Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

18.2.19

Joviale Phil, die ‘ou’ wat in "HD" kon skryf

 JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Die oorlye van Phil Zaayman het ‘n paar gawe herinneringe laat opdoem van hierdie goed-gepekelde sportskrywer wat nou nie meer met ons is nie.

Die man wie se ‘byline’ boaan sportberigte so deel was van rugby, boks en ander sportsoorte, soos die spelers sélf.

Min skryfvaardiges kon ‘n Springbok-sege of Curriebekereindstryd so passievol en kleurvol met woorde skilder soos Phil Zaayman. Sy superhelder manier om met woorde te skilder was ‘n soort vroeë voorloper van die ‘HD’-televisie.

Phil Zaayman
Jy het die wedstryd daardeur ‘gesien’ ... herbeleef, maar op ‘n ander manier, danksy sy prikkelende perspektiewe en beeldspraak wat hy ongedwonge daarby ingebou het. Dit was ‘n sub se droom om vir sulke sportverslae ’n opskrif te skryf.

Dit het gewoonlik spontaan uit sy sportberigte geplof!

Ons was kollegas in die 1960’s by Die Oosterlig in Port Elizabeth waar hy ‘n jong sportskrywer was. Toe hy vort is na die “groot koerante” toe in die ou Transvaal, beland ek so ‘n rukkie na sy vertrek in die sportkantoor, as sportsub en ook as klubrugbyskrywer, waar dikwels nog na hom verwys is.

Phillie, soos party van ons na hom verwys het, was ‘n joviale soort mens. ‘n Grapjas. Altyd aan die beduie met sy lang, slap vingers het hy dikwels die humorkant van selfs ernstige goed raakgesien. ‘n Tipiese “ag-dis-nie-so-ernstig-nie-mens” was hy.

Eenkeer weet hy te vertelle hy voel nou rêrig so “af” en moedeloos. Weet nie meer waaroor nie en dit het nie sommer met ou Phil gebeur nie. Wag, wag, wag, sê hy ewe melo-dramaties en klim daar en dan op ‘n stoel en spring af. “Ek oefen solank vir as ek van ‘n brug af wil spring.” En toe skater hy maar weer saam met almal wat die “oefening” gesien het.

'n Soortgeyke Volvo as Phil s'n.
Hy het ‘n Volvo gery. En met trots. Van daardie langboogrugmodelle wat hy as “die beste kar” bestempel het. Ek was dit met hom eens, want self het ek 12 jaar lank ‘n Volvo gery.

Toe motorskrywer Ronnie Kruger destyds oor Volkswagen se nuwe “Fast-back”-model skryf was Phil kommentaar ewe droog: “Jis, ek ry dan al jare met ‘n ‘fast-back’. Wa’ kom die ouens nou vandaan!”

Die meeste van ons joernaliste moes destyds, soos ‘n “girl Friday”, oor alles kon verslag doen en meer as ‘n paar “beats” behartig. Phil moes ook “sokker skryf”, soos kortweg gesê. PE City het in die sestigerjare groot naam gemaak en die adrenalienvlakke versteur van heelwat Afrikaanssprekende Baaienaars as top-amateursokkerspan van Suid-Afrika.


Phil was na my beste wete nie juis dol oor sokker nie. Die rede? Dis ‘n Engelsman-game, het hy dit geëtiketteer en Phil was destyds nog ongetroud en van die groot sokkerwedstryde is dikwels op ‘n Vrydagaand, sy kuieraand, gespeel (nog op die ou Crusadersveld; vandag die bekende St. George-krieketveld).

Een so ‘n Vrydagaand had Phil “’n date met ‘n nice girl” wat hy vir seker nie wou mis nie. Of ek dan nie wil sokker toe gaan en “die game” vir hom wil “cover” nie en “sommer so ietsie” daaroor skryf. Hy sal dit “verder organise” en my iets gee, maar dit bly tussen ons, asb, want “ou Alex” moet dit nie weet nie. (Verwysende na die destydse sportredakteur en sy direkte hoof, Alex Kellermann). Van sokker had ek geen kennis nie self had ek dié aand ook ‘n kuiertjie aan. So is ek toe eerbaar uit die takie uit.

Phil was altyd laat met die indien van sy koste-eise. Hy had ‘n toksiese hekel aan dié takie. Ons het dikwels by “administrasie” ‘n voorskot gaan opvra as ons op die een of ander ver plek ‘n storie moes gaan kry en ons beursies plat was of die einde van die maand vir ons so ver soos Mars gevoel het. Ockie Ferreira was die man met hierdie beurs en het dikwels ongeseglik ongelukkig geraak as ons joernaliste nie ons uitgawestrokies en balans van die voorskot by hom besorg nie.

Phil was ‘n ou vir sport – gewis nie vir syfers en boekhouerige goed nie. Eendag kom ‘n vieserige Ockie hom daar in die redaksiekantoor se gang konfronteer oor ‘n nog eens lank uitstaande voorskot. Phil was vir ‘n oomblik in ‘n hoek, maar gereed met sy joviale, breë glimlag: “Ou Ockie, jy sal my nou nie glo nie, maar daai geld wat jy voorgeskiet het, het tot op die sent mooi uitgewerk. Ek skuld jou niks en jy ook nie aan my nie. Als mooi ge-’cover’!”

Agterna vertel Phil onder groot gelag hy en ou Ockie sal ook nooit pelle kan wees nie want hy is nie ‘n ou vir sulke goed nie. Hy weet nou nie, maar hy verloor ook altyd sy strokies.

In die sewentigejare toe ek ook noorde toe is, na Die Vaderland toe, het ek weer met Phil paaie gekruis. By Rapport. ‘n Tyd lank het ek op Vrydagmiddae en Saterdae tot laat in die nag in die sportkantoor gaan subwerk doen en blaaie opgemaak. Phil was toe getroud en baie rustiger, maar nog altyd die soort ou wat dikwels deur bulderende lag “van die manne” omring was, terwyl hy met daardie lang, slap vingers van hom behendig kon beduie. Net so behendig soos wat hy honderde duisende woorde van sportberigte met hulle getik het.

Deur die jare heen het ek gewone sportmal ouens gereeld hoor sê: “Het julle gelees wat ou Phil skryf ?” en dan na die een of ander van sy rugbyverslae verwys.

Die man het nie net uitmuntend rugby geskryf nie; hy was déél van “die game” en ‘n soort Mannetjies Roux en ‘n Jan Ellis wat groot gapings gevat het met fyn, raakvat-woorde op papier. En hét sy lesers dit nie geniet nie!

Phil Zaayman se “byline” het nou ‘n “goodbye-line” geword. So eindig die lewe maar met ‘n punt aan die einde van elke skrywer se sin.