is en sy metgesel sit met die restaurant se silwer sout- en peperstel in haar handsak! Hehe. Hy sê hy het toe maar betaal en haar met ‘n huurmotor huis toe gestuur – galante heer wat hy was. Ek dink ek sou haar handsak oopgemaak en dit uitgehaal het!
‘n Wonderlike seekos-restaurant was dié van Toni Amarill in President-straat waar hy garnale bedien het wat maar skaars en ongewoon was daardie jare. Hy’t ons vertel dat hy die garnale lewend in strooi vanuit Mosambiek invoer. Hy het dit met ‘n botter-knoffelsous bedien waarvan hy die resep dig gehou het.
As deel van die koerant se vroue-blad, het ek kennis gemaak met die merkwaardige mev Elizabeth Albrecht. Ek het ‘n artikel geskryf oor haar Suiderkruis-fonds wat sy in 1968 vir ons soldate op die grens gestig het.
As kultuurvrou het sy graag opvoerings in die staatsteater in Braamfontein bygewoon maar haar man was in daardie stadium ongelukkig baie sieklik. Toe tref ‘n gelukkie my! Ek word as haar metgesel na alles op die planke in die teater saamgenooi. En verder: ek word in haar luukse swart motor met chauffeur by my woonstel in Smitstraat opgelaai! Ek het gesorg dat ek my beste voetjie in my lang aandrok voorsit met die allerbeste maniere en so het dit ‘n gereelde instelling geword vir ‘n tyd lank. Wat ‘n wonderlike voorreg, ‘n ondervinding en geleentheid waarvoor ek as junior verslagewer nederig dankbaar was.
‘n Paar jaar later toe ek by Republikeinse Pers op die redaksie van Rooi Rose en Radio & TV Dagboek aangestel word, het ek na die anderkant van Hillbrow na Doornfontein verhuis en wel na die toringblok Tygerberg, op ‘n heuwel in Tudhopelaan in Berea. Vanaf die buitegang het die hele Johannesburg aan sy soom gelê met die berugte ronde toringblok Ponte net links van Tygerberg.
Hoog mode daardie jare was ‘n waterbed wat ek vir my sitkamer aangeskaf het en wat groot pret was met partytjies soos almal met die geskommel van die water op en af gewip het. Die opvul was ‘n maklike taak met ‘n tuinslang vanaf die bad-kamer maar nooit het ek gedink hoe die leegtap sou wees nie. Tot die dag toe ek na die destydse Rhodesië verhuis het om verslag oor die grensoorlog te gaan doen! ‘n Helper het met die langste tuinslang wat hy kon kry kom hand bysit en selfs dit het net tot in die helfte van die gebou gehang. Daar bevind ek my toe met ‘n swaaiende tuinslang wat die wêreld vol spuit in die hoop dat niemand ons sou aankeer nie!
Die vroeë sewentigs in Hillbrow was sekerlik van my lekkerste jongmeisiedae wat my bybly. Ek het ‘n artikel vir Radio en TV Dagboek gedoen oor die eerste advertensie van die Suid-Afrikaanse Lugdiens vir die koms van televisie en skakelbeampte Mariaan Reynders ontmoet wat ‘n lewens-lange vriendin geword het. Ons het gejol, partytjie gehou, met vriende gedans tot alle ure by Ster City se Sardi’s by Night, soms vis en skyfies tweeuur in die oggend in Pretoria-straat gekoop en net daar op die bushalte-bankie gesit en eet. ‘n Wonderlike, sorgvrye lewe met Hillbrow aan ons voete en veilig enige tyd van die dag en nag.
Ek onthou ek het een aand ‘n briefie onder my voordeur van die bure gekry, wat gelees het: "ons gee nie om tot watter tyd in die oggend jy jol nie, maar trek asseblief jou hoëhakskoene uit wanneer jy inkom, want jy maak ons wakker!" Skandes, met ‘n onblusbare energie vir die lewe, want die volgende oggend was ons weer agtuur op kantoor sonder om ‘n oog te knip. En het ek agter my tikmasien ingeskuif vir my volgende storie.
Een van die baie spesiale voorregte wat Mariaan as skakelbeampte van SAL gehad het, was toegang tot Inandaklub waar sy kliënte onthaal het. Ons sou Saterdagmiddae ‘n piekniekmandjie pak met ‘n bottel wyn, uitstrek in die son langs die swembad en die osoonlaag tart. Ek kan bykans nie glo dat ons soveel ure in die son deurgebring het, maar ‘n sonbrand was hoog mode en amper ‘n vereiste om "gesond, jonk en sexy" te voel.
Mariaan het by die bekende Majestic Towers op Clarendon Place in Hillbrow gebly. Een Saterdag op pad na Inanda met juis so ‘n gepakte mandjie, wil ons by die ondergrondse parkering uitry maar ‘n selfsugtige Volksie-eienaar het eenvoudig die ingang toe parkeer.
Dis toe dat ek ‘n misdaad pleeg wat ek nog nooit vantevore in my lewe gepleeg het nie – nie eers geweet het hoe om dit te doen nie en net van gehoor het. Ek soek ‘n vuurhoutjie, druk dit in die wielklep en toe die wind met een plofbare swoesjgeluid ontsnap en die Volksie duskant sak, skrik ons onssélf byna winduit en laat vat vir die hysbak! Ons het so pas ‘n ou se wiel afgeblaas! Geskok en te bang om dit buite te waag, het ons die res van die dag tuis gebly. Onverskrokke!
Toe ‘n vriend van Mariaan wat vir Alitalia vlieg, ene Enzo, haar skakel om vir haar in Hillbrow te kom kuier, was sy net ‘n paar maande getroud maar sy wou hom baie graag sien. Sy besluit toe op ‘n "ope dag" by Inanda en met my saam was alles mos onskuldige pret. Sy koop vir die geleentheid ‘n nuwe bikini – pragtig geborduurde kantmateriaal met klein gaaitjie-blommetjies.Dis toe ons gebruiklike modus operandi – piekniekmandjie, sonbrand, glasie wyn en huis toe. Sy besluit om tuis maar liewer te swyg oor die dag maar toe sy die aand stort kom haar man ingestap en met haar rug na hom gekeer, sien hy net rooi songebrande blommetjies op haar sitvlak – tell tale prints in die ware sin van die woord! Gelukkig kon hy die snaaksigheid daarvan insien!
Dit was ons wonderlike en onvergeetlike dae in Hillbrow en Johannesburg.
Rocco Erasmus |
Daar was ook Robin Alexander wat homself altyd as ‘mev Alexander se jongste en mooiste’ en ‘die minister van middernagtelike sake’ aangekondig het. Almal het altyd by Radio Hoëveld ingeskakel om na die twee se praatjies te luister met kontemporêre musiek wat ons liedjies van daardie jare was.
Ek het in 1988 Hillbrow vaarwel toegeroep en na Kaaptad verhuis. In 1994 is ek vir die verkiesing benoem om namens die ou Departement van Inligting in Johannesburg diens te doen.
Niks het my voorberei vir die veranderde Hillbrow en Johannesburg nie.
Die nuwe verkiesingsgebou was in Kommissarisstraat in die plek van die ou His Majesty’s-teater en ek kon sweer my lessenaar was op presies die sitplek in die ou teater waar ek laas vir Tom Jones in 1976 sien optree het.
Tygerberggebou, Hillbrow |
Een dag moes ek ‘n verkiesings-dokument ná werk by ene James Ndlovu by die Skyways-woonstelle in Berea laat teken wat ek vroeër geken het as die mees eksklusiewe blok woonstelle in die gebied en net vir die rykes bedoel. Dit was ‘n wolkekrabber op die heuwel, moontlik in Prospectstraat langs Hillbrow en langs die waterval met rotse en klipspringerbokkies wat uit metaal gesny was.
Ek het in die skemer voorportaal sonder ligte die naambord gefynkam vir sy nommer, gaan klop in ‘n besige gang en ek is deur die bure meegedeel hy sou oor 15 minute tuis wees. Ek sou maar in my motor moes gaan wag. Wat ek ook op die naambord opgemerk het, was net die een Afrikaanse naam – ‘n mnr BJ van Rooyen wat my laat wonder het.
Ek het in die warm motor gesit en kyk hoe almal huis toe kom en toe vang my oog ‘n lang, skraal en regop figuur met silwerwit hare wat aangestap kom – ‘n bejaarde man met ‘n wit kierie wat sy weg op die sypaadjie versigtig voel-voel. Hy moes die wêreld goed geken het, want hy’t doelgerig gestap en almal het hom vriendelik langs die pad gegroet, dan lig hy sy stok met ‘n teruggroet.
Toe hy by my motor kom, hoor ek sy naam met ‘n groet. Dan draai hy regs by Skyways in en hy verdwyn agter die glasdeure in die donker voorportaal in sy eie skemerwêreld – mnr BJ van Rooyen, ‘n blinde man met ‘n wit kierie en almal se vriend.