Dit was die tyd van Glenda Kemp met die slangetjie, Oupa. En die man-nou-meisie, Paula. En Athens by Night en artistieke vertonings wat in donker plekke gehou is. En die kat van die aand was natuurlik Ultra
Violet.
So word ek toe gestuur om foto's van symste Ultra te gaan neem, want sy was groot in die nuus. Haar kind is ontvoer. Orals is daar naarstiglik in die Hillbrow-area gesoek na die kind, en daar was die stories van ekse. Eks-man, eks-boyfriend, ens.
Sover ek kan onthou, is daar nooit 'n foto's van die kind geplaas nie. Maar Ultra het wyd en syd op die binneblaaie gepryk. Ek kan nie onthou nie, maar ek dink dit was dit kollega Buks Pietersen wat Ultra se telefoonnommer gehad het. Hy gee hy dit toe vir my, want ek moet gaan foto's neem van Ultra.
Ons was daardie jare bietjie jeukerig en skrikkerig en het draaie om sekere plekke geloop, maar net geloer...
Ultra Violet (Foto ingekleur.) |
"Gaan die foto's in die koerant kom? En gaan julle skryf my kind is missing? En gaan julle sê die mense moet uittkyk vir haar?"
Maar natuurlik. Ofkors, en sommer op die voorblad. Groot, belowe ek.
So kom ek laatmiddag by haar woonstel aan. Ek onthou nog goed dit was net so oor die bult, Pretoria se kant toe. In die omgewing waar Carénè Boshoff gebly het, net 'n bietjie meer na die toring se kant.
Sy had die swartste hare denkbaar. Lank en slierterig. Sy maak die deur oop en sy het so 'n wit oorjakkie-ding aan wat los hang. Daar was die vriend-van-die-dag ook. Om toesig te hou, want sy het my nie geken nie en was versigtig met die ontvoering en misdaad in die 'Brow.
En soos goeie Vrystater sê ek dag en probeer handskud, maar sy was so ''gestress". Sy kyk my deur en toe sê sy "Georgie Porgie, hy's OK. Wag vir ons op die balkonie".
Nadat Georgie Porgie ons alleen gelaat het, sê sy vertroulik: "Hy is eintlik 'n Porra, maar baie gaaf".
En ek haal my Canon FT uit, gelaai met Joey se Triplexfilm, 36 skote gereed vir aksie. Swart-en-wit film.
"Wat wil jy doen?"
O hel, wat ek wil doen en wat ek mag doen en wat ek kan doen is 'n ander ding.
"Gaan jy hier in die lounge skiet, of wil jy die kamer probeer?"
Ek kyk gemaak verveeld rond. Daar is sulke los stoele en dis effe donker. "Lig is bietjie swak hier, kom ons kyk die kamer..."
Die kamer had 'n wit muur en die son het van agter deur die venster geskyn. Ek was nou nie 'n Karsch van Ottawa nie, maar ek dink ek sal die ding doen.
"Kom staan hier voor die muur en dan pose jy bietjie, draai en swaai soos julle doen" en ek haal die kamera uit.
En daar is ons die middag in Hillbrow in die woonstel. Ek en die swartkop meisie. En sy draai en swaai en ek neem en dit begin werk. Sy vergeet van haar kind en Georgie Porgie op die balkon en ek ook. Die foto's kom goed.
Die wit jurkie had knope en sy maak so elke dan en wan een los, sodat dit kan fladder. En sy draai en die jakkie glip so oop soos 'n waenhuisdeur en daar staan sy en wys die hele paradys..
"O, sorry" lag sy skalks.
"Kom ons traai dit weer," probeer ek sê maar al wat uitkom is: "Ag dis orraait"