Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.7.20

Die redaksie sien dubbel

KARIN
PRETORIUS skryf: In Maart 1971 skryf redakteur dr Carl Nöffke, alias Sarel Sekondant, in sy rubriek Op ‘n Punt van (Wan)orde op die hoofblad van Die Transvaler, van twee van sy vroulike redaksielede wat albei in die huwelik met regspersone gaan tree.

Dr Nöffke verwys eerstens na die ‘blonde blou-oog hooggeregshof verslaggeefster, die vyfvoet-en-‘n-kwart-duim’ Marita Coetzee wat met asistent-landdros Karel Landsberg van Koster gaan trou. Hy skryf dat hulle mekaar ‘n paar jaar vantevore op die Puk ontmoet het en dat Marita in Julie mev Landsberg word.

Dr Carl Nöffke, alias Sarel Sekondant, se rubriek OP 'N PUNT VAN WAN-(ORDE)
Dan skryf dr Nöffke ook oor die koerant se algemene verslaggeefster Marietjie Kemp wat verloof is aan adv Neels Claassen en wat in April van daardie jaar die knoop gaan deurhaak (foto onder).

Marita en Marietjie wat weer ‘n groen-oog blonde skoonheid was, het werklik kleur verleen aan die vaal ou redaksiemeubels van daardie tyd – tafels met net groot tikmasjiene wat heeldag gekletter het.

En eendag het ons as kollegas gedink ons sien dubbel – en dit was voor middagete. Want terwyl Marietjie hier in die algemene kantoor haar storie sit en tik, stap nog ‘n Marietjie wat net soos ons Marietjie lyk, daar by die deur in maar met ‘n blonde haarstyl wat effens verskil. Dit kan mos nie wees nie, het ons gedink, want hier sit sy dan langs ons en tik.

Wat ons nie geweet het nie is dat Marietjie ‘n identiese tweelingsussie Gerda (foto hgonder) het wat onderwyseres op Brits was. Wat ‘n aangename verrassing en dit het almal heeltemal onkant gevang! En daar het ons toe op daardie oomblik sommer dubbel-mooigeit om ons redaksiekantoor te verfraai!

Nou, vyftig jaar later, weet mens nie wat van mev Marita Landsberg geword het nie. Dalk het sy en haar man hulle op Koster gevestig tussen die pragtige en kleurvolle kosmosblomme wat altyd in die somermaande die paaie in daardie wêreld omsoom en betower.

Mev Marietjie Claassen egter, woon sommer binne bereik in Johannesburg en ná vyftig jaar is sy steeds gelukkig getroud met nóu regter Claassen – ‘n amp wat Neels sedert 1995 in die hooggeregshof in Johannesburg tot 2014 beklee het.

Marietjie het ná haar koerantdae en huwelik haar in ‘n heel ander rigting begewe. Sy en Neels het vir 17 jaar ‘n baie ruim gastehuis bedryf waarheen hulle Christene vanoor die wêreld genooi het om seminare en praatjies te kom aanbied.

Geïnspireer deur die aktiwiteite het Marietjie heelwat kassette oor Christelike lektuur die lig laat sien en het sy ‘n boek met die titel Vergesel Jou Kind Na Jesus geskryf wat in 1983 gepubliseer is.

Tussendeur het Marietjie drie kinders groot gemaak, die tweeling – wat anders – Corneels en Gerhard en haar dogter Elize Marie wat al drie, soos hul pa, hulle in die regte bekwaam het.

Terwyl Neels ses jaar gelede as regter uitgetree het en deesdae baie aktief is as bemiddelaar by litigasie van mediese wanpraktyke en nalatighede, het Marietjie ook ‘n splinternuwe stokperdjie wat haar besig hou. Sy het ná kunsklasse die verfkwas opgeneem en is ‘n kranige kunstenaar met olieverf op die doek.

Gerda sê Marietjie se kuns laat haar aan die impressioniste van weleer dink!