Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.7.15

Reisgogga byt vir Ona by Die Transvaler

ONA VILJOEN skryf: Dis moeilik om te onthou presies wanneer die reisgogga my gebyt het. Dalk was dit toentertyd toe Club Med my na Reunion-eiland uitgenooi het om ’n artikel oor hulle vir Die Transvaler se naweekbylae te skryf.

Ai, hoe lekker was dit nie!! Behalwe dat ek en ’n ander meisie wat ook hulle gas was, een oggend besluit het om "topless" op ’n afgeleë stuk strand te gaan "tan" (dit was nog voordat swaartekrag sy tol geëis het). Sjoe, daardie aand het ons die gevolge gedra: bloedrooi was daardie sensitiewe gedeeltes. In so 'n mate dat die bestuurder se vrou vir ons jogurt gebring het om aan te smeer. Dit trek glo die angel van sonbrand uit!

Ja, dit was gedurende die dae van oorvloed toe maatskappye die pers graag onthaal het vir 'n bietjie publisiteit.

Maar die reisgogga het my sedertdien met mening gebyt en ek en my man het na talle verre bestemmings gereis: Jemen, Egipte, Sirië, Jordanië, Iran en Pakistan, om ’n paar te noem.

Hoekom dié lande? Dit was baie goedkoper en interessanter as Europa, wat beteken het dat jy veel langer vakansie kan hou.

Die Pamir "Highway"
In Pakistan het ons die eerste keer met die oeroue syroete kennis gemaak toe ons met die Karakorum
Highway tot teen die grens van China getoer het. Dié sogenaamde "highway" volg grootliks die ou syroete. ’n Artikel op BBC se webblad oor die Pamir Highway, ’n ander been van die syroete deur Sentraal-Asië, het ons geprikkel om onlangs ook dié deel van die wêreld te gaan verken -- Oezbekistan, Tadjikistan en Kyrgyzstan.

Samarkant
Wat ’n belewenis! Die mooiste, mooiste landskappe, sneeubedekte berge, hoë passe, geskiedkundige stede uit die dae van die syroete, soos Samarkant, en vriendelike mense.

Wie't ook kon dink dat jy perde kan melk? In groot gebiede van Tadjikistan en Kyrgyzstan leef mense nog soos hul voorvaders honderde jare gelede gedoen het. In Krygyzstan word daar nog in die somermaande met die vee hoog in die berge getrek waar die weiding volop is. Jurts word vir 5 -- 6 maande opgeslaan en hier bly hulle totdat dit te koud word.

Deesdae kan hulle ook iets uit toerisme verdien deur ’n ekstra jurt of twee op te slaan waar mense kan bly. Dis niks luuks nie - jy slaap op die grond bo-op duvet-tipe matrassies. Daar's geen sprake van stort nie en wet wipes moet maar die ding doen.

'n Jurt
Die toilette word ver van die jurts af opgerig; 'long drops' sonder ’n sitplek, wat beteken jou bobeenspiere moet sterk wees vir die gehurk! ’n Pyn in die dinges as jy snags moet opstaan. Veral as dit ’n koue nag is, soos wat selfs in die middel van die somer daar bo in die berge (3 000 meter hoog) kan gebeur.

’n Staanwasbakkie in die oopte bied darem geleentheid om tande te borsel en dalk hare te was, mits die gasheer vinnig ’n bietjie water warm maak om in die klein tenk bokant die bak te gooi.

Binne 'n Jurt
’n Mens kry dieselfde wasbakke by sommige van die 'homestays' in die kleiner dorpe (kyk foto). In die afgeleë gebiede is dit die enigste verblyf wat beskikbaar is. Hier het min mense lopende water in hul huise. Gelukkig het baie van die huiseienaars wat deel is van die netwerk wat kamers vir toeriste beskikbaar stel, ’n storthuisie buite opgerig – natuurlik sonder warm water!

Perde speel ’n baie belangrike rol in die Kyrgyz se lewens en word vir talle sportitems gebruik, soos ’n kompetisie waartydens die ruiter muntstukke van die grond af moet opraap. Baie gewild is die 'Ulak Tartysh' waartydens twee spanne ruiters meeding om ’n bok se karkas van die grond af op te raap en dit op ’n tipe van ’n platform neer te sit. Seuns en dogters leer reeds van vroeg af om perd te ry.
Perde word gemelk.
Die merries vul in die vroeë somer en solank as wat die vullens aan hulle drink, word die arme goed gemelk
om 'komis', of gegiste merriemelk, te maak. Die Kyrgyz is mal hieroor en ouens kom van die dorpies af om by die mense in die berge die komis te kom koop sodat hulle dit weer in die dorpe en langs die pad kan verkoop.

Wasbakke in 'n jurt.
Die vullens word bedags vasgemaak om te verseker dat hulle nie aan die merries kan drink nie. Dit verseker ook dat die merries nie te ver daarvandaan gaan wei nie. Hulle word dan elke twee uur na die vullens gebring sodat die kleintjies vinnig' ’n paar keer kan suig om die melkvloei te stimuleer. Teen laat middag word die kleintjies losgemaak en kan hulle deur die nag saam met die merries loop.

In Kyrgyzstan is daar ook nog gesinne wat met arende jag -- die goue arend kom hier voor. Dis ’n yslike
voël wat tot 7 kg kan weeg met ’n vlerkspan van 3 meter. Hulle kan glo selfs jakkalse vang. Die een wat ek vasgehou het, is nog ’n jong voël het sowat 3 kg geweeg. Ek kon ook maar net lank genoeg vashou om vir ’n foto of twee te poseer!

Die volgende bestemming? Peru en Ecuador in Suid-Amerika -- mits die vervlakste rand nie verder daal nie!

Bo en onder:  pragberge.