Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

1.6.15

In die greep van die nul-uur vasgevang

HANLIE SWANEPOEL-VORNBERG skryf: Ek moes tien jaar lank
tweeweekliks vir Rose Rose die rubriek "Doodluiters" skryf.

Die eerste helfte van die tyd was ek heeltyds in die redaksie van die tydskrif en was dit maklik om ´n onderwerp te vind. Ek kon my van die redaktrise, Martie Snyman, en van my kollegas laat inspireer.

Die tweede helfte was ek egter reeds in die buiteland. Ek was jonk getroud en die ma van twee klein kinders. Die rubriek moes daardie jare nog vroegtydig per lugpos gestuur word.

Martie Snyman
Al om die tweede Maandag was dit dan hoog tyd om te begin broei oor die rubriek wat op die laaste Woensdagmiddag Suid-Afrika toe moes gaan. Dan het ek rubriekkoors begin kry.

Die knelpunt was om ´n interessante tema te vind. Jy luister na die nuus, sif deur die koerante, snuffel deur ou tydskrifte en wag vergeefs op ´n skryfbare ingewing.

Indien jy jou huiswerk gedoen het, het jy in die loop van die laaste veertien dae, êrens ´n sinsnede of ´n woord op ´n stuk papier gekrabbel wat dalk tot ´n moontlike idee kon lei.

Meestal was die blaaie van die aantekeningboekie egter bedroewend leeg.

Dit is dan dié tyd wat die Joodse skrywer, Ephraim Kishon , "die tyd van die nul-uur", genoem het.

Jy kon smartlik lank sonder enige ingewing in die greep van die nul-uur vasgevang sit.

Gedurende die twee weke was daar as huisvrou en besige ma, altyd ´n verskoning om NIE te skryf nie.

In die oggend moes jy inkopies doen en huis skoonmaak, twaalfuur moes jy kook en namiddag kom die kinders van die skool af. Saans is jou man tuis en snags moet jy slaap.

Teen Dinsdag strek die dag dan lintwurmlank voor jou uit en jou slegte gewete draf die hele tyd soos 'n skoothondjie agter jou aan.

Jy gaan stap en hoop dat uit die ekstra bloedtoevoer na die brein blink gedagtes gaan spruit.

Die oefening wek eetlus en jy het 'n verskoning om ´n brood te gaan smeer.

Skielik onthou jy dat die potplante droog is.

Jy soek die gieter, gee die plante water, knyp die verlepte blare af, bekyk elke muggie en gogga asof daar ´n ingewing in hulle opgesluit lê.

Dit val jou by dat die kinders se speelgoedkis lank nie opgeruim is nie. Jy raak ontslae van karre met af wiele, gebreekte kryte en maak kleurpotlode skerp.

Dan besluit jy om doodeenvoudig by die tikmasjien te gaan sit en te hoop dat die muse jou genadig is.

Jy maak die venster oop vir vars lug.

Die lessenaar se laaie is deurmekaar. Hulle word reggepak. Die papier word gesorteer en reggeskuif.

Ou manuskripte beland in die snippermandjie, koerantknipsels word deurgesoek, sommige opgegaar vir ´n ander dag wanneer die nul-uur weer aanbreek.

Die gesprek met die tikmasjien bly eensydig.

Die horlosie sê dit is tyd om ´n kind by die skool te gaan haal. Jy kam gou jou hare en trek ´n lipstiffie oor jou mond.

Ook die strate is sonder idees. Die mense groet, maar wil nie gesels nie. Dit is koud en almal wil huis toe gaan.

Dan bel jou man en jy vra of hy nie kan help nie. Hy berispe jou omdat jy nie in die loop van die week deeglik aantekeninge gemaak het nie.

Jy gaan sit weer met die aantekeningboek en blaai ver terug. Jy lees bont hond, afkop, pendoring, garingdun en weet nie meer waaroor dit gaan nie.

Dan sien jy die beskrywings "geskubde kranse" en "korstelige bos" en onthou dit kom uit 'n boek van Brink wat vir jou mooi was.

Jy wens jy was Brink.

´n Middag wat volg op ´n leë môre, bly gewoonlik ´n dorsland. Die aand ook. Dit ondervind jy keer op keer. Breinkinders word meestal vroegoggend gebore.

Die laaste hoop is die aandnuus, miskien ´n program op televisie of ´n droom.

Die een of ander tyd kom dit dan. Die groot ingewing, en jy hamer die tikmasjien dat die byle huil.

Die ongenaakbare tyd van die nul-uur is verby. Tot volgende keer.

Tog ... dit het tien jaar lank altyd weer gewerk!