21.11.12
Toe dit kalkoene gereёn het in Durban
CHARL THOM skryf: Stories oor Perskor se sogenaamde ‘hoenderbonusse’ het my laat terugdink aan die jaar (die winssyfers het seker goed gelyk!) toe baas Marius besluit het dat sy slawe darem ‘n kalkoen in plaas van ‘n hoender vir Kersfees verdien.
Ek was redakteur van Tempo in Durban toe Neels Haupt my bel en vra hoeveel personeel ons by die koerant en drukkery is en die adres waar
hy die kalkoene kon laat aflewer vroeg op die dag net voor Kersfees. Ek sê toe ons is 60 siele en die adres is Umbiloweg 305.
So teen 12-uur, toe almal al brand om vroeg huis toe te gaan om saam met die gesinne om ‘n Kersboom te vergader, daag daar ‘n kêrel op om my te spreek. Ja, hy’s van een of ander vervoermaatskappy en hy het opdrag om bevore kalkoene hier af te laai.
Ek was besig met laaste takies en beduie toe hy moet sommer die kalkoene in die leё kantoor langsaan sit. So gaan ek aan waarmee ek besig was maar dit begin my pla dat manne wat bokse by my oop kantoordeur verby dra, skynbaar eenvoudig nie kan klaarkry nie.
Ek staan toe op om ondersoek in te stel en sien dat daar reeds ‘n groot stapel bokse met kalkoene gepak is. Net toe kom die ou van vroeёr met nog ‘n boks by die trappe op. Ek keer hom voor en vra hoeveel kalkoene hy aflaai. Hy trek ‘n stuk papier uit sy sak en lees. “Dis 365 kalkoene by 30 Umbiloweg. Ek was by nommer 30 maar hulle’t my hiernatoe gestuur.”
Ek verduidelik naarstiglik vir die man dat ons net 60 kalkoene moet kry. Hy kan die res terugvat. Maar hy skud sy kop. Dis sy laaste aflewering, die koelkamers is al afgeskakel en hy gaan nou huis toe. Met dié laai sy manne die laaste van die 365 kalkoene af. Ek bel angsbevange vir Neels Haupt in Johannesburg.
Wat maak ek met 365 kalkoene vir 30 mense? (Die res is al huis toe omdat hulle nie langer wou wag nie.)
Ha, ha, ha, lag Neels. Een vir elke dag van die jaar! Daar’s geen genade nie, beduie hy, die mense het seker die 305 by 60 getel en so by 365 uitgekom. Ek moet maar net plan maak met die kalkoene.
Desember is natuurlik bloedig warm In Durban en daar is geen sprake dat die kalkoene die hele lang naweek in ‘n kantoor kan deurbring nie. Elkeen wat toe nog daar was, is huis toe met soveel kalkoene as waarvoor hulle vriesplek by die huis het, vriende en klennisse is gebel om asseblief tog te kom kalkoene haal. Self kry ek ‘n paar in die vrieskas by die huis in en kry so uiteindelik vir die hele lot iewers ‘n huis.
Weet nie of baas Marius ooit vasgestel het van die ‘ruim kalkoenbonusse’ wat hy daardie jaar vir almal in Durban betaal het nie, maar die uwe het vir ‘n hele paar jaar daarna nog langtand aan kalkoenvleis geёet!