So gebeur dit dat Frans du Toit my een naweek na 'n privaat wildtuin iewers in die ou Transvaal stuur om 'n storie te doen oor 'n groep Britse akteurs wat op 'n toer deur Suid-Afrika was. Hulle was tussen opvoerings en sou die naweek by dié betrokke wildtuin ontspan.
Frans du Toit |
Wat ek wel duidelik onthou, was die feit dat ek erg opgewonde was oor die vooruitsig van 'n naweek in die wildtuin. Dink net: Luukse akkommodasie, heerlike kos - wat ek nie self moes kook nie - en dalk een of twee van die Groot Vyf onder die oog! Om nie eens te praat van die akteurs nie. Van oorsee af, nogal. "Celebs", kan jy maar sê; hoewel ek nie dink dié woord was in die vroeg-sewentigs al gebore nie.
Boonop sou ons per vliegtuig reis. My heel eerste vliegrit. Maak nie saak dat dit 'n ligte vliegtuigie was nie. Vlieg is vlieg.
Ná ons aankoms by die wildtuin het ons die akteurs ontmoet en vir 'n rukkie langs die swembad gekuier. Terloops, my akkommodasie was toe glad nie so luuks as wat ek dit in my verbeelding voorgestel het nie. Sommer net 'n rondawel. Donkerig en primitiewerig. Teleurstellend.
Skielik het daar 'n man in 'n Land Rover opgedaag. 'n Wildbewaarder wat vir ons 'n slangvertoning sou gee.
Dit het ek nie verwag nie. 'n Slangvertoning. Wás dit nou nodig? Ek vrees slange. Ek haat slange! O, ek dog my hart gee in toe die man 'n yslike, aaklige luislang uit sy Landie haal! Wat alles tydens die vertoning gebeur het, sal ek nooit weet nie, want my oë was op skrefies. Partykeer sommer bottoe geknyp.
Oplaas was die vertoning verby. Maar moenie dink die man vat sy lelike maatjie en kry sy stryk nie. O nee! Hy en die fotograwe en joernaliste (ek was taamlik langtand) wou 'n groepsfoto van die akteurs saam met die slang hê.
Een van die aktrises - een in 'n bikini - was dapper genoeg om met die luislang om haar nek te poseer. Met ongeërgde elegansie het sy die grieselrige reptiel vertoon asof dit 'n asemligte ontwerperserpie was.
Die ergste van alles was dat ek toe noodgedwonge moes naderstaan - met oop oë - om almal se name in die regte volgorde neer te skryf vir 'n byskrif by die foto.
En nog was het einde niet. Want wat doen die man toe? Sal hy dan nie sowaar die slang op die gras neersit nadat hy dit van die meisie se nek verwyder het nie. Mens sou sweer dit was 'n mak ou hasie.
Teen dié tyd was ek al half in 'n beswyming van angs, maar as joernalis kon ek nie my pos verlaat nie. Sê nou ek mis nog 'n storie?
Langs my het 'n joernalis van 'n ander koerant my geterg: "Hulle sê 'n slang kan net twee kleure sien - wit en donkerblou. En jou rok is wit en donkerblou."
Sy woorde was nog nie koud nie, toe pyl die dierasie op my af. Asof ek sy/haar nuwe beste vriendin was.
Ek het laat spaander. Sommer glase en drankbottels wat mense langs hul stoele op die grasperk neergesit het, onderstebo gehardloop. Ek het geweet die slang beteken moeilikheid.
Daarná kon ek nie wag om uit hierdie wildernis-slangehel weg te kom nie. Die nagtelike ure was die ergste. Met my wat penorent op my rondawelbedjie sit, elke sintuig op aandag. Die geringste geluidjie het vir my seilerig en sisserig en slangerig geklink. Tot die geratel van ratelslange in die Arizona het my ore bereik.
Uiteindelik was dit dag en kon ek stadswaarts keer, na die beskutting van my woonstel op die elfde verdieping. 'n Slang sou moes seil dat hy bars om my daar te vind. Tensy hy die hysbak kon gebruik.