Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.11.18

Boertjies staan tou

JOHAN ESTERHUIZEN (Essie) voorheen van Hoofstad, Die Transvaler, The Citizen, Beeld en Rapport skryf: In 1982 het ek vir Die Transvaler die eerste keer verslag oor die Wimbledonse tennistoernooi gaan doen.

Dit was my en my goeie vriend, Tobie Mostert van Die Vaderland, se eerste besoek aan Londen.

Ons het erens in 'n klein hotelletjie -- die Tivoli -- gebly, maar ek kan nie onthou waar dit was nie.

Tobie Mostert
Omdat ons kollegas ons gewaarsku het dat daar nie "egte" Suid-Afrikaanse brandewyn in Londen is nie, het ons op een of ander manier 'n bottel saamgeneem.

In die aande het ons dan net so 'n doppie of twee gedrink, want dit moes lank hou.

Ons grootste probleem laataand ná die tennis was om Coke (Coca-Cola) in die hande te kry. Ons het dan op pad terug van Wimbledon in die aand by 'n KFC aangegaan -- nie soseer vir die hoender nie, maar vir die "mix".

Die eerste aand stap ons toonbank toe en bestel. Toe eers sien ons die lang tou mense teen die muur in 'n ry staan.

'n Man skreeu toe vir ons: "Hi, here in Londen we have manners, we stand in line. Tobie draai om en wys hom 'n teken en snou hom die f-woord toe. 'n Geveg breek byna uit en die mense help ons vinnig om ons net uit die plek te kry.

Die tweede aand sê ek vir Tobie ons moet nou mooi in die ry gaan staan en ons doen dit.

Toe kom 'n man ingestap en stap reguit toonbank toe. Tobie skreeu toe vir hom: "Hi, in Londen we have manners. We stand in line."

KFC, Wimbledon.
Die man draai om, wys ons 'n teken en snou ons die f-woord toe.

Raai waar het dié man vandaan gekom? 

Boksburg!

Hy het ook nie geweet jy staan teen die muur in 'n ry af en wag vir jou beurt nie.

Ná nog 'n amperse relletjie het ons en die man vriendskaplik uit mekaar gegaan toe ons besef ons is almal van Suid-Afrika.

Nodelooos om te sê, die derde aand het die personeel daar ons flink bedien. Ek dink hulle wou ons net vinnig daar wegkry.