Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.8.13

Ontugwet plaas rustige Excelsior met ‘n knal op wêreldkaart

WILLIE BUYS skryf: Dit was kort nadat ek my eerste amalgamasie van koerante (Dagbreek en Sondagnuus en Die Beeld) beleef het en by die destydse middagblad Die Vaderland ingedeel is in die nadraai van dié samesmelting. Die toentertydse nuusredakteur van Die Vaderland, die immergewilde Frans du Toit, nou saliger, het my op ‘n keer ingeroep en opdrag gegee om verslag te gaan doen oor een van die grootste stories van my lang loopbaan.


Die rooi A dui Excelsior aan
Daarvoor moes ek en fotograaf Gerrie Fourie al die pad Vrystaat toe ry na Excelsior, ‘n eens rustige klein dorpie met skaars 700 inwoners wat amper net ‘n spikkel op die landkaart uitgemaak het. Die naam Excelsior sou egter binne die bestek van ‘n baie kort tydperk ‘n knalwoord dwarsoor die wêreld word nadat hordes binne- en buitelandse mediamense daarop toegesak het om, wat deur baie beskou is as een van die grootste skandvlekke op Suid-Afrika se naam tydens die apartheidsjare, te onthul.

Dit was naamlik ‘n hofsaak wat hoogswanger was aan belofte van kolomme op kolomme uiters sensasiewekkende nuus wat terselfdertyd een van die pilare van die apartheidstelsel sou wegkalwe. Dit het te make gehad met die destydse Ontugwet wat seks tussen lede van die verskillende rassegroepe gekriminaliseer en verbied het. Dié wet is in die jare tagtig van die wetboeke verwyder tydens die begin van die stelselmatige aftakeling van erge diskrimerende maatreëls.

Ná maande se gerugte oor die aantal gekleurde kinders wat op die dorp en die plase in die Excelsior-distrik rondgeloop het, die oor en weer vingerwysery, geskinder en erge huishoudelike onmin, het ‘n jong vroulike plaaswerker met die sak patats vorendag gekom Dit was naamlik dat sy ‘n verhouding met haar wit plaasbaas gehad het en ‘n kind is uit dié assosiasie gebore.

Dr Percy Yutar
Toe het alle hel losgebars wat tot in die verste uithoeke van die wêreld weerklink het en ‘n ondersoek is begin. Dit het daartoe gelei dat vyf blanke mans en veertien swart vroue aangekla is kragtens die Ontugwet. Die staat het hul groot kanon, die Vrystaatse prokureur-generaal dr Percy Yutar, as aanklaer aangewys. ‘n Regter sou spesiaal van Bloemfontein na Excelsior reis. Onder die beskuldigdes was die Nasionale Party se sekretaris vir die Excelsior-distrik; die dorp se slagter wat homself geskiet het nadat hy op borgtog vrygelaat is, en ‘n boer.

Veral laasgenoemde het hom in ‘n groot verleentheid bevind. ‘n Swart vrou op sy plaas het geboorte geskenk aan 'n babadogter met ‘n besonder ligte vel, ‘n feit waaroor erg geskinder is en wat gesuggereer het dat hy die vader van die kind was. Hy was blykbaar só geskok, geruk en paniekbevange ná al die geskinder en gefluister agter bakhande dat hy aangevoer het hy het navorsing oor die familiestamboom van die kind gedoen. Hy het glo ‘n wit man verskeie generasies terug in die kind en ma se stamboom ontdek. Niemand het hom geglo nie, maar die klagte teen hom is laat vaar!

Nog ‘n man wat aanvanklik aangekla is, het gesê die saak het “my familie doodgemaak”. Sy vrou het hom glo nooit vergewe nie. Nog ‘n beskuldigde het gesê hy het toentertyd gevoel hy moet selfmoord pleeg .Dit net ter agtergrond.

Gerrie Fourie
Ek en Gerrie Fourie het die bykomende voorreg gehad om dié saak te gebruik as ‘n toetslopie vir die direkte versending van foto’s uit ‘n moderne, omgeboude mobiele fotografiese donkerkamer wat teen groot koste in ‘n Volkswagen Kombi ingerig is. Al wat nodig was, was ‘n telefoonlyn waardeur die foto’s dan na die Johannesburgse hoofkantoor per landlyn versend is. Dit het soos ‘n bom gewerk en ons was daardeur in staat om die meeste ander Randse koerante daagliks met vars foto’s van die verrigtinge te scoop.

Rondom die hofsaak het ‘n amperse histerie geheers onder veral die erg kritiese buitelandse nuusmedia. Baie van hierdie joernaliste het nie ‘n snars Afrikaans verstaan nie en het moeilik oor die weg gekom – veral omdat die gewone dorpenaars erg wantrouig was oor hierdie ”sensasiesoekende betreders”. Daarteenoor was ons plaaslike ouens weens ons Afrikaansheid as vriende van die boerekring aanvaar en kon ons makliker toegang tot die beskuldigdes en die hofstrukture kry. (Wat my betref was dit ‘n verkeerde aanname, maar professionaliteit vereis dat ‘n mens alle voordele wat na jou kant toe kom, maksimaal ontgin.)

Berig in die Montreal Gazette, 25 November 1970
Toe kom die antiklimaks – die staat, soos verteenwoordig deur dr Yutar, het geweier om met die vervolging voort te gaan en die saak is teruggetrek. Dit was glo omdat die “ongesubstansieerde getuienis van die swart vroue nie genoegsaam was om ‘n suksesvolle vervolging in te stel nie”. Later was daar gerugte dat die destydse minister van justisie, Peet Pelser, opdrag gegee het dat vervolging gestaak moes word. Hy het aan die parlement verduidelik die beskuldigdes kon nie gedwing word om te getuig nie.

Die opposisie het dit egter verwerp en daarop gewys dat ‘n ander politieke aangehoudene 371 dae aangehou is om haar te dwing om in ‘n ander ontugsaak te getuig. Die werklike rede, sou dit later aan die lig kom, was dat die verleentheid wat die Excelsiorsaak reeds in die buiteland veroorsaak het, net verder sou vererger as die onsmaaklike besonderhede daagliks tydens die hofsittings deur die plaaslike en buitelandse media gedissekteer word.

My verhaal is egter nog nie klaar vertel nie. In die aanloop tot die hofsaak was daar ‘n koorsagtige geskarrel onder al die joernaliste. Veral die buitelanders het moeilik oor die weg gekom met die openlike antagonisme teenoor hulle. As my geheue my korrek dien, was daar net een ordentlik hotelletjie op die dorp en die kroeg was (soos per tradisie) die vergaderplek van die joernaliste.

Só sit ons ná die afgelasting van die saak daar en bespreek dié skielike wending, toe die joernaliste een vir een genader is deur afgevaardigdes van die boeregemeenskap. Hulle het ons naamlik genooi vir ‘n “boerebraai” met volledige aanwysings na ‘n nabygeleë plaas. Dit was die boere se strategie om aan veral die buitelanders te wys “ons is nie almal so nie”. Ek was ietwat agterdogtig en het nie die braai waartydens allerlei vleisighede op die spit gaargemaak is, bygewoon nie. Dit was egter ‘n skitterende sukses, het ek van die hoogs tevrede plaaslike en buitelandse nuusmense gehoor. Wêreldbekende boeregasvryheid is skitterend aangewend om skadebeheer toe te pas!

Intussen het ek bevriend geraak met een van die buitelandse joernaliste en het hom onder my vlerk geneem weens sy taal- en Afrikanerkultuur-onbeholpenheid. Ek het toe al lank vooraf kontak gemaak met een van die beskuldigde boere en ‘n afspraak met hom gereël by sy huis. My nuutgevonde vriend het my gepols oor wat ek nog verder gaan doen en ek het hom van die afspraak vertel - met ‘n uitnodiging dat hy kon saamgaan. Hy het dit natuurlik hoogs in sy skik aanvaar en van daar af was hy soos my skaduwee. Ek het my scoop gekry en hy ook!

Zakes Mda
• Die omstrede Ontugwet is in die laat jare tagtig van die wetboek verwyder in die aanloop om diskriminirende maatreëls af te takel. Baie mense meen die Excelsior-skandaal het dié wet die finale nekslag gegee. Die bekroonde dramaturg en skrywer, Zakes Mda, het dié gebeure in die vroeë jare sewentig in ‘n novelle, The Madonna of Excelsior, vasgevang.

Voor die opspraakwekkende Excelsiorsaak is berig dat sowat 10 000 mense kragtens die Ontugwet vervolg is. Sowat 8 000 mense is skuldig bevind en duisende meer het onbetrap daarmee weggekom. Die skande en hoon wat oortreders van dié wet uit veral die plattelandse konserwatiewe gemeenskappe moes verduur, was só groot dat sommiges liewer selfmoord gepleeg het as om aan die openbare skandpaal gespyker te word en die uitwerping en woede van hul medemense te moes trotseer. Hierdie situasie het uiteindlik ook vir die regering van die dag te veel geword.