Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.11.12

Humor soos die lykhuismanne dit bedryf

FRIK VAN DER WALT skryf: Gert Coetzee het in sy huldeblyk aan sy pa nie oordryf toe hy hom as 'n heer beskryf het nie. My en oom Jannie se paaie het aan die Wes-Rand gekruis terwyl ek 'n kwotajoernalis by 'n Engelse weekblad was. Ons blaadjie het Woensdae verskyn.

Elke nuusgebeurtenis waaraan ek gewerk het, was gewoonlik geskiedenis nadat oom Jannie dit vir Die Vaderland verslaan en Doug Jones die storie
agter die storie vir Dagbreek afgehandel het. My trefferberigte is gewoonlik tot 'n foto met 'n lang byskrif verskraal om darem te wys ons koerantjie was daar.

'n Sirkus was nie groot nuus vir dagblaaie en Sondagkoerante nie. Oom Jannie of Dougie sou dalk 'n foto en 'n kort beriggie oor 'n uitsonderlike ster plaas. Veral as die persoon 'n Suid-Afrikaanse agtergrond of verbintenis het. Ons weekblad het dit volledig gedek. So volledig dat my Engelse redakteur my as 'n “chappie with potential” bestempel het.

Jannie Coetzee
Hermie Hendriks
Doug Jones
Oom Jannie het die berigte gelees en wou op 'n kol weet of ek nie daarin belang stel om my horison te verbreed nie. 'n Oproep na Hermie Hendriks het tot 'n onderhoud gelei en ek beland by Perskor vir opleiding in die subkantoor waar ek vullers vertaal. Effens benede my waardigheid as die skrywer van voorbladberigte vir 'n weekblad, maar ek pleeg voort.

Een van die subs versamel my pennevrugte en Piet Ayres wink my nader. Hy pak my bloedrooi gekrapte skryfsels soos 'n pak kaarte voor my neer en sprak g'n sprook. Piet stap na die telekskamer se venster en beduie na 'n sierskrif-plakkaat. Ek wikkel verleë nader en bekyk dit. DINK VOOR JY DIT OPNEUK.

Harry Lombard
Piet Ayres
Willem Knoetze
Piet stap terug en herinner my daaraan dat die HAT en taalreëls gebruik behoort te word.

Ná 'n week beland ek by die algemene redaksie en doen algemene beriggies en leer baie vinnig om byvoeglike naamwoorde te vermy. Harry Lombard het saam met Willem Knoetze misdaadberigte geskryf, maar hy wou sportkantoor toe gaan. Kort voor lank verskuif hy en ek duik onder Willem se vlerk in.

Ons woon die daaglikse misdaadkonferensies by en volg ambulansmanne se inligting op. Slagoffers in die suidelike voorstede en hulle familie en vriende vertel met smaak wat gebeur het en almal wurm voor die kamera in om in die koerant te verskyn. In die noordelike voorstede word deure ferm in jou gesig toegemaak en maak jy op die polisie se inligting staat.

Kla ek op 'n keer by 'n polisieman oor die noordelikes se onbehulpsaamheid. Hy stel voor dat ek die lykhuispolisie na noodlottige voorvalle moet nader, omdat hulle in elk geval weet wat gebeur het en met slagoffers se adresse kan help. En namate deure in die noorde toeklap, voltooi die lykhuismanne die prentjie.

Nadat 'n navraag na 'n noodlottige rooftog op 'n keer in die noorde byna in 'n aanranding geëindig het, verneem ek die eggenoot word verdink. Ek loop die ondersoekbeampte by die lykhuis raak wat aanvaar ek werk daar. Ek swyg en luister. Die polisie het verdoemende getuienis en is seker dat hy in hegtenis geneem sal word.

Die speurder is weg en een van die lykhuismanne bied aan om my die moordwapen en slagoffer te wys. Ons is onder toe waar verskeie ongeluk- en moordslagoffers se stoflike oorskot op tafels lê. Op pad uit vra die polisieman my om 'n waaier neffens 'n oorledene aan te sit en ek buk af by die slagoffer se kop om die skakelaar aan te sit.

Die volgende oomblik sit die “oorledene” regop.

"Sit af man dis koud!" roep hy uit.

Een van die polisiemanne het my gevang voor ek die glasdeur stukkend kon hardloop en verduidelik hulle maak dié grappie met al hul nuwe vriende.