Perskor-Uitgewery het my eerste boek ‘Getuie vir die naaktes’ in 1974 uitgegee, en op grond daarvan het die redakteur van Hoofstad (dit was Sam Lake, dink ek) my die geleentheid gegee om as leerlingjoernalis by die koerant in Pretoria te begin. Dit was kortstondig, en ek is skaars ‘n jaar later vort SAUK Radionuus toe (ook kortstondig, maar ‘n ander storie).
Die name van oudjoernaliste wat op K’rant gelys word, is vir my meestal onbekend. My soektog op die web, lei my egter na Zelda Swart se artikel en daar vind ek twee name uit my een jaar by ‘n Afrikaanse koerant; die jaar waar die grondslag van ‘n lewenslange en hegte verhouding met joernalistiek gevestig is.
Eric Ströh |
Ek was 24 jaar oud, skaam en verwonderd, en is sommer al vroeg by die diepkant ingegooi. Die nuusredakteur (Bossie Bosman, is hy nog met ons?) het my aanvanklik in die kloue van die klipharde verslaggewer Jeanne Goosen, gelos en ons is die wêreld ingestuur om te loop soek na interessante “features”; stories met ‘n kinkel, lekkerleesstories, met my as die fotograaf.
Jeanne Goosen |
Laasgenoemde was ‘n totale fabrikasie. Jeanne was maats met die slangvanger by die slangpark by die dam. Hy het yslike slange op die lelieblare geposeer, dan moet ek onder Jeanne se leiding, halflyf die water inbeur en die blerrie goed afneem.
Natuurlik, terug by die koerant en na die slangfoto’s ontwikkel is, was die resultaat maar vaal en uit fokus soos ek bewerig probeer het om die slange met die Pentax vas te vang terwyl Jeanne van die wal af beveel, “Dieper, jong, dieper! Jy moet die goed se tanne kan sien!”
Nietemin, my vaal foto met ‘n verklarende onderskrif het die voorblad gehaal, Eric het geduldig gebly, en mettertyd het my fokus en beligting ook verbeter. Maar as fotograaf het ek nooit werklik daai “killer instinct” wat Jeanne só aangemoedig het, ontwikkel nie, en ek is bitter gou aangestuur redaksie toe.
En, in die volgende trappie van my leerskool, het ek in die hande van die hofverslaggewer, Anneline Maree beland.
Anneline was sonder weerga. Elke liewe landdros en hofklerk het haar by name geken en sy het ‘n neus gehad vir sake wat op die oog af van min belang was, maar waarin ‘n dieper misdadige substansie verskuil was.
Korrupte sakemanne, slinkse politici, en obskure stories van misleiding, was haar kos. Saam het ons die gange van die Pretoriase Landdroshof (links) bewandel, en Anneline wat my vrae en nuuskierigheid, my naïwiteit en honger vir die storie, geamuseerd maar altyd met ‘n ongebonde vrygewigheid gevoed.
En by haar het ek die eerste keer geleer om dít wat verbloem is of geheim wou bly, uit te snuffel, en nie op te hou krap nie, totdat die ware storie uitkom. Dankie, Anneline, waar jy ook mag wees!