Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

31.3.15

Reüniegangers klink `n glasie op oom Hermie

PIET EBERSÖHN skryf: `n Sestigtal reüniegangers het vanjaar se kuier, wat weer soos die afgelope aantal jare deur die Perskortrust geborg is, by Forno Italiano in Wilgeheuwel, Johannesburg, bygewoon en die geleentheid benut om `n glasie op Hermie Hendriks te klink wat hoop om binnekort sy 90ste verjaardag te vier.

Harald Pakendorf, gewese redakteur van Oggendblad en Die Vaderland, het die heildronk op oom Hermie ingestel.

Hermie Hendriks
Hy het op laasgenoemde se baanbrekersrol in die Afrikaanse koerantwese gewys asook op die vormende invloed wat hy op die meeste van die aanwesiges se joernalistieke loopbane gehad het.

Harald Pakendorf
Die voorsitter van die reüniekomitee, Hans Lombard, het namens die Perskor-oudgediendes `n eksemplaar van A Newspaper History of South Africa deur John Cameron-Dow aan oom Hermie oorhandig. Al die aanwesiges het dit geteken. Die fotograaf Wessel Oosthuizen het `n eksemplaar van sy boek Portrait of Rugby aan hom geskenk.

Hans Lombard
In sy reaksie het Hendriks benewens die waardering wat hy uitgespreek het, gesê die kuier laat hom sommer voel dat hy terug in die koerantkantoor is.

Die nuwe voorsitter van die Dagbreektrust, Theuns Eloff, afgetrede rektor van die Puk, het die geleentheid bygewoon en die aanwesiges ingelig oor die Trust se doelstellings en werksaamhede.

Die Trust (waarby Die APB-fonds ingelyf is) is ingestel om Afrikaans en die Afrikaanse media te bevorder en sy werksaamhede word in ooreenstemming hiermee bepaal.

Theuns Eloff
Eloff het gesê daar is onlangs indringend gekyk hoe dié doelwit ten beste nagestreef kan word en daar is onder meer tot die slotsom gekom dat tensy die Afrikaanse onderwys gehandhaaf word daar uiteindelik ook nie meer Afrikaanse mediagebruikers oor sal wees nie.

Om dié rede gaan die fonds hom sterk beywer vir die handhawing van die Afrikaanse skole wat al hoe minder word. Daar word in dié opsig ook klem op plattelandse skole gelê waar geld skaarser is.

Fotograaf Wessel Oosthuizen gee vir oom 
Hermie `n eksemplaar van sy pronkrugbyboek 
wat vier kilogram weeg en R3 500 kos.
Daar word eweneens sterk daaraan gedink om weer `n Afrikaanse toneelgeselskap op die been te kry wat, byvoorbeeld, met die Trust se steun `n produksie op die planke kan bring wat al die kunstefeeste besoek, dalk ook weer landwyd kan toer soos in die dae van die Hanekoms en by skole kan optree soos die destydse streekkunsterade gedoen het.

Eloff het die versekering gegee dat die borgskap van die Perskorreünie veilig is en dat die Trust voornemens is om inflasie by die bepaling daarvan in ag te neem.

Dat daar lekker gesmul, gekuier (onder meer op die wyn wat deur Jean Engelbrecht se Rust en Vrede-landgoed geborg is) en diep in die verlede gedelf is, is vanselfsprekend.

•  K'rant plaas more foto's van die reünie.