“En toe vra Waterberg (die verkrampte nes) van alle plekke my om in ‘n tussenverkiesing teen Andries Treurnicht te staan,” skryf Willem de Klerk vroeg in 1983. Hy het “nee” gesê, maar dit is allerweë vertolk as die finale oorwinning van verligtheid teen verkramptheid.
Willem de Klerk se lewe het in ruime mate gegaan oor die aftakeling van verkramptheid en die bevordering van verligtheid.
“My perservaring het ’n spesifieke staanplek in die politiek aan my uitgedeel. Dié van politieke filosoof, profeet, interpreteerder, meningsvormer, agitator, kritikus en armdraaier, wat druk uitgeoefen het,” skryf hy in sy Opruiming.
Sy jarelange veldtog was op die Afrikanerpubliek toegespits “om hulle te motiveer vir politeke verandering. Hy is ook dikwels genooi om Engelse gehore toe te spreek, “hoewel ek hier baie geïnhibeer was deur my ontoereikende beheersing van Engels.”
Hy skryf dat hy homself soms verwyt dat hy nie rekord gehou het van al sy ontmoetings met vooraanstaande leiers op alle vlakke van die samelewing nie. “Vir my nageslag sal die name nie veel beteken nie, want dié name sterf ook saam met my en word deur nuwes vervang.”
PW Botha |
John Vorster |
“Van die ouer politici van wie ek altyd steun gekry het, was Piet Koornhof en Pik Botha. En van die jonger manne wat ek polities help vorm het en wat vandag prominensie geniet, is FW (oor my en hom later), Stoffel van der Merwe, Sam de Beer en Leon Wessels.
Leon Wessels |
Stoffel van der Merwe |
Die stryd teen die verkramptes het in 1973 begin toe hy hoofredakteur van Die Transvaler geword het tot 1982 toe die verkramptes die Nasionale Party verlaat het. Verkramptes het in die kabinet en in allerlei besture gesit, Andries Treurnicht was Transvaalse NP-leier en De Klerk was hul teiken nommer een en andersom.
“Ek moes my stryd met goeie strategie voer, want die eenheid van die NP is daardie tyd hoog opgegee.
“My metode was om verligte idees eers versigtig te stel, geleidelik sterker te formuleer, behendig my verligte idees aan te haak by die amptelike beleid van die NP en die verkramptes dan te beskuldig dat hulle afwyk van die beleid en nuwe gees in die NP. As hulle terugslaan, het ek ook bly terugslaan. Sodra die atmosfeer te gelade geraak geword het, het ek die spesifieke onderwerp vir 'n rukkie laat lê en dan weer op 'n ander punt begin torring.”
Dit het hom in verkrampte kringe 'n gehate man gemaak, “want die verkramptes het soos valke op my toegesak terwyl die verligte politici geïnhibeer was om in die openbaar by my te staan, aangesien die verkramptes nog hulle kollegas was. Ek moes dikwels man-alleen die stryd voer.
“Heimlik was die verligte politici bly oor wat ek skrywe, maar swyend in die openbaar, selfs skynheilig deur in die openbaar soms koue skouer vir my te gee.
Fanie Botha |
Piet Koornhof |
Hy stel dit dat die nuwe “anti-apartheidspolitiek” nie deur politici nie, maar deur koerantkommentators, akademici en Afrikaanse sakelui voorberei is. Die uitsonderings onder die politici was Fanie Botha, Piet Koornhof en Pik Botha.
Andries Treurnicht |
FW de Klerk |
In Maart 1983 skryf hy onder die opskrif Waaragtig – Waterberg vra my as LV: “Na al die verguising wat ek in die Nasionale Party moes verduur vanaf my hoofredakteurskap in 1973, is die sirkel voltooi en is ek die held.”
In John Vorster se tyd was almal verkramp en in PW se begintyd het verkramptheid effens laer begin lê. “Toe hy deurbreek met sy hervormingspolitiek in 1981, is verligtheid die in-ding.
“Met die Konserwatiewe Party-wegbreek van Andries Treurnicht is al my vyande uit die Nasionale Party.
“By 'n groot saamtrek van Nasionaliste van Transvaal in Januarie 1983 (1 500 mense) vra hulle my om ‘n seminaar te lei oor die nuwe politiek. Ek laat waai met al my verligtheid en ek kry gedurende die seminaar drie maal staande ovasies.”
Hy word toe in 'n dankwoord gehuldig as “die groot profeet, die katalisator van die nuwe politiek, die helder denker en die koersaanduider van die NP”!
So draai die wiel.
“En toe vra Waterberg (die verkrampte nes) my om in 'n tussenverkiesing teen Andries Treurnicht te staan.
“Ek sê nee, want ek wil nie Parlement toe gaan nie.”
Willem de Klerk sou nie sy sit in 'n koukus-gedrewe Parlement kon kry nie. Hy het reeds vroeër geweier om tot die politiek toe te tree, omdat hy gesê het hy sal nie daar aard nie. Hy sal nie in die Parlement kon stem vir 'n koukusbesluit oor wetgewing waarmee hy nie kans sien om saam te leef nie.
Die verligte oorwinning het nie ongemerk verbygegaan nie. So skryf The Star op 4 Februarie 1983: “The election battle has already proved one important thing: how decisively ‘verligtheid’ has won the day in the NP.
“Watrerberg under the leadership of Dr. Treurnicht became known over the years as one of the most ‘verkrampte’ constituencies in the country.
“When the present by-election came about, the divisional council of the NP in Waterberg has as their first choice for candidate probably the most prominent symbol of ‘verligtheid’ over the years, Dr. Willem de Klerk.
“As if to underline the point, Waterberg approached Dr. De Klerk on the strength of his performance in January this year at a seminar for Transvaal officials of the party. At this occasion he spelled out the options for South Africa as he sees them, along a very strong ‘verligte’ line.
“It should be cautioned that this does not mean that the attitude of the divisional council is representative of the voters in Waterberg. The divisional council also had some other strong motivations for regarding Dr. De Klerk as the best candidate. He however felt that at this stage he could not accept the nomination.”
Oor 'n besoek aan die RGN-forum op 21 Maart 1984 skryf hy: “Ja, ek weet... dis skaamtelose spog, maar dan is dit darem net vir 'n paar oë bedoel. As iemand my erken en eer vir iets wat ek voel ek verdien, dan gee dit 'n groot vreugde en 'n dankbare nederigheid.”
Hy het ‘n lesing aan sowat 150 RGN-navorsers gelewer waarin hy sy boek, Die Afrikaner (R)evolusie, opgesom het.
Dr. J Garbers, president van die RGN, het gesê: “WJ de Klerk is 'n droom vir elkeen van ons wat hier sit. Hy is breed gevorm in die geesteswetenskaplike dissiplines en hy slaag daarin om die dinge wat hy weet en dink en waarneem te formuleer op só 'n wyse dat hy openbare invloed uitoefen.
“Sy invloed van denke is meetbaar, want hy is 'n hoofargitek van die (R)evolusie onder die Afrikaners waarvan hy ons vertel het.”
Dr J.C. van der Walt, het daarop gewys dat die volgende begrippe deur De Klerk geskep is:
- Verkramp/verlig
- Gemeenskaplikheid as politieke dinamika
- Saambestaan in onderskeiding met naasbestaan
- Assosiasie-politiek as naam vir die nuwe rigting teenoor integrasie-politiek en apartheidspolitiek.
De Klerk sê hieroor. “Dis goeie woorde en ek baai my daarin.”
En later: “Ek werk nie vir prys nie en ek word baie verguis. Maar prys is ook lekker.”
'n Vraag wat baie mense hulself seker al afgevra het, word so deur hom verwoord:
“Waarom – gesien my binnekringrol – het ek nooit tot die aktiewe politiek toegetree en parlementslid geword nie, met die waarskynlike promosie na die kabinet en ander posisies?
“Ek het geleentheid gehad. By vier geleenthede – terwyl ek by die pers was – is ek gevra om parlementskandidaat te word. Ek is uitgenooi, deur PW Botha, om toe te tree tot die Presidentsraad. Vroeër in my loopbaan het Piet Koornhof my 'n aanbod gemaak vir 'n nuwe pos van direkteur-generaal van Soweto. Die DP-hoofbestuur het my by hul stigting gevra om leier van die DP te word. Pik het my in 1990 'n ambassadeurspos in Switserland aangebied.”
Fred du Plessis, Sanlam-baas, het hom die pos van hoofskakelbestuurder aangebied, met fokus op politieke skakeling en konsultasie. Hy het De Klerk ook die pos as Direkteur van die SA Stigting aangebied. Dan was daar ook Direkteur-generaal van die SAUK in die bondel.
Waarom in die pers bly sit?
“Die eenvoudige antwoord is dat ek dit geniet het. Ek het gevoel dis werk wat my soos 'n handskoen pas. En ek vervul daar 'n spesifieke en belangrike en 'n invloedryke rol.
“Die aktiewe politiek het my nie gepas nie: dit is smorend vir individualisme, want jy moet groepsmens en nie eenling wees nie; dit dwing konformasie af, want jy moet staan of val by die amptelike beleid en dit propageer – ek was te krities teen die amptelike beleid om my in die aktiewe politiek te waag – dit sou ook oneerlik wees; dit is kliekagtig met al die gatkruipery, ambisies, rugstekery, agterdog en jaloesie wat die politieke kring kenmerk; dit is te veel soos openbare skakelwerk wat voortdurend glimlaggende verkoopstegnieke van jou laat afdrup; jy het in die politiek te veel base, byvoorbeeld jou hele kiesafdeling waar jy jou in die bogte moet buig om die guns te hou en van deur tot deur moet gaan stemme werf – jy verloor jou vryheid, parlementsittings sou my waansinnig maak met al die gesittery, skyn-stemmery en oneindige gepratery – van toeka af kon ek geen kongres of sinode vat nie, wat nog te sê vir maande in die parlement sit; om politikus te wees, is om privaatheid in te boet; en die bly op twee plekke – Kaapstad en Transvaal – sou vir my te ontwrigtend wees.
“Daar is seker nog ander redes ook, soos dat my pa en FW se stories oor politikus te wees, my 'n gly daarin laat vang het.”
Hy maak stories af dat hy dit nooit in die politiek sou maak nie, dat hy jaloers op FW was of die slagoffer van verwerping was of dat hy ‘n verloorder was met sy geskiedenis by DT en Rapport. “Ek het dit nooit só belewe nie. Miskien is dit maar selfbeskerming dat ek nie toelaat dat ek dit só belewe nie.
“Ek belewe dat ek groot beroepsuksesse gehad het in al my beroepe en wesenlike bydraes gelewer het, beroepsbevrediging gesmaak het, presteer het en baklei het vir dinge wat nodig was.
“Ek is wel verneuk deur Jooste, Ton Vosloo en PW Botha en ek is bitter daaroor. Maar ek ly nie aan 'n slagofferkompleks nie.”
(Word vervolg: Lewe ná Die Transvaler)