Willem de Klerk se tyd by Rapport – van 1 April 1983 tot 7 Maart 1987 – het enersyds vir hom groot vreugde as 'n ryper redakteur gebring met verdere groei in verligte politiek. Andersyds was daar “die pad van neergang met PW Botha en die Nasionale Pers”, wat tot sy bedanking gelei het – 'n stap wat deur sy broer, FW, met 'n hupstoot van Naspers se Ton Vosloo, verhaas is.
Willem de Klerk beskou die vier jaar by Rapport as die hoogtepunt van sy redakteurskap en politieke kommentaarwerk. Die Transvaler het hom geslyp vir die moets en moenies van 'n redakteur. Hy is met ope arms deur die personeel, direksie en bestuur ontvang.
Et tu, FW |
Hy het 'n “vetter salaris, 'n nuwe Mercedes en 'n totaal ander werkstruktuur as by Perskor” gehad, sowel as 'n verhoogde status as redakteur van die grootste Afrikaanse koerant. “Ek het ingeval met 'n 9-puntplan vir Rapport wat met entoesiasme aanvaar is. Ek het ‘hands-on’ gewerk.”
Hy skryf verder: “In objektiwiteit sou ek sê dat ek 'n baie goeie redakteur van Rapport was. Die personeel is goed bestuur; my baasskap was onbetwis; die koerant is vernuut in uitleg en aanbieding (korter stories); die commongeit is teengewerk met 'n sterker hardenuus komponent en 'n fokus op prestige en ingeligte politieke nuus en kommentaar; die sirkulasie-daling onder Sakkie Perold is gedurende die eerste jaar gestuit; my gesag as politieke kommentator het 'n hoogtepunt bereik; verhoudinge met die politici en PW Botha was positief en ontspanne.”
Willem glo dat hy in dié tyd van sy beste kommentaar geskryf het. “My verligtheid het in nuwe raamerke inbeweeg met temas soos: ons moet ons onttrek uit Suidwes en die oorlog beëindig deur onafhanklikheid te bespoedig; die grondwet sal moet verander om ook swart mense in te sluit; daar moet met nuwe oë na die ANC gekyk word, want hulle is deel van die oplossing en nie deel van die probleem nie; swart meerderhede is ons voorland en ons moet werk na vennootskappe met swart mense; onderhandeling met 'n ontbanne ANC moet nou dringend aandag kry; en wat nog alles het ek geskrywe om die NP te help voorberei vir sy volgende spronge.”
In die jare 1983 tot 1985 was hy “op die toppunt van my loopbaan”. Hy het met kolskoot-artikels in argument met die NP getree, hy was lid van die Uitvoerende Raad van die Broederbond, sy TV-gesprekprogram was besonder gewild en hy was deeltydse professor aan die Randse Afrikaans Universiteit.
“'n Paar dinge het egter begin skeefloop en elke lyn van ontwikkeling het begin saamkoek om knope te veroorsaak.”
PW Botha |
Marinus Wiechers |
“Die ander lyn was dat PW Botha in grimmigheid teen my gedraai het oor te verligte kommentaar, aanstoot neem teen die feit dat ek die koerant te onafhanklik hou van die NP en NP-vyandige skrywers (soos Marinus Wiechers) in die koerant laat praat.
Ton Vosloo |
Wollie van Heerden |
Nina Overton |
Dit was toe ook dat sy “huwelikskrisis, Nina-krisis, Elzabé (sy vrou) se kanker” hom tot 'n sekere mate gestroop het. Hy het nie sy werk afgeskeep nie, maar depressie en angs het sy tol geëis.
“Die uiteinde was dat ek my hoed gevat en geloop het op 7 Maart 1987.”
Hy het die verloop van sake op 24 Maart só saamgevat:
“Iets aangrypends het met my gebeur op 7 Maart 1987.
Ek het bedank as hoofredakteur van Rapport.
Dit was ‘'n verskriklike dramatiese stap. Hoofberigte in die Sondagkoerante en ook nog dié Maandag. Onderhoude gevoer met die BBC, Ierland, Australië, ens.
Die drama het so hoog geloop omdat dit ingedeel was onder die hele wegbreek-aksie van die Nasionale Party.
Wynand Malan |
Denis Worrall |
Ek het – voor al die gebeurtenisse – 'n artikel geskrywe dat daar binne die NP 'n 22% is wat links beweeg en dat hulle probleme aangehoor moet word. Toe het die dinge begin losbars.
In die spanning op 8 Maart het FW op televisie gegaan en openlik gesê dat Rapport plek-plek die NP aanstoot gee. En ek het op televisie gesê dat ek links van die NP staan.
Dit alles het plaasgevind in die elektries-gelade atmosfeer van 'n komende verkiesing op 6 Mei 1987.
Die redes vir my bedanking het ek aangegee dat die dalende sirkulasiesyfers aan my gewyt word (wat waar is) en dat politieke druk op my om meer NP-propagandisties te wees my aanstoot gee, my politieke gewete belas, my geloofwaardigheid aantas en my versper in my funksie as koerantredakteur.”
Die direksie het hom op vroegtydige aftrede geplaas met 'n pensioen van R1 700 per maand.
Vir baie was hy 'n held “wat 'n protes gedemonstreer het teen PW Botha en die NP en die NP se gesukkel om politieke oplossings vir die land te bring.” Hy is ook beskou as iemand wat “vir die saak van selfstandige politieke joernalistiek 'n bres geslaan het.”
Vir ander was hy “'n wegbreker, 'n opstandeling en 'n man wat druk nie kon vat nie.”
“Wat is die waarheid en wat voel ek?
Die waarheid is dat die Naspers-vennoot van Rapport my die afgelope twee jaar al treiter met kritiek dat Rapport nie aan hul verwagtinge voldoen nie.
Hulle wou van my ontslae raak om volledige beheer oor Rapport te kry. Die gevolg was dat hulle vir twee jaar lank my dikwels verneder het – 'n ander werkaanbieding wat ek ontvang het (Fred du Plessis) wou hulle my dwing om te aanvaar; toe met Breyten Breytenbach se Rapport-prys (vir letterkunde) wou hulle my op 'n verpligte verlof plaas oor die wyse waarop ek dit in die koerant hanteer het; intussen is by hond en moerskont skinderstories teen my geloods; en dan weer sal hulle my glo ‘verdra’.
Dit het 'n nuwe hoogtepunt bereik op 'n direksievergadering van 5 Februarie 1987 (ek was nie by nie) waarop 'n skerp aanval op Rapport gemaak is en ek direk geïmpliseer is.
Hierdie soort vernedering en onbillikheid en rugsteek van Naspers kon ek nie meer dra nie.
Nog 'n waarheid is die politieke druk, want PW Botha en baie van sy kabinet het Rapport uitgekryt vir te links en vir my spesifiek as iemand wat die NP-politiek beduiwel. Selfs FW het hieraan meegedoen.
Van Ton Vosloo is soms geëis dat ek gefire moes word. PW het onsmaaklike briewe aan my geskrywe. Oom Wollie van Heerden (voorsitter van Rapport) is voortdurend gebel oor dié en daardie politieke klagte.
Dit het 'n nuwe, skep aksent gekry begin 1987 toe die Onafhanklike kandidate wegbreek. Ek het in die koerant ook probeer om dit goed te belig in nuus en simpatieke kommentaar.
Annemarie Mischke |
Die aantasting van my politieke leiding in die koerant en druk en die belediging kon ek nie meer vat nie.
Wesenlik is dié twee waarhede dus dat my trots, selfrespek, selfbeeld só aangeveg is dat ek dit emosioneel nie meer kon hanteer nie. Eintlik het ek onder my trots geknak.
Daar was egter nog waarhede...
Willem Wepener |
Bob van Walsem |
Sy werk by Rapport het vir hom “onbehaaglik” geword . Hy kon nie meer glo in die NP se integriteit en oplossings nie. Met die wegbreek van die Onafhanklikes kon hy die NP nie “kritiekloos” steun nie.
“Ek het die opsie gehad om polities myself te verkrag of te loop... en die loop is wat 'n redakteur in die Westerse wêreld doen. Dis die eervolle ding.”
En Rapport se sirkulasie het ironies drie weke voor sy vertrek sy draai gemaak en konstant geklim.
“Die groot tragiek is dat ek nog gehoop het op samespreking tussen my en Vosloo, Koos Buitendag en Oom Wollie wat sou plaasvind. In die paar dae voor my bedanking het ek vir FW gesê ek gaan bedank.
Ná PW op 'n kabinetsvergadering uitgebars het teen Rapport, gaan FW hom sien en sê ek oorweeg om te bedank. Hy (PW) bel Vosloo en dra dit oor.
Dit is die koeël deur die kerk... en so is omdraai vir my onmoontlik gemaak.
Drie weke na die trauma skryf Willem:
“Ek moet nugter probeer wees, maar ek kan nie.
Ek is stukkend, totaal ontwrig met die wete dat 'n baie groot ramp ons almal getref het.
Ek het die grootste flater van my lewe begaan.
Ek sit sonder agenda, sonder invloed, sonder status en aansien, sonder sekuriteiten sonder geld. Ek het geen selfbeeld nie, voel ontsettend minderwaardig en alleen. Depressie en selfverwyt verteer my. Alles voel soos 'n nagmerrie.
'n Komies-interessante inskrywing is dié een: “Victor Horne van die RAU vertel my vanoggend van 'n vriend wat ook dramaties uit sy werk bedank het.
Hy het gevoel hy gaan ‘bloed laat’ vir 'n saak. Hy doen dit. Daarna sê hy: 'Ek voel dat as mense by die bloedvlek kom waar ek myself vernietig het, sal hulle vra, as hulle na die kol kyk: ‘Watter hond het hier gepis?’
Ek probeer om nie te projekteer nie, behalwe seker my depressie, maar ek het verwyt ook dat my mense my nie gekeer het nie.
Wat ookal gebeur – dit was die grootste fout van my lewe. Ek het as’t ware my hand aan my eie lewe geslaan. Ek het my vlerke diggevou en toornig neergestort’.”
Later, op 1 Oktober 1991, skryf hy:
“Wys hoe paniekerig 'n mens kan word, want my pad van Maart 1987 af het goed geloop...”
Hy kon hom verlustig aan:
• PW se val;
• Dat die NP presies die pad geloop het wat hy in Rapport bepleit het;
• Rapport se sirkulasie wat na sy vertrek aangehou daal het en
• Rapport wat sy invloed verloor en 'n swakker koerant geword het.
Hy kon hom daarna uitleef as professor in kommunikasie van 1 Mei 1987 af, as ANC-knoper, Demokratiese Party-fasiliteerder, politieke konsultant en biograaf met die boek oor FW.
(Word vervolg: Wat maak 'n redakteur as sy personeel uiters negatiewe
nuus uitgrawe oor 'n vriend wat gunste en gawes aan hom bewys het?)