KARIN PRETORIUS skryf: Met komkommertyd pas agter die rug in die joernalistieke wêreld, onthou jy dít as die gonswoord toe jy in 1970 as groentjie by Die Transvaler in Braamfontein aangesluit het. Moenie kla oor harde werk deur die jaar nie, het die ou hande gewaarsku, want Desember en Januarie is komkommertyd en dan skep almal asem. Baie min werk, het hulle opgemerk. En só was dit dan ook.
Nuusredakteur Hennie Kotzé sou in Desember/Januarie met sy groot swart dagboek om 10:00 by die algemene kantoor opdaag vir die redaksionele vergadering en met ‘n verleë laggie vra: enige voorstelle vir ‘n storie vandag? En dan sou ons grootoog na mekaar staar en wonder: wat nou?
‘n Storie wat alkant toe gerek en getrek is en wat vir twee weke uit elke hoek bekyk is, was die broodprys wat skielik gestyg het. Wat ‘n fiasko! Die broodprys wat skielik die storie van die week was. Kan 'n mens dit glo? Arme Marietjie Kemp moes die storie volg en toe sy na twee weke weer eens verdere oproepe moes doen, het sy – ‘n stil en ingetoë groentjie – haar skielik gewip en vererg aan mnr Kotzé gesê: "Meneer, 'n mens kan van brood alleen nie leef nie".
Hennie Kotze |
Totdat daar een Maandagoggend met die vergadering ‘n vrolike en charismatiese manspersoon skielik letterlik by die deur ingebars het met die nuusredakteur kort op sy hakke, almal vriendelik gegroet en met ‘n helder en welluidende stem beveel het: "Tóé-tóé sit regop en luister! Vandag gaan ons wonderlike stories uitdink en begin werk".
En skielik het ons almal kiertsregop gesit, miskien meer van skrik ook. Ons was onmiddellik die ene vuur en vlam, geïnspireer deur hierdie magnetiese persoonlikheid met sy sterk teenwoordigheid. Wie was dit? ‘n Nuwe nuusredakteur of joernalis dalk?
Joe Venter |
Hy het met ‘n paar storie-voorstelle vorendag gekom en ons het ywerig na ons penne en boekies gegryp. Een van die stories wat ek kan onthou was: net suid van Johannesburg langs die hoofweg, is daar ‘n rommelhoop by ‘n stortingsterrein waar hy opgemerk het mense rondkrap met sakke op die rug om goed te versamel. Iemand moet tog gaan kyk wat díe nuwe verskynsel is en wat daar aangaan. Waarna soek hulle? ‘n Unieke storie vir sy tyd!
Nie almal het komkommertyd in hul werk ervaar nie. Kavalier Films het beplan om die fliek Z.E.B.R.A. met regisseur Elmo de Witt in die ou Rhodesië te verfilm, met spelers soos onder andere Schalk Jacobsz, Peter Lotis, Patrick Mynhardt, Gert van Tonder en Kristie Herbst – vrou van Die Transvaler se nuusredakteur, Das Herbst.
Elma Potgieter |
Elma Potgieter is gevra om die storie te dek en sy moes inderhaas ‘n paspoort reël om die voorgenome geskeduleerde vlug vir belanghebbendes betyds mee te maak. Daar was geweldige druk op haar om alles betyds te reël en met die burokratiese rompslomp by Binnelandse Sake wou sy moed opgee maar ons almal het haar aangemoedig om tog deur te druk, want watter wonderlike geleentheid was dit nou nie vir ‘n joernalis nie.
Sy het dit net-net gemaak en haar man, Schalk, het lank daarna nog gespog met haar paspoortfoto wat op die laaste nippertjie geneem is. Dit beeld vanweë die spanning ‘n betraande Elma uit en die kameralens het ‘n besonderse gemoedstemming en gesigsuitdrukking van haar vasgevang -- ‘n pragtige foto soos net ‘n oud-joolprinses van Tukkies kon oplewer. Ek wonder of Elma nog die paspoort het?
Ons het geleer dat die intro van jou storie tog só belangrik is en ek kan onthou dat Elma ‘n tydjie daarmee gewroeg het vir haar Z.E.B.R.A-storie. Toe kom sy een oggend opgewonde by die kantoor ingetrippel met haar Gesangeboekie in die hand! En dít, wou ons almal weet? "Ek hét hom, ek hét hom," het sy uitgeroep. Sy vertel dat sy die Sondagoggend in die kerk gesit het toe daar skielik ‘n wonderlike intro by haar opkom en voordat sy dit kon vergeet het sy dit sommer gou in die Gesangeboekie geskryf!
Phillipa Breytenbach |
Phillipa het altyd fier en regop in die algemene kantoor verby ons, om die draai, deur die nagkantoor na haar kantoor gestap met ‘n klompie boeke onder die arm -- ‘n indrukwekkende mens wat gesag afgedwing het.
Phillipa het bo-oor ons groentjies gekyk en ons was nogal skrikkerig vir haar. Toe daar ook nog gefluister word dat sy ‘n vriendin van Mimi Coertse is, toe weet ons: net respekte vir hierdie joernalis wat in hogere kringe beweeg!
Ona Viljoen |
Baie vars in my geheue van 1970/71 is die misdaadverslaggewer
Piet
Coetzer wat vanweë sy nagskofte ongewone ure by die kantoor opgedaag het.
Aangename man, vriendelike groet, vasberade en doelgerigte stap. Hy sou met
sy skraal lyf in een beweging, woerts agter sy tikmasjien inskuif, die
papier girts in die tikmasjien rol en sy notaboekie karplaks langs hom op
die tafel neersit. Dan sou hy sonder om op te kyk of te dink, sy
misdaadstorie van die nag begin tik.
'n Mens sou kon glo dat hy die storie so oppad na die koerant toe in sy kop geformuleer het om dan vinnig sy gedagtes op kantoor neer te pen. Piet wat deesdae afgetree is en op Melkbosstrand woon, vertel dat as misdaadverslaggewer daar net nooit regtig komkommertyd was nie. Hy’t snags gewerk en baie van sy stories het hy by die staatslykshuis op Hospitaalheuwel digby Hillbrow gekry.
Sy kontak daar was adjudant-offisier Van Blommenstein. Volgens Piet het die stories glad verloop met die bottel brandewyn en Coke wat hy dikwels vir "Blommetjie" saam karwy het met sy besoeke aan die lykshuis.
Dié veteraanjoernalis vertel dat 'n mens nie uit die oog moet verloor nie dat Januarie se matriekuitslae die koerant op hol gehad het. Die hoeveelheid oproepe het menige joernalis by die telefoon vasgepen en dit was ‘n baie tydrowend en besige tyd by die koerant, ten spyte van komkommertyd. Daar was nog nie ‘call centres’ soos vandag die geval nie!
Piet het diep spore in die joernalistiek by Perskor getrap. Ná misdaad het parlementêre korrespondent en verslag oor Suid-Wes-Afrika se Turnhalle-beraad gevolg, daarná nuusredakteur, asook Perskor se korrespondent in Washington. Sy loopbaan by Perskor is afgesluit as assisstent-redakteur in 1982.
Lou Henning |
Dit herinner hom, sê Piet, aan die wonderlike tyd wat hy gesellig verkeer het saam met Lou en die ander kollegas soos K’rant se redakteur Philip Deetlefs, Peet Smit, Andries Botha, fotograwe Gert Hattingh, Jan Hamman en Abel Jones en talle ander kleurvolle kollegas by hul gewilde kroeg in Doornfontein – onder hulle bekend as Vegkop. Goeie ou dae!
Die kroeg was deel van die Nieu-Doornfontein Hotel. Een aand, kort na
Perskor se intrek skuins oorkant die straat, het daar ‘n "ligte
skermutseling" tussen gevestigde "ou menere" van die kuierplek en
joernaliste uitgebreek -- vandaar die naam Vegkop!
Doorfontein Hotel. Vegkop is regs onder.
Van 1983 tot 1998 het hy groot spronge en vooruitgang in die politieke wêreld as lid van die Nasionale Party gemaak, onder meer lid van die Presidentsraad, LV vir Springs, hoofsweep en die party se direkteur van inligting. Vanweë sy voorletters ‘PW’ wat dieselfde was as eerste minister PW Botha, het hy homself sommer vanuit die staanspoor "die klein krokodil" gedoop. Piet het sy roemryke loopbaan afgesluit met vryskutwerk as redakteur van die aanlyntydskrif The Intelligence Bulletin, vyf jaar as redakteur by Cape Media Corporation, asook redakteur van Hepie Creative Uitgewers.
Piet Coetzer en sy kleinkind. |
Met Tertia se geboorte het Piet sy jarelange vriend, wyle Fanus Rautenbach as haar ere-oupa aangestel. Hulle vriendskap het gestrek van 1971 toe Piet oor Flinkveria berig het tot later jare in die Kaap waar hulle wonderlike tye meegemaak het. Hulle het ure lank saam bestee om die oorsprong van Afrikaanse woorde na te vors, met sommer baie "bekpret" -- Piet se woord. Dit is dan ook hoe Fanus ‘n laatlam beskryf het: dis ‘n laatskapie van ‘n ou ooi wat haar met ‘n slapriem laat vang het.