Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

8.4.15

Sapa se rangskikking om hulp

JOHANN BRITZ skryf: Sapa se heengaan het my herinner aan 'n voorval jare gelede.

My goeie vriend, wyle Con Crous, was hoof van die Sapa-kantoor in Windhoek en was meestal die enigste personeellid wat die hele gebied moes dek. Soms het hy darem tydelike hulp gekry in die gedaante van afgestudeerde kommunikasiestudente van die Rhodes Universiteit.

Ingevolge 'n samewerkingsooreenkoms het ons afskrifte van kopie aan Sapa beskikbaar gestel en het ons van tyd tot tyd spesiale versoeke vir bystand gekry waar Con en sy mense nie kon bykom nie.

So kry ek eendag 'n oproep van 'n mannetjie wat my baie beleefd in Afrikaans met 'n woeste Engelse aksent aanspreek. Con het agterna gebieg hy het die kêrel 'n poets gebak deur hom die dood voor die oë te sweer as hy nie met die beste Afrikaans vorendag kom wanneer hy met my praat nie. Hy moes 'n reëling met my tref vir die lewer van 'n afsonderlike berig oor 'n politieke vergadering wat ek daardie aand sou dek.

Seg die man met die swaar aksent, "Meneer Britz, ek wil graag 'n rangskikking met u maak."

Dit het my 'n oomblik of wat geneem om te besef die arme man het natuurlik arrangement in die woordeboek gaan naslaan en die eerste beste Afrikaanse weergawe gegryp.

• Dit laat my dink aan fotograaf Frank Rosseau van Die Vaderland.  Hy het goeie Afrikaans gepraat, maar was Engelssprekend. Met sy terugkoms van 'n misdaadtoneel het hy aan sy kollegas beskryf wat daar gebeur het.  Hy hou toe sy wysvinger teen sy slaap en vertel dat die een man het die ander man in die verhemelte geskiet het. -- JB.