Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

14.8.15

Juhan Kuus is oorlede

SUZELLE FOURIE skryf: Met ‘n geskeurde skouerspier wat my uit die slaap hou, bring ek my nagte meestal deur met swerftogte op die internet. Tydens so ‘n laatnag geswerf die afgelope week kom ek toevallig af op ‘n berig oor die onlangse dood van fotograaf Juhan Kuus in Kaapstad.

Ek het Juhan nie goed geken nie, maar onthou hom wel. Hy het in die vroeë jare sewentig saam met oorle’ Gerrie (fotograaf Gerrie Fourie, Suzelle se man -- Red.) vir Rapport gewerk en ek onthou dat Gerrie destyds groot agting vir Juhan se werk gehad het. Hy het hom as een van die beste persfotograwe in Suid-Afrika beskou, ‘n mening wat deur vele ander in die beroep gehandhaaf is.

31.7.15

Piet spring loesing vry

PIET ROOS skryf: Kemptonpark was destyds 'n sentrum vir die aanspreek van sake vir dwelm- en porno-oortredings omdat die lughawe daar was. Die ouens wat op die lughawe gevang is, is na die plaaslike landdroshof gebring.

In daardie dae was onsedelikheid 'n baie ernstige misdaad. Die manne het oorsee sulke opvoedkundige tydskrifte soos Playboy en ander stoutighede gekoop en huis toe gebring.

So was daar 'n welbekende man en sy maters van Vrede in die Vrystaat wat bietjie oorsee gaan pret maak het.

29.7.15

Reisgogga byt vir Ona by Die Transvaler

ONA VILJOEN skryf: Dis moeilik om te onthou presies wanneer die reisgogga my gebyt het. Dalk was dit toentertyd toe Club Med my na Reunion-eiland uitgenooi het om ’n artikel oor hulle vir Die Transvaler se naweekbylae te skryf.

Ai, hoe lekker was dit nie!! Behalwe dat ek en ’n ander meisie wat ook hulle gas was, een oggend besluit het om "topless" op ’n afgeleë stuk strand te gaan "tan" (dit was nog voordat swaartekrag sy tol geëis het). Sjoe, daardie aand het ons die gevolge gedra: bloedrooi was daardie sensitiewe gedeeltes. In so 'n mate dat die bestuurder se vrou vir ons jogurt gebring het om aan te smeer. Dit trek glo die angel van sonbrand uit!

13.7.15

SA se beste fotograaf in sy tyd

SIPKE DE VRIES skryf: Ek is vreeslik jammer om te hoor van Gert se afsterwe. Ek het 'n rukkie gelede nog met hom en sy vrou Marie gesels. Dit het toe nog goed gegaan met hulle.

Gert Hattingh was in 1963 my eerste "baas" as hooffotograaf van Die Transvaler. Ek het pas uit Nederland hier aangekom en dit was my eerste werk in Suid-Afrika. Gert het my die fynere kunsies van die persfotograafwerk geleer.

10.7.15

Talentvolle Gert Hattingh Woensdag ter ruste

GERT HATTINGH se vrou Marie het laat weet dat Gert se roudiens Woensdag 15 Julie in die NG Kerk Hartenbos gehou sal word. Sy het gesê Gert het onlangs maagprobleme ontwikkel wat veroorsaak het dat hy die afgelope twee weke nie meer kon eet nie. Gert is eergisteroggend (8 Julie 2015) oorlede.

As 'n huldeblyk aan Gert publiseer K'rant 'n storie oor Gert wat in April 1991 in Perskorhaan gepubliseer was.

8.7.15

Gert Hattingh oorlede

Gert Hattingh, voormalige fotograaf van onder meer Die Vaderland en Die Transvaler, is vanoggend oorlede. K'rant sal hopelik binnekort meer inligting hê.


23.6.15

Van treindrywer tot spotprenttekenaar

WEYNI DEYSEL was nie net een van Suid-Afrika se befaamde spotprenttekenaars nie. Hy was 'n leergierige mens. Voor hy by Die Vaderland spotprentkunde by Len Lindeque geleer het, het hy geleer om 'n treinmasjinis te word en toe dit hom nie meer aangestaan het nie, het Weyni teologie gestudeer.

Weyni is in 1951 in Port Elizabeth gebore en het in 1970 aan die Pretoriase Kunsskool gematrikuleer.

1.6.15

In die greep van die nul-uur vasgevang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek moes tien jaar lank
tweeweekliks vir Rose Rose die rubriek "Doodluiters" skryf.

Die eerste helfte van die tyd was ek heeltyds in die redaksie van die tydskrif en was dit maklik om ´n onderwerp te vind. Ek kon my van die redaktrise, Martie Snyman, en van my kollegas laat inspireer.

Die tweede helfte was ek egter reeds in die buiteland. Ek was jonk getroud en die ma van twee klein kinders. Die rubriek moes daardie jare nog vroegtydig per lugpos gestuur word.

26.5.15

Ons vlieg agter die Bek se baba aan

KARIN PRETORIUS skryf: Ek het nou nie soos ons minister van sport Amerika toe gevlieg vir die boksgeveg van die eeu tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao nie, maar wel na Durban vir ‘n storie oor die geboorte van die eeu - díe van die eersgeborene van boksheld en swaargewig-kampioen, Kallie Knoetze en sy vrou Elize.

Of só altans het mev Baby Hyman, hoofredaktrise van Rooi Rose, gedink toe Kallie-Matt gebore is. Ek glo broeisheid het die ouma in tant Baby oorrompel en al wat sy wou hê, was ‘n artikel oor die Knoetzes en klein Kallie-Matt wat vernoem is na sy peetpa, Matt Lotter. Hy was die broer van afrigter-bestuurder Billy Lotter.

22.5.15

Slange-hel in die wildtuin

MAUREEN SWART skryf: Reeds as 'n pas-uit-die-klaskamer-groen verslaggeefster by Die Vaderland het ek besef dat 'n joernalis te alle tye op die onverwagte voorbereid moet te wees. 'n Storie verloop nie altyd uit soos jy verwag het hy gaan loop nie. Selfs 'n oënskynlik onskuldige "human interest" gebeurtenis kan 'n onmenslike kinkel hê. Verwag die onverwagte, dus.

So gebeur dit dat Frans du Toit my een naweek na 'n privaat wildtuin iewers in die ou Transvaal stuur om 'n storie te doen oor 'n groep Britse akteurs wat op 'n toer deur Suid-Afrika was. Hulle was tussen opvoerings en sou die naweek by dié betrokke wildtuin ontspan.

19.5.15

Johan stap via K'rant op ou paaie

JOHAN LOTTERING skryf: Ek het twee keer by Perskor gewerk, eers in die laat sewentigs in die sportredaksie onder Chris Botes en toe Johan Volschenk by Hoofstad en toe weer in die laat tagtigs in die subkantoor by Die Transvaler, onder hoofsub Sandy MacDonald.

Ek het dikwels in die nagkantoor gewerk. Gert Coetzee het soms diens gedoen as nagnuusredakteur. Tommy Nel, sy regterhand in ‘n stadium, het baie maal met smaak vertel hoe ons voorgangers een jaar bevrore hoenders vir Kersfees gekry het.

4.5.15

Kolskoot-foto van Perskor-man

GERHARD BURGER was nie net een van Suid-Afrika se beste sportredakteurs en ‘n knap redakteur van Transvaler nie. Hy het ook ‘n aanvoeling vir militêre bedrywighede.

Die Queen Mary 2 het onlangs by Port Elizabeth, waar Gerhard woon, aangedoen.By Fort Frederick het hy onderstaande bedreiging vir die Britse seevaarders raakgeloop en sy kamera uitgehaal. ‘n Mens weet nooit wat kon gebeur het nie en dan het hy “scoop”-foto's soos min gehad.

24.4.15

Wie onthou die Excelsior-skandaal?

IRENE GROBBELAAR skryf: Ek is tans besig met my meestergraad in visuele studies aan die Universiteit van Stellenbosch. Ek doen nou navorsing oor die Excelsior-skandaal gedurende die 1970's en het op julle blog afgekom.

Ek vra groot asseblief dat enige joernaliste en fotograwe wat inligting of foto´s van die gebeurtenis het my per epos nader by lenoblephotography@gmail.com. Ek sal julle ewig dankbaar wees! Ek het gesien dat Willie Buys en Gerrie Fourie spesifiek betrokke was by die onderwerp.

(Gerrie Fourie is oorlede. Willie Buys se storie oor die Excelsior-seksskandaal is HIER -- Red.)

16.4.15

Ode aan die "steroïde-joernalis"

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Waar het jy nou ‘n getrouer en veelsydiger en meer ywerige redaksielid kon kry? Nooit het die hoofredaksie gewonder oor sy produktiwiteit nie, of gevrees dat daar géén nuus vir die volgende uitgawe sou wees nie.

Nou dat ons die getroue Sapa moes groet, reflekteer ‘n mens byna vanselfsprekend op ‘n ander groet van ‘n klompie jare terug -- die teleksmasjien wat stil geraak het.

Nes ‘n duisend vinke in ‘n vlei het ‘n goeie halfdosyn of meer van hulle se gekletter ‘n spesiale adrenalienelement en polsslag in ‘n koerantkantoor ingebring.

14.4.15

Elvis is dood

GERHARD KLEIJN skryf ja, díé oorlede Sapa darem: Dit was in die nanag van 17 Augustus 1977. Die koerant (Oggendblad) het lank reeds gesak en die grondvlak-rolpers het knap begin om die hele ou Mitchelstraatgebou aan die bewe te sit. In die nagkantoor was die manne besig om die laaste leksels uit ‘n breëskouer-fles te ledig.

Wat dit was wat my laat besluit het om juis tóé ‘n draai in die telekskamertjie te loop maak, weet ek nie. Die vystuks teleksmasjiene, skouer-teen-skouer en amper op oog-hoogte (vir die meeste) op ‘n toonbank ingeryg, was met my intrapslag doodstil. En toe kry die Sapa-masjien in die hoek skielik lewe: “Pieng. . . pieng. . .pieng!” En nog ‘n paar dringende pienge, maak die gedoente voor sy papiertong langer begin uitratel. Ek staan nader.

8.4.15

Sapa se rangskikking om hulp

JOHANN BRITZ skryf: Sapa se heengaan het my herinner aan 'n voorval jare gelede.

My goeie vriend, wyle Con Crous, was hoof van die Sapa-kantoor in Windhoek en was meestal die enigste personeellid wat die hele gebied moes dek. Soms het hy darem tydelike hulp gekry in die gedaante van afgestudeerde kommunikasiestudente van die Rhodes Universiteit.

Ingevolge 'n samewerkingsooreenkoms het ons afskrifte van kopie aan Sapa beskikbaar gestel en het ons van tyd tot tyd spesiale versoeke vir bystand gekry waar Con en sy mense nie kon bykom nie.

2.4.15

Totsiens Sapa

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Sapa-berig hieronder is die laaste een ooit. K'rant se redaksie het dit goedgedink om die berig verbatim te plaas nadat Sapa sy ligte Dinsdag om middernag vir oulaas afgeskakel het. Saam met Gerhard Burger (e-pos onder) sê ons namens al die oud-Perskormense dankie aan Sapa vir die getroue diens wat oor al die jare so mildelik aan intekenare gebied is.

In hierdie Sapa-berig word twee van ons Perskor-kollegas genoem. Die eerste is Hannes de Wet. Hannes was in sy dae hoofverslaggewer van Die Vaderland en later parlementêre verslaggewer en toe Perskorburo se verteenwoordiger in Washington.

1.4.15

Foto's: reünie, 2015

PEET SIMONIS het foto's by die Perskor-reünie, 2015 geneem, maar ongelukkig die meeste daarvan verloor. Hier is 'n klompie wat oorgebly het.

PIET ROOS het die volgende laat weet: Dankie vir die reünie! Baie dankie vir almal wat betrokke was by die reëlings. Die gesels was lekker, die kos lekkerder en die wyn die lekkerste.

Lees gister se berig oor die reünie HIER.

31.3.15

Reüniegangers klink `n glasie op oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: `n Sestigtal reüniegangers het vanjaar se kuier, wat weer soos die afgelope aantal jare deur die Perskortrust geborg is, by Forno Italiano in Wilgeheuwel, Johannesburg, bygewoon en die geleentheid benut om `n glasie op Hermie Hendriks te klink wat hoop om binnekort sy 90ste verjaardag te vier.

Harald Pakendorf, gewese redakteur van Oggendblad en Die Vaderland, het die heildronk op oom Hermie ingestel.

27.3.15

Sapa kry die doodskoot

PHILIP DEETLEFS skryf: Een van die eerste dinge wat 'n mens as leerlingverslaggewer moes leer doen, was om te tik. Nie sommer net uit jou kop uit nie. Nee, jy moes van die Sapa-berigte wat onophoudelik uit die teleksmasjien gekom het, vertaal.

Van die eerste "stories" was om Sapa se weervoorspelling vir die volgende dag vir die hele verspreidingsgebied van die koerant te vertaal. Jy moes ook die stories afskeur en vir die nuusredakteur gee sodat hy dit vir verdere aandag kon uitdeel. Stories moes dalk opgevolg word of net vertaal word.