Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

7.8.12

Perskor-oorname van die SAUK (of Perskor se eie Groot Trek)

WILLIE BUYS skryf: Dit is die nuus om sewe, gelees deur Riaan Cruywagen, alias Haas Das.Hoofnuus is dat daar sedert die laat jare sewentig en tagtig ’n geleidelike infiltrasie was in die staatsuitsaaier deur die room van Perskor-joernaliste. Dit was ’n bloedlose staatsgreep, maar ’n bloedneus-een vir die eens magtige media-empaaier van Marius Jooste se Perskor.

Ons bring u hierdie skokkende nuus vanuit die Perskor-joernaliste se hoofkwartier in Heightstraat, Doornfontein, Johannesburg. Dit was in die New Doorfontein-Hotel, beter bekend as Vegkop, waar die oorname van die destyds nog SAUK se nuusdienste – aangestook deur etlike en herhaalde rondes likiede verversings – op die rug van ’n Perskor-ineenstorting haarfyn beskinder en beplan is. Die wagwoord by die deur, bewaak deur prostitute en boemelaars, op die weemoedige wysie van Abba se "Mississippi" en Boney M se "’Rivers of Babylon", was "wanhopige ontgogeling". In hierdie saamkomplek van allerlei soorte spesies soos opdrifsels van die gemeenskap en joernaliste, het laasgenoemde dringende reddingsboeie vir sinkende loopbane bekook en het die SAUK soos ’n veilige hawe uitgestaan.

Vegkop is weer ’n onderwerp vir ’n ander dag se storie, maar dit is onder meer waar twee erg aggressief-beskonke prostitute een laataand almal tot aandag geroep het met hul luidkeelse, skril geskellery. Hul hewige argument is afgesluit met die volgende: Flip jou, man!!! van die een en die ander se triomfantelike afsluitings-rapiersteek Flip MY? Flip JOU, man!!! (Flip is natuurlik ’n verleentheidsvervangende skepping om daardie gevoelvolle vierletterwoord te vervang wat alledaags gebruik word om sterk emosie te verwoord.)

Terug na Perskor/SAUK. Laasgenoemde se nuusdiens, veral televisie en radio, het naderhand gekrioel van die mans en vroue wat hul vak by Perskor geleer het. Van hulle het naderhand top-poste daar beklee: afdelingshoofde, uitvoerende regisseurs en senior verslagdoeners het almal op ’n daaglikse basis gehelp om die mankoliekige wiele by die SAUK op spoor te hou.

Van die name wat nou in my geheue opspring, is: Dawid Viljoen (eks-DT); Frikkie van der Walt (eks-DT); Piet du Plessis (eks-DT); Leunis van Rooyen (eks-DV); Joe van Buuren (eks-DT); Peet van Staden (eks-DV/DT); Hennie Venter (eks-DT); André Scheepers (eks-DT); Frans Scheepers (eks-DT); Marius du Plooy (eks-DT) Marius Kleynhans (eks-DT); Martin Jansen (eks-DT); Antonie Richards (eks-DV/DT); Sandy McDonald (eks-DV); Isak Minnaar (eks-DT); Martin Holder (eks-DV); Gert Coetzee (eks-DV/DT); At Viljoen (eks-DV); Amanda Olivier (eks-DT); Leendert en Marie Pieterse (eks-DV/Hoofstad); Foeta Krige (eks-DV/DT); Bosman Swanepoel (eks-Hoofstad); Wilna Matthee (eks-Oggendblad); Marius Bakkes (eks-Oggendblad); Louise Lawrence, destyds Van Straaten (eks-DT); Mac van der Walt (eks-DT); Chris Louw (DV); Ona Viljoen (DT) en les bes Danie Malan (eks-DT), wat later die SAUK se man in Oos-Londen geword het. Om nie te praat nie van die oud-Perskor-gediendes wat by die SAUK se kantore in die Kaap, Pretoria en elders of by verskillende ander radiodienste se nuuskantore ingeval het. Ons hoop om spoedig ook uit hierdie oorde te verneem.

Die ervarings van hierdie mense by ’n hedendaagse transformerende SABC laat partykeer jou hare regop staan. Dit is egter ’n aparte storie wat vir nou ongeskryf gelaat word om mense wat nog in diens van die SABC is, minstens van verleentheid of intimidasie en hoogstens van ontslag te vrywaar.

Diegene wie se name nie op die lysie verskyn nie, maar die Groot Trek beleef het, kan gerus van hulle laat hoor sodat die een en ander bygewerk kan word.