PIET ROOS skryf: Een Saterdagoggend werk ons in Aucklandpark, Johannesburg, die koerant is af en ons kyk vir mekaar. Wyle Jaap Swanepoel sê ons gaan rugby kyk op Ellispark en daar gaan ons.
Hy ry in so 'n roomkleurige Mercedes en ek sit agter, nog twee manne gaan ook saam.
Net so links van die hoofhek is daar 'n hek met 'n wag en Jaap ry deur. Die wag probeer hom stop en skree, maar Jaap ry aan. Die wag hardloop saam en skree, maar Jaap ry aan. Toe slaan die wag met die plat hand op die kar se dak.
Jaap skop die remme vas en die kar skuif op die gruis. Dis net stof en klippers wat trek.
"Meneer, meneer julle mag nie hier inry nie!" hyg die wag.
Jaap sit doodstil en kyk vorentoe. Hy draai stadig na die wag.
"Jy het op my kar geslaan. Sê jy's jammer."
"Maar meneer, julle kan nie hier inry nie!"
Jaap kyk voor hom.
"Jy het op my kar geslaan. Sê jy's jammer."
"Maar, meneeeer! Orraaait, ek is jammer."
Jaap haal sy perskaart uit en waai dit vir die wag.
"Veiligheid, meneer, veiligheid," en ons ry in.
• In die laat 1970's het ons 'n verwoestende haelstorm beleef. Ek kom in Doornfontein, Johannesburg, en ek en Jaap stap so saam in die hysbak.
"Kwaai hael, hê?" vra ek.
Jaap na kyk my en al wat hy sê is: "My broodbome is papgeslaan." Niks meer nie!