Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

19.5.15

Johan stap via K'rant op ou paaie

JOHAN LOTTERING skryf: Ek het twee keer by Perskor gewerk, eers in die laat sewentigs in die sportredaksie onder Chris Botes en toe Johan Volschenk by Hoofstad en toe weer in die laat tagtigs in die subkantoor by Die Transvaler, onder hoofsub Sandy MacDonald.

Ek het dikwels in die nagkantoor gewerk. Gert Coetzee het soms diens gedoen as nagnuusredakteur. Tommy Nel, sy regterhand in ‘n stadium, het baie maal met smaak vertel hoe ons voorgangers een jaar bevrore hoenders vir Kersfees gekry het.

Almal moes begin deur Sapa-berigte te vertaal en op pienk papier (blou velletjies by Die Vaderland en groen velletjies by Die Transvaler) met twee vingers oor te tik, wat ons met spelde vasgesteek het.

Die ouens wat my touwys gemaak het, was krieketskrywer Pieter ‘Rooties’ Rootman, wat dik vrinne met Wim van der Berg was, asook Maarten Lessing. Almal het groot waardering vir Anette Barnard se tenniskennis gehad. Theo ‘Snorre’ Malherbe was die atletieksrywer.

Joel Kotze
Wim van der Berg
Die Hoofstad-sportredaksie het een keer saam met The Pretoria News en Oggendblad op die Kaledoniese Sportgronde aan ‘n vertoonsokkerwedstryd teen voormalige Springbokke deelgeneem. Die een Springbok het die bal tussen Joel Kotze, wat wydsbeen gestaan het, se bene deurgespeel. Die skare was op hul voete toe Joel gebukkend onderdeur sy maag gekyk hoe die oud-Bok die wendoel aanteken. Ons het in Perskorhaan verskyn, maar kon ongelukkig nie eens met Robert Denton van die Noord-Transvaalse Rugbyunie se hulp die pyp rook nie!

By die sportredaksie was die lekkerste om boksers soos Bushy Bester en Charlie Weir se gevegte gratis by te woon en gereeld met afrigters soos wyle Billy Lotter asook Willie Toweel te kon praat. Die eerste geveg wat ek as koerantman bygewoon het, was toe Bushy sy voormalige swaer, Gert Craemer, uitgeslaan het.

Ek moes sommige Vrydagaande ook in Doornfontein by Die Vaderland nagsubwerk doen. Wyle André Verster het waargeneem as hoofsub.

Blaar Grobbelaar
Jan van Vreden
Die tweede keer dat ek by Perskor ‘n draai gemaak het, was onder redakteurskap van wyle Blaar Grobbelaar en toe Oom Jan van Vreden. Sandy het altyd met die grootste lof van wyle Koos du Plessis gepraat en die treffende koppe wat hy kon skryf.

Ons het oorleef deur dubbeldoor-burgers by die gewese politieke verslaggewer van The Citizen, Jaap Theron, se Kou-Kou Kafee op die hoek te koop. Ek het later, ná ek by die koerant weg is, vir Jaap se seun Flippie geleer vlieg op Wonderboom-Lughawe.

Jaap Theron
Tom Caircross
Ek wonder soms wat van kennisse en oudkollegas geword het, soos Bennie Visser en Roelf Botha (Oggendblad), Johan Kruger, Dirk van der Walt, Pottie Potgieter, Tommy Nel, Idalette Strydom, Martin Roos, Marita Heath, Betsie Botha, Wilma van der Merwe, Eugene Yssel, Maretha Conradie, Daleen van Maanen, Eric Ströh, Jeanne Goosen, Cor Gouws, Ben Botha, Deon Kriel, Ettienne Lambrecht, Johan Campher, Margot Grobbelaar, Antjie en Deon Maree, Micki Pistorius, Anita de Kock, Johan Smith, Joel Kotze (Oggendblad), Thys Human (Oggendblad), Johann de Beer, Lappies en Liesel Labuschagne, Hetta Vonsteen-Pieterse, Lucas Oosthuizen, Tubby du Preez (Oggendblad), Ans Oosthuizen, Sakkie de Klerk, Leendert Pieterse, Pieter Klopper, Pieter Pelser, Tom Cairncross, Pieter Roothman, Maarten Lessing, Johan Volschenk, Theo Malherbe en Chris Botes. (Johan, in die kolom regs op dié joernaal is lang lys name onder die die opskrif "Bydraes deur en oor".  Daarin sal jy van dié name kry.  As jy op 'n naam klik, sal jy alle berigte deur en van daardie persoon kan lees. - Red)