Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

9.10.19

Bloeddorstig in Brixton

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In heelwat K'rantstories word daar na die Brixton‐polisiestasie*1) ‐‐ alombekend as die Brixtonse moord‐ en roofafdeling ‐‐ verwys, asook na die Brixton‐blitspatrollie en die voorstad self. Sommige kollegas het in Brixton of omgewing gewoon, soos dinamiese en geliefde Kittie Vermaak, wat 'n huis in Putneyweg gehad het. Boonop was Perskor in 'n stadium skaars 'n klipgooi van hierdie gewilde woonbuurt af geleë en baie van ons het seker ook jare lank ons inkopies by die destydse OK Basaar ‐‐ ai,waar is daardie dae? ‐‐ in Highstraat gedoen.

Dus moeilik om te glo dat hierdie einste voorstad eens deel van een van die bloedigste gebeurtenisse in Suid‐Afrika se geskiedenis was. So gewelddadig was dit dat ons land op die randjie van 'n burgeroorlog gestaan het.

11.8.19

Rower skiet John se pinkie af

Hennie van Zyl, haastige Springbokvleuel van die sestigerjare, vertel in Rapport van 11 Augustus 2019 die volgende oor John du Toit:

John du Toit (links) en Hennie van Zyl


7.8.19

Oom Hermie uit Intensiewe Sorgeenheid

MARGARET LOMBARD het laat weet: Ek het pas met oom Hermie se dogter Hermien gepraat (selnr 079 724 6981). Oom Hermie is nie meer in die ISE nie; hy is na die hoësorgeenheid by die Flora-kliniek oorgeplaas. Ek sal groete en beterskapwense aan hom oordra.

31.7.19

Oom Hermie in hospitaal

LOUISE BLAKE skryf: Hermie Hendriks se dogter Hermien het laat weet: “Pa het Woensdag flou geval. Hy is in die Flora-kliniek. Die een hartklep wil nie oopgaan nie."
Hermie Hendriks 
verlede jaar toe 
hy 93 was.

10.7.19

John du Toit oorlede op 94

John du Toit in
sy koerantdae.
JOHN DU TOIT, voormalige sportredakteur van Die Transvaler, is Maandagaand (8 Julie 2019) in die ouderdom van 94 jaar oorlede, het Gerhard Burger laat weet. Hy het longonsteking gehad.

John se begrafnis is Vrydagoggend (12 Julie 2019) om 11:00 by die Misty River-oord in Eikenhof.  Dis sowat 20km suid van Johannesburg.

'n Artikel oor John, geskryf deur Herman le Roux, gewese sport- redakteur van Die Volksblad en Beeld het ses jaar gelede in K'rant verskyn. Daarin skryf hy dat dié voormalige Transvaalse en Noord-Transvaalse agtsteman ’n minsame kêrel met ’n sagte hart was. Lees dit HIER.

21.6.19

Twee kollegas groet

PIET EBERSÖHN het laat weet dat Johan Kloppers wat in die jare sewentig by Die Transvaler gewerk het, onlangs oorlede is. Hy was 72 jaar oud. Sy gedenkdiens is op 30 Mei gehou.
Jan Botha

Dan het Jan Botha, destyds die fabrieksbestuurder in Pretoria-Wes, einde April vanjaar aan kanker gesterf. Hy was 80 jaar oud.

Jan was ‘n legende in amateurboks en het verskeie SA kampioene by die Phoenix-boksklub afgerig. Sy seun Francois was die IBF en die WBF swaargewigkampioen.

6.5.19

Hillbrow aan ons voete – dekades gelede!

KARIN PRETORIUS skryf: My kollegas Maureen Swart -- met haar puik navorsing oor Hillbrow -- en Gert Van Rooyen se herinneringe aan "die plek van die duiwel", het my met nostalgie vervul en my geheue het teruggebons vanaf Kaapstad oor die Karoovlaktes, tot binne my piepklein woonstelletjie in Smitstraat 32 in Hillbrow.

Dit was my blyplek toe ek in Januarie 1970 by Die Transvaler aangesluit het, met ‘n fris opdraande stappie na die koerant in Braamfontein, huurgeld van R29 en salaris R180 per maand!

1.3.19

'n Nagmerrie-vlug

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: In sy storie, Pretoria se Viole Galm in Kimberley, verwys Piet Ebersöhn na die SAL.

Frans du Toit
Dit het my laat dink aan die dag toe ek en 'n fotograaf na die Lughawe Jan Smuts (soos dit nog in die vroeë sewentigs bekend gestaan het) moes uitpiekel vir 'n foto van 'n groep nuwe SAL-waardinne, wat dié dag hul vlerkies sou ontvang.

Frans du Toit het die foto één fronsende kyk gegee en gesê: "Hulle sal van vlieg 'n nagmerrie maak."

18.2.19

Joviale Phil, die ‘ou’ wat in "HD" kon skryf

 JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Die oorlye van Phil Zaayman het ‘n paar gawe herinneringe laat opdoem van hierdie goed-gepekelde sportskrywer wat nou nie meer met ons is nie.

Die man wie se ‘byline’ boaan sportberigte so deel was van rugby, boks en ander sportsoorte, soos die spelers sélf.

Min skryfvaardiges kon ‘n Springbok-sege of Curriebekereindstryd so passievol en kleurvol met woorde skilder soos Phil Zaayman. Sy superhelder manier om met woorde te skilder was ‘n soort vroeë voorloper van die ‘HD’-televisie.

16.2.19

Voorbladnuus: geen krag vir 35 minute

Voorblad van Die Transvaler, Oktober 1947.
Bron: HIER.

12.2.19

Sportredakteur Phil Zaayman oorlede

PHIL ZAAYMAN, ʼn voormalige sportredakteur van Rapport, is Maandagoggend vroeg op Hermanus oorlede. Hy was 78 jaar oud.

As rugby- en boksskrywer was Phil een van die bekendste sportjoernaliste in Suid-Afrika. Hy was die afgelope maande siek en is in ʼn sorgeenheid naby hul huis oorlede. Hy laat sy vrou, Louise, en twee kinders, Phil Jr en Liezel, na. Die foto’s hieronder van Phil het ons op Facebook raakgeloop wat Wessel Oosthuizen geplaas het. Hy het menige keer Phil op sportbyeenkomste as fotograaf vergesel.

Fotograaf Dougie Lee oorlede

DOUGIE LEE, die bekende fotograaf wat destyds onder meer by The Citizen en  Rapport gewerk het, is Sondag in Bela-Bela (Warmbad) oorlede. Hy het saam met sy vrou, Rona, daar gewoon. Ons het nog geen nadere besonderhede nie.

11.2.19

Verrassing die bloedbroer van skok

MAUREEN (Heyl) SWART skryf: 'n K'rantstorie wat my baie lekker laat lag het, was "Philip voorspel die sterre". As hy steeds Die Sterre Voorspel geskryf het en as dié "Sterre" dálk nou die dag vir my 'n gróót verrassing "voorspel" het en ek dálk een van die diereriem‐bygelowiges was, sou ek dadelik katvoet beweeg het. Want sowaar as vet, 'n verrassing is partykeer niks anders as die bloedbroer van skok nie. Maar in dié geval? Wel, laat ek maar sê dat ek nou met 'n meer optimistiese oog na verrassings kyk.

Want nog skaars het ek Piet Ebersöhn se gesprek met Hermie Hendriks (1/3) weer gelees ‐‐ waarin Hermie onder meer oor Piet Meiring gesels ‐‐ of een van die laasgenoemde se boeke het asof met die klap van 'n vinger in my hande beland! Dit het só gebeur:

6.2.19

Reünie, 24 Maart 2019

LOUISE BLAKE skryf: Dis weer tyd vir ons jaarlikse saamtrek van oudwerknemers van Perskor en sy voorgangers (dis nou APB, Dagbreekpers, Voortrekkerpers, Republikeinse Pers, ens). Dit word deur Dagbreektrust geborg.

Die komitee, onder leiding van voorsitter Harald Pakendorf en bygestaan deur sy gade Aletta, Margaret Lombard en Louise Blake, het besluit om die funksie weer by dieselfde restourant as die afgelope paar jaar te hou. Die restourant het van naam verander. Dit was die Keg & Eagle en is nou die Irish Rock.

2.2.19

Christo Lemmer was ‘n Suidwester

SANTIE LEMMER het ons 'n bietjie van Christo se agtergrond vertel. Christo was 65 jaar oud toe hy verlede Saterdag oorlede is. Hy is gebore in Grootfontein, Namibië en het in 1970 aan Hoërskool Otjiwarongo gematrikuleer.

In Windhoek het hy by Die Suidwester, Die Suidwes-Afrikaner en die Windhoek Advertiser gewerk.

Hy het in Mei 1976 by Die Transvaler ingeval tot Februare 1983 toe die koerant toegemaak het. Christo het van Maart 1983 by Die Vaderland tot sy sluiting in Maart 1993 gewerk.

Ná dit was hy vir ‘n paar jaar by MultiChoice en daarna by Beeld van Januarie 1998 tot September 2003. Christo het in Februarie 2010 by The Citizen afgetree.

Hy het net een suster van sy familie wat nog leef. Christo word oorleef deur sy vrou Santie, een seun, een dogter en een kleinseun. ‘n Kleindogter is op pad.

31.1.19

Christo Lemmer na lang siekbed oorlede

CHRISTO LEMMER, bekende sportskrywer by Die Transvaler asook Die Vaderland is Saterdagoggend na ‘n lang siekbed oorlede, het Gerhard Burger laat weet.

Hy het in November verlede jaar ‘n hartaanval gehad en is Saterdag dood aan ‘n longinfeksie.

Sy vrou Santie het laat weet dat ‘n diens Vrydag om 10:00 in die NG Kerk Krugersdorp-Oos gehou sal word. Santie kan per SMS bereik word by 082 211 5250.

11.12.18

Om 'n komkommer te skil

REDAKTEUR PHILIP DEETLEFS skryf:  Dis reeds weer daardie tyd van die jaar wat die komkommers volop is en die nuus skraps.

By K’rant is dit na al die jare se ywerige bydraes nou eintlik heeltyds komkommertyd. Die stories wat ons kon onthou is geskryf en die wat nog nie geskryf is nie, kan ons nie meer onthou nie?

K’rant se redaksie sal vroeg in die nuwe jaar weer gereed staan om enige storie wat by ons aanland die nodige aandag te gee. Voor dan kan ons lesers steeds stories instuur en wie weet, dalk beland die storie op die voorblad voor 2019 sy kop uitsteek!

Ons wens al ons lesers ‘n vreugdevolle Kerstyd toe en hoop almal kom veilig by hul vakansiebestemmings aan en weer tuis. Voorspoed en goeie gesondheid vir 2019 wens ons almal toe.

21.11.18

Annette Stork oorlede

Annette Stork
Gert Basson het laat weet dat die kunstenares Annette Stork -- sy was hoof van Voortrekker-uitgewers en Perskor-uitgewers se kunsafdelings -- op 17 November 2018 ná ‘n beroerte oorlede is.

Annette het verskeie suksesvolle uitstallings as kunstenaar gehad. Talle van haar omslagontwerpe het op vele gewilde skrywers se boeke gepryk.

Nadere besonderhede kan verkry word by haar seun Ira Greiff: iragreiff@gmail.com.


14.11.18

Boertjies staan tou

JOHAN ESTERHUIZEN (Essie) voorheen van Hoofstad, Die Transvaler, The Citizen, Beeld en Rapport skryf: In 1982 het ek vir Die Transvaler die eerste keer verslag oor die Wimbledonse tennistoernooi gaan doen.

Dit was my en my goeie vriend, Tobie Mostert van Die Vaderland, se eerste besoek aan Londen.

Ons het erens in 'n klein hotelletjie -- die Tivoli -- gebly, maar ek kan nie onthou waar dit was nie.

7.11.18

Neem die slange se tande af!

WELMA ODENDAAL, wat ‘n jaar lank by Hoofstad gewerk het en toe later by The Star, Cape Times en Die Suid-Afrikaan joernalis was, skryf: Onlangs is ek doenig op die internet en kom ek af op K’rant, die webwerf vir werknemers uit die ou Perskorstal.

Perskor-Uitgewery het my eerste boek ‘Getuie vir die naaktes’ in 1974 uitgegee, en op grond daarvan het die redakteur van Hoofstad (dit was Sam Lake, dink ek) my die geleentheid gegee om as leerlingjoernalis by die koerant in Pretoria te begin. Dit was kortstondig, en ek is skaars ‘n jaar later vort SAUK Radionuus toe (ook kortstondig, maar ‘n ander storie).