Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

17.8.12

Willie lê sy eie (wind-)eier in die kêkkelsage oor bevrore hoenderbonusse

WILLIE BUYS skryf: Daar was die afgelope tyd heelwat van ’n figuurlike gefladder in die hoenderhok oor die grandiose gebaar van die destydse Perskorbestuur om die ganse personeelkorps aan die einde van elke jaar te "bederf" met ’n bevrore hoender elk as Kersbonus.

Dit het ’n uiteenlopende gekêkkel aan die gang gesit met diegene wat nie ’n gegewe hoender in die snawel wou pik nie. Hulle was maar tedankbaar
vir ’n gratis Boney M se "hark now hear the angels sing…". Dan was daar die ander soos daardie weergalose spotprenkunstenaar en komediant, wyle Len Lindeque, wat sy bevrore geskenk met ’n sierlike boog deur die lug in ’n Perskorgang laat woer-woer het ná ’n perfekte skepskop.

Ook stoutgat Philip Deetlefs het vroeër berig oor iemand se hoender wat die Kerstafel gemis het. Dié karkas het op een of ander manier agter ’n muurpaneel in die houtgang van Marius Jooste se koningkryk op die derde vloer in die stille nagtelike ure beland. Nodeloos om te sê, het dié iemand se Kersmaal na ’n paar dae ontdooi uit sy staat van gevriesdheid en spoedig ontbind. Die gepaargaande stank het ’n geruime tydjie konsternasie veroorsaak voor dit met groot moeite ontdek en verwyder is.

Die vertellings van Len en Philip was tiperend van wat die meeste redaksielede van die Perskorpublikasies van hierdie sogenaamde bonusse gedink het. Daar was ’n hewige gespottery met dié hoenderkarkasse wat aanvanklik as bonuskalkoene ontstaan het. Dit is toe stelselmatig afgegradeer na hoenders én, het die spotters gehoon, sou eindig in ’n hoendereier namate die Perskorbestuur die "onnodigheid" van sulke "spandabelrigheid" ingesien het.

Die mediamense se "muitery" en spottery moet gesien word in die konteks van wat in daardie stadium van die felle sirkulasiestryd tussen Beeld en Die Transvaler aan die gang was. Dit is beskou as ’n verdere bewys van die Perskorbestuur se minagting van die joernalistieke kultuur wat in botsing was met die geldmaak-kultuur van die destydse konglomeraat.

Ek het ook ’n stink storie te vertel oor hierdie bevrore hoenders. Destyds toe ons nederig in ’n tou moes staan om ons aalmoesies te ontvang, het ek dit toegedraai in koerantpapier, in ’n boks gesit en agter in my motor se kattebak geplaas. Toe is ek vort saam met ander kollegas om die hoenderbonusse, die einde van die jaar en Perskor se “vrygewigheid” te gaan vier.

Saam met my was manne soos Japie Bosch, Buks Pietersen, John Moodie (sub), Gert Coetzee, wyle Jaap Swanepoel, beide Snymans – wyle Johan (Ouboet) en Herman (Kleinboet) – en ek vergeet wie nog by die nie-amptelike bank van Athene, die Griekse bestuur se Peter, Diamond en Parnos se Sans Souci Hotel, van wie laasgenoemde die eienaar was. Namate die likiede verversings ons bloedsomloop oorgeneem het, het die alledaagse dinge soos Kershoenders ’n hersenskim geword.

Lang storie kort: Ek het hoogs gekletterd by die huis aangekom, my staalperd in die motorhuis ingepas, maar nie afgesaal nie. Vroulief was nie baie ingenome met my luidrugtige, onvaste toestand nie – om die waarheid te sê sy was de wetter in en het my ’n onverdraagsame (lees koue) skouer gegooi. Soos die duiwel dit wou hê, was ons die volgende dag (Saterdag) huisgebonde en het ek eers die Sondag die motor uit die versengende Desember-hitte in die motorhuis getrek. Daar is ons begroet deur krioelende maaiers op ’n karkas in gevorderde staat van ontbinding – en, natuurlik, die gepaargaande stank.

Vroulief het op haar beurt dié ongure toneel begroet met geluide wat gewoonlik vereenselwig word deur opwaartse peristaltiese bewegings van die slukderm. En natuurlik het ek die skuld gepak op die Perskorbestuur wat hoenders aan ons afgesmeer het waarvan die raklewe reeds lankal verstryk het! Fluit-fluit (of kêkkel-kêkkel), my stink storie is uit…