Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.11.12

Turnhalle-San hou koers in sonlose Londen

PHILIP DEETLEFS skryf: In die middel jare 70 was die destydse Suidwes-Afrika al goed op pad na onafhanklikheid wat toe uiteindelik eers in 1990 deur middel van Resolusie 435 van die VN gebeur het.

Ek was toe vir die Perskor-publikasies in Londen waar die destydse “terroriste” van Swapo en die ANC op vrye voete rondgeloop het en as die helde in die verhaal gesien is – deur almal behalwe Lang Hendrik se manne
van die Suid-Afrikaanse geheime spioenediens, oftewel BOSS.

Suid-Afrika-Huis daar op Trafalgarplein het ‘n kelderverdieping gehad waar ek en ambasadeur Carel de Wet se private sekretaris, (naam vergeet) dikwels oor ‘n bier ‘n potjie snoeker gespeel het en waar die manne van BOSS hulle “ondergrondse” diplomasie vanaf bedryf het.

Carel de Wet
So het ek dikwels van hulle stories gehoor ook. Dit was die dae van die koning van betogers teen SA, Peter Hain (oud-minister in die Britse parlement). Dit was ook in die dae toe Suid-Afrika die meeste na muishond geruik het.

Dit was ook in hierdie dae van die Turnhalle-beraad toe lede van die destydse nasionale vergadering van die ou Suidwes-Afrika op ‘n verkenningstog in Londen was om met regeringsmense en in ander simpatieke ore te fluister oor die pad vorentoe tot by Suidwes se onafhanklikheid.

Een van die politici in die geselskap op die toer was mnr Geelbooi Kashe, die leier van Tsumkwe se destydse Boesmans wat nou die San genoem word.

BOSS se manne het elkeen ‘n politikus gekry wie se spoor hulle moes vat om te sien met wie hulle waar gesels. Die ou wat in Geelbooi Kashe se skaduwee moes stap het dié storie vertel.

Die Suidwesters is in ‘n hotel by Leicester Square inbespreek waar hulle dan kom spreek is of opgelaai is om met mense elders te gaan praat.

Leicester Square
Daardie deel van die stad is redelik dig bebou en as dit boonop bewolk is sal enige Boesman wat vir die eerste keer die Kalaharisand van sy voete moes afskud, nie maklik weet waar die son opkom en ondergaan nie. Geelbooi Kashe was verstaanbaar rigtingloos doodsbevrees vir Londen, maar die nuuskierigheid het hom ook oorval.

Volgens sy skaduwee het mnr Kashe ‘n paar keer by die hotel se voordeur uitgestap en dan op dieselfde kant van die sypaadjie afgestap tot so ver as wat hy die hotel se ingang kan sien. Dan weer dieselfde in die teenoorgestelde rigting, maar nooit verder as wat hy die hoteldeur kon sien nie!

Die ander storie van Geelbooi Kashe kom uit die nasionale vergadering in Windhoek. Adv Sarel Bekker was destyds die leier van die HNP in Namibië en het een stoel in die Nasionale Vergadering gehad. Daardie tyd was daar reeds baie min wit mense in die Nasionale Vergadering, maar dit het nie die advokaat gekeer om baie ernstig sy pleidooi vir afsonderlike ontwikkeling gegrond op pigment-telling te lewer nie.

Die ander politici het geduldig en eintlik geamusseerd geluister na Oom Sarel se toespraak en toe hy na die lang toespraak gaan sit het, was mnr Kashe die eerste spreker om repliek te mog lewer.

Geelbooi Kashe het net gesê hy het met groot belangstelling na die agbare lid se toespraak geluister, want dit het hom laat dink aan die koedoe wat hom verbeel het hy is ‘n volstruis en sy agterend af gesukkel het om ‘n eier te lê en kon nie verstaan hoekom hy dit nie regkry nie. Al het hy hoe hard gedruk.