Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.11.12

Bloedrivier-vinger toe Neil se Waterloo

MAARTEN ROOS, eertydse Transvaler-subredakteur en deesade hoof-hersiener by Sake24, skryf: Na aanleiding van die verskillende vertellinge oor Neil Steyn, wat die heimweë maar dik laat loop, is hier een van ‘n 'n bogsnuiter wat Neil wel laat weghardloop het.

In Januarie1988, nadat Blaar Grobbelaar ons ontval het, het ek in Transvaler in Pretoria se nagkantoor gewerk. Johan de Beer was ons
hoofsub.

Neil was in daardie stadium nie baie beïndruk met ons subs nie en het gereeld die verbale sweep kom inlê (meestal as Johan nie daar was nie).

Die subs het toentertyd hulle emstokke op sulke aluminiumstroke, wat rondom die subkantoor geloop het, gebêre.

Synde 'n kort mannetjie, was die bêre nie vir my 'n probleem nie (ek kon in die lug opspring en die emstok net so agter die randjie laat val).

Die afhaal die volgende dag was ietwat moeiliker. As Sandy MacDonald, Johan Lottering of  Lappies Labuschagne nie daar was nie, moes ek 'n sprong gee, vinnig die emstok gryp én nog op my voete land.

Neil Steyn
Ewenwel, dié betrokke dag was Neil nie in 'n goeie bui nie (hy was toe sportredakteur en adjunk-redakteur) en het die subs gestaan en uittrap toe ek die kantoor instap. Ek het die laat skof gewerk en midde-in sy tirade daar ingestap.

Met dié dat hy so briesend was, mik ek nie so mooi nie, mis die emstok en my trouring haak aan die rand van die aluminiumstrook vas (ek is pas die Desember 1987 getroud).

Daar hang ek toe net aan my trouring aan die rand van die strook met my voete wat so halwe voet bokant die grond skop.

Toe ek myself uiteindelik daar afhaak, het die ring my tot op die been gesny en my vinger was omtrent 'n Bloedrivier.

Ek redeneer toe dat Neil die enigste man was wat my sal kan help synde hy so 'n groot, bang-vir-niks-man is en stap toe met die bebloede vinger op hom af en vra vir hulp.

Tot my stomme verbasing word Neil toe effe bleek om die kiewe en begin te retireer. Hoe vinniger hy retireer hoe vinniger stap ek op hom af.

Ná so tien treë, vlieg hy om, storm in sy kantoor in en klap die deur toe.

En daar stel ek toe een van Neil se geheime vas - hy was doodbang vir bloed!

Mario-hulle in die rolpers-afdeling het die ring losgeknip, vinger verbind en ek het gaan werk.

Ek kyk vandag nog na die litteken en glimlag as ek dink aan die dag toe 'n snuiter Neil wél baie vinnig laat wegbeweeg het.

PS: Volgens Absa het ek nooit by Perskor gewerk nie. Ondanks die feit dat die kwaai dame wat met ons pensioen in Doornfontein gewerk het, (me. Victor?), my drie maande nadat ek al by die SAUK ingeval het, gebel het en gesê het ek moes my pensioentjek kom haal. My antisipasie vir dié "groot geld" het vinnig in verbystering verander toe ek sien die tjek is vir 'n volle R128,00. Ek het dit toe vir haar op haar tafel neergesit en gesê Perskor kan dit regtig maar hou. Ek dag sy kry 'n hartaanval – glo weens al die bykomende administrasie wat ek haar besorg het omdat ek nie die tjek wou vat nie.

So twee jaar gelede het sy my egter postuum teruggekry. Ek het by Henning Germishuizen van Absa navraag gedoen oor die onlangse pensioenuitbetaling. Hy het my ewe koel en kalm meegedeel dat ek nooit vir Perskor gewerk het nie.

My protestasie dat ek nog my perskaart het en 40 kollegas as getuies kan bring dat ek wel daar gewerk het, het hom glad nie beïndruk nie.

Ek aanvaar dat ek seker weer R128 verloor het...