KARIN PRETORIUS skryf: Peet Smit, hoofsub by Die Transvaler in die sewentiger jare, was ‘n stil, teruggetrokke en vir ‘n eerstejaartjie by die koerant, nogal ‘n geheimsinnige man.
Hy’t soggens geruisloos die lang gang van die koerantgebou in Jorissenstraat in Braamfontein van die voordeur afgestap na sy kantoor, aan die linkerkant in die hoek. Omdat sy venster op ‘n binnehof uitgekyk het, kon jy hom altyd van die nagkantoor se venster af sien sit by sy lessenaar – geboë oor die koerant.
Hy’t selde met iemand van die redaksie gepraat en selde van sy lessenaar af wegbeweeg. Net soms het hy skielik in die algemene kantoor se deur kom staan, so met sy hand gewuif vir van die redaksielede wat daar besig was agter hul tikmasjiene en dan het hy net so gestaan en kyk vir ‘n wyle, met ‘n effense skalkse glimlag op sy gesig. 'n Mens weet nie wat hy gedink het nie, dalk: julle arme drommels, julle dink julle kan skryf, né? Of dalk: julle is so ‘n oulike spul, daar lê nog groot roem vir julle in die koerantwêreld voor.
En dan was hy weer terug in sy kantoor, stil, rustig en in homself gekeer.
Na ‘n jaar het ek die koerant in 1971 verlaat en het ek Peet nie weer gesien nie.
Tot 11 jaar later in 1982. Die Hoërskool Brits het sy eerste reünie na matriek gehou en ons was almal baie opgewonde om ons ou skoolmaats weer te sien in die skoolsaal waar ons byeengekom het.
Skielik het Peet Smit voor my gestaan met ‘n groot glimlag op sy gesig. Ek kon my oë glo nie en wil nog vra: wat maak jy hier?, toe spring my matriekmaat Petro Loots van agter sy rug uit. Hulle twee het mekaar in Pretoria by die losieshuis waar hulle gebly het, ontmoet en is in 1976 getroud. Petro sê sy weet nie hóe hulle mekaar gevind het nie, want Peet se neus was altoos in die koerant, ook aan etenstafel en hy’t nooit met iemand gepraat nie.
Die Transvalergebou in Braamfontein. |
Peet was ‘n deurwinterde en gesoute koerantman wat ná Die Transvaler ook subwerk by Die Vaderland en Hoofstad gedoen het, voordat hy in 1979 by Vista op Welkom as subredakteur en later as redakteur aangestel is.
Peet se gesondheid was egter nie na wense nie. Hy het erg trombose in sy een been ondervind. Operasie na operasie het gevolg. Uiteindelik moes ‘n beenamputasie gedoen word, waarná hy homself in ‘n rolstoel bevind het. Hy is in Julie 1995 aan ‘n hartaanval oorlede. Petro het haar by ‘n aftreeoord in Vanderbijlpark gevestig waar sy nog woon.
Peet Smit en sy gesin jare gelede. |
joernalis by Rapport. Sy het ook al draaie gegooi by die Rustenburg Herald en die Tygerburger in Goodwood in die Wes-Kaap waar sy verskeie pryse vir haar skryfwerk ontvang het. Haar jonger suster Maretha (38) is ‘n advertensiebestuurder by ‘n koerant in Vanderbijlpark en die jongste Nelmarie (37) is ‘n bestuurder in motorfinansiering.
Volgens Jana was haar pa so ‘n pligsgetroue mens. Hy was bykans getroud met die koerant. Om díe rede het hulle selde met vakansie gegaan. Wat sy egter die beste van haar pa onthou is sy goeie sin vir humor en die manier wat hy met homself die spot gedryf het. Dit is die wonderlike eienskappe van haar pa wat haar altyd sal bybly, sê Jana.