Wat dit was wat my laat besluit het om juis tóé ‘n draai in die telekskamertjie te loop maak, weet ek nie. Die vystuks teleksmasjiene, skouer-teen-skouer en amper op oog-hoogte (vir die meeste) op ‘n toonbank ingeryg, was met my intrapslag doodstil. En toe kry die Sapa-masjien in die hoek skielik lewe: “Pieng. . . pieng. . .pieng!” En nog ‘n paar dringende pienge, maak die gedoente voor sy papiertong langer begin uitratel. Ek staan nader.
Illustrasie |
‘n Goeie storie neig om nuwe lewe in selfs ‘n moeë, effe aangeklamde koerantman te sit. Die rolpers is tot stilstand gedwing, die voorblad is oorgemaak en die drukoplaag is vergroot. Dit alles te danke aan ‘n laatnag-fles in die nagkantoor. En Sapa.
Daardie oggend was Oggenblad die enigste oggendblad in die land wat díé aardskuddende nuus gedra het.
En teen die lamppale en jakarandabome van Pretoria se strate het die plakkaat dit in net drie vet, bokas-woorde en oor drie dekke uitgeskree: ELVIS IS DOOD.