Ek het oom Marius in 1966 ontmoet toe hy en sy pers op die kruin van die golf was. Dit was toe ek by Dagbreek en Sondagnuus in Aucklandpark, Johannesburg begin werk het.
Ek het van meet af aan respek vir hom gehad oor sy forse persoonlikheid en oor hy uit “niks” daarin geslaag het om so ‘n groot media-empire te bou soos dit daardie jare was. Ek was te meer gunstig gestem oor hy ‘n yslike tien rand gevoeg het by die reusebedrag van R290 per maand waarteen APB my by Nasionale Pers Beperk se Die Volksblad, “gekoop” het.
My aanstellingsbrief het dus my salaris aangedui as R300 per maand – plus 'n spesiale Dagbreek-toelaag van R30 per maand. Dit was groot geld mense – in ag genome dat ‘n nuwe Volksie-kewer daardie jaar maar ongeveer R800 gekos het.
By Nasionale Pers was my salaris die helfte minder en die topsalaris vir verslaggewers teen die jaar 1966 toe ek met hartseer daar weg is, iets soos R270 per maand. Verslaggewers moes ook minstens oor ‘n BA-graad beskik het!
Ja, ek is met hartseer daar weg oor ek so lekker daar gewerk en sulke gawe kollegas gehad het. Gelukkig het ek by APB en later Perskor net sulke besonderse mense leer ken ... en oom Marius was een.
Vandag klink dit ongelooflik dat ons vir so min geld gewerk het (of dalk moet ek eerder sê dat die rand so baie werd was). Om my kleinkinders wat belangstel, te oortuig dat Oupa nie sommer net nog ‘n storie vertel oor die min geld nie, het ek darem ter stawing my aanstellingsbrief by Dagbreek en Sondagnuus as bewys.
Hier is die eerste paragraaf.
So, ek was “hoof vir Spesiale Artikels” aldus die brief. Mnr Jooste het my so aangestel en daarom seker ook die reg gehad om my te vra of eerder – te sê – waar ek soms die spesiale artikels moes gaan haal. Soos ons almal weet, moet verslaggewers self stories gaan soek – gewoonlik op hulle onderskeie “beats”. Maar die nuusredakteur en redakteur kon jou ook stuur op ‘n storie.
Die besturende direkteur doen dit nie, maar hy sal vir die redakteur of nuusredakteur sê laat doen die of daai storie. Mnr Jooste sou dus nie 'n verslaggewer inroep en vra om dit of dat te doen nie, maar hy het ‘n interessante manier gehad om dit tog te doen.
Marius Jooste |
Hy het (as hy daarna voel) gesorg dat die redakteur saampraat en dit laat lyk of dit wat hy (Marius) voorstel, die redakteur se idee is. Die feit dat mnr Jooste betrokke was by die bespreking, het gewoonlik beteken dat daar geld sal wees om die storie gedoen te kry.
Dis hoe dit gebeur het dat ek verskeie groot en “duur” stories kon aanpak, byvoorbeeld om ‘n duikbootjie te huur en al die pad van Kaapstad af te laat kom om na na die wrak van die Viscount-vliegtuig te gaan soek wat by Oos-Londen in die see gestort het. Ek het ‘n paar duikers ook betrek en ‘n boot in Johannesburg gekry.
Nog 'n duur storie was toe ek Amerika toe is vir navorsing oor buitengewone geloofsgenesings.
Die gedagte om Chris Barnard te vergesel op sy eerste oorsese besoek ná die hartoorplanting op Washkansky, is ook daar in die restaurant gebore.
‘n Ander interessante een was dat ek ‘n spoorsnyer moes vat en gaan help soek na die eerste terroriste wat ingesypel het deur noordelike Botswana. Ja, bid jou aan! Ek wonder nou nog wat ek sou doen as ons hulle gekry het!? Of hulle vir ons?
Mnr Jooste het ‘n stuk grond gehad in die destydse Tuli-blok in die noordoostelike hoek van Botswana waa
r die Limpopo- en Shasi-riviere mekaar ontmoet. Dit was ‘n wildsparadys met groot troppe olifante.
Na hierdie natuurparadys het mnr Jooste belangrike mense genooi – premier John Vorster was ook ‘n keer of wat daar. Die plek is bestuur deur n wildkenner, Adrian Boshier, wat saam met sy vrou in die bos gewoon het. Hy was ‘n knap spoorsnyer en dit was toe saam met hom dat ek terroriste moes gaan soek.
Oom Marius het seker binne-inligting gehad wat hy waarskynlik by ‘n polisiehoof gekry het. Die polisie of SA Weermag was natuurlik nie toegelaat in Botswana nie. Maar dit sou nie kwaad doen om ‘n joernalis en boskenner te stuur om te gaan rondsnuffel nie. As hulle bewyse kon kry dat die terroriste daar is, kon daar druk op die Botswana-regering geplaas word.
Ek het nie geweet dat oom Marius die saak so ernstig opneem nie, maar die naweek toe ek daar in die Tuli-blok aangekom het vir die begin van die soektog, was daar ‘n hele paar groot koppe van die polisie en ander belangrike manne ook. Ja die kuiers op die plasie was altyd ‘n net-vir-manne aangeleentheid.
Die slaapplek was 'n groot rondawel en buite in die lapa is gekook en gebraai en tot laat gekuier. Oom Marius kon ook sy drankie neem, maar ek het hom nooit dronk gesien nie. Dit was duidelik dat die belangrike gaste van hom gehou en hom gerespekteer het.
Ek en Adrian het ons eie vuur eenkant gemaak – deur die jare as misdaadverslaggewer en in ander rolle, het ek geleer dis nie goeie beleid om jou aan belangrike mense se aandag op te dring nie – wag tot hulle jou nader nooi. By dié geleentheid het van hulle na ons toe oorgestap vir geselsies.
Terug in Johannesburg het mnr Jooste gesê hy en van die belangrike gaste was nogal verbaas dat ons ons eie ding gedoen en ons nie opgedring het nie. Ek is welkom om weer daar in die bos te kom kuier (as daar nuuswaardige mense of dinge is, het ek aangeneem).
Die terrie-soektog was pure moegmaak en tydmors en het ondanks heelwat ontbering niks opgelewer nie.
Die lekkerste storie van die naweek was toe oom Marius voor 'n trop olifante uit gehardloop het om sy lewe te red -- kortpad deur ‘n digte bos. Dit was ‘n goeie een vir Len se Pen.
Dit het nogal dikwels gebeur dat die Sondagkoerant se manne laat saans nog op kantoor gesit het. Dit was dan dat mnr Jooste soms onverwags opgedaag en gevra het wat skryf ons? Dis ook by sulke geleenthede dat jy sy “ander” kant, Marius Jooste as mens, 'n bietjie beter kon leer ken.
Op ‘n keer het hy met my gesêls oor die Rachel Swart-fonds en wat daarmee gedoen kan word om mense te help. Die fonds is oorspronklik in 1960 deur Piet Beukes, redakteur van die destydse koerant, Die Landstem, in die lewe geroep en Dagbreek het dit geërf met die oorname van dié koerant. Dit is vernoem na me Rachel Swart, ’n merkwaardige vrou, wat ’n vol lewe gelei het, hoewel sy sonder arms en bene gebore is. Die fonds is gebruik om ortopediese hulp aan mense sonder ledemate te verskaf. (Die fonds het ‘n eie webwerf, www.rachelswart.org.za, en dit lyk of dit onafhanklik voortbestaan. – Red.)
By ‘n ander geleentheid het hy deernisvol gepraat oor dr Verwoerd se weduwee, tant Betsie, en die stukkie grond wat die Pers vir die Verwoerds gegee het langs die Vaalrivier – Stokkiesdraai. Ek is toe gestuur om op haar tagtigste verjaardag met mev Verwoerd te gaan gesels. Ek dink dit was by die geleentheid dat ek die foto (regs) geneem het waar haar seun (Wilhelm?) vir haar die blommetjie aansteek.
Oom Marius het daarvan gehou as mens eerlik en reguit met hom is. Min was eerlik en reguit want hulle was bang vir hom. Op ‘n keer het hy my na sy kantoor laat kom en die gesprek het later in die rigting gedraai van mnr Dirk Richard – toentertyd nogal by tye omstrede redakteur van Dagbreek en Landstem. Op ‘n direkte, effens negatiewe vraag wat hy my gevra het oor Dirk, was my antwoord – “jammer Meneer, maar ek bespreek nie my redakteur met u nie – vra homself!”
Ek het dit met ‘n glimlag gesê – nie uitdagend of kwetsend nie – en is met ‘n glimlag beloon. Die gesprek het toe ‘n ander koers ingeslaan.
Toe ek in Maart 1977 bedank het by Perskor om Bybelsmokkelaar te word saam met die man wat die wenner-boek, God se Smokkelaar, geskryf het, was hy nie so vriendelik nie.
Hy was rooi in die gesig toe hy my in die gang raakloop net voor hy die hysbak in is. Sy kommentaar – was dit met 'n tikkie besorgdheid? “Kan ‘n mens sy lewe so weggooi soos jy dit nou doen!?”
Ek het niks gesê nie, maar ‘n paar dae later het ons ‘n diep gesprek daaroor gehad wat nog meer onthul het watse besondere mens Marius Jooste eintlik was.
Ons is as vriende uiteen en ek hoor nog sy groet, met ‘n effense heesheid in die stem: “Jammer jy moet gaan Boetie, maar ek verstaan”.