Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

5.3.20

Happie plaas, happie stad

KARIN PRETORIUS skryf: Ek blaai deur ‘n ou foto-album vol stof opsoek na familiefoto’s. Is dit nie snaaks om nog foto-albums te besit nie? Met foto’s wat in goue of swart driehoekies vasgeplak is? Maar hoe gooi mens dit sommer weg met soveel herinneringe?

My oog val op ‘n artikel wat ek op 30 Desember 1975 op versoek van nou wyle Kitty Vermaak, vroueredaktrise van Die Vaderland, geskryf het: Happie plaas, happie stad … dit smaak beter saam.
My gedagtes gaan so ver terug as 1970 na my dae by Die Transvaler se vroueblad en ek by elke vroue-geleentheid vir onse Kitty raakgeloop het, ook besig om haar notas in orde te kry as redaktrise van haar blad.

Kittie Vermaak
Dis reeds in 2012 dat Kitty oorlede is en ek is jammer ek kon nie van haar afskeid neem in die noorde nie. Tog is sy is een van die soort mense wat ná al die jare in jou geheue ingebrand bly omdat sy so ‘n besonderse mens was.

Alles van Kitty was sag. Haar sagte blou oë, haar sagte krulhare, haar sagte
glimlag, haar sagte stem. Ek het haar nooit hard hoor praat of uitbundig hoor lag nie. Haar sagte stap, ek het haar ook nooit haastig sien loop nie.

Haar hele aanslag was sag en sy het jou en jou gemoed sag aangeraak.

Toe ek weg is by die koerant, het ek steeds kontak met Kitty gehad. As skakelbeampte vir verskeie filmmaatskappye, het ek gereeld kunsredakteur Johan Liebenberg van Die Vaderland besoek wat altyd bereid was om publisiteit aan ons nuwe films te verleen.

Kitty se kantoor was so in die verbyloop op pad na Johan en dan het ek altyd ingeloer en eers ‘n geselsie met haar aangekoop. Sy was altyd belangstellend in al mens se doen en late en toe sy my dus vra of ek nie ‘n artikel wil skryf om die plaas- en die stadslewe te vergelyk nie, het ek baie geeërd gevoel en dit met die grootste liefde vir haar blad geskryf.

Daardie jare het ons in die stad gewoon en naweke uitgewyk na Brakfontein naby Swartruggens en Kitty het seker gevoel ek sou ‘n goeie vergelyking kon tref.

Ná al die jare dra ek dus hierdie vergeelde stukkie koerantuitknipsel op aan dierbare Kitty Vermaak en dank ek haar vir die goeie herinneringe wat dit meegebring het.