Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

13.8.12

Oud-Hoofstad-joernalis publiseer outobiografiese roman

LUCIA (VAN DEN BERGH) PRINSLOO, gewese verslaggewer van Hoofstad, vertel van haar onlangs gepubliseerde eerstelingboek.

Dankie vir die wonderlike voorreg om so ‘n bietjie te vertel van my boek Kwaheri, my geliefde. Die boek word bemark as ’n outobiografiese roman, wat maar net beteken dat dit my eie verhaal is wat in roman-vorm vertel word. Sedert my dae as joernalis by HOOFSTAD in Pretoria, het my lewe
ver en wye paaie gevolg, en ek het altyd bly droom dat ek uiteindelik weer by joernalistiek sou uitkom.

Om te skryf is mos maar ons almal se passie. Om stories van mense te vertel. Ek het egter later besef my kanse om weer koerantjoernalis te word, of dalk by ’n tydskrif uit te kom, word al hoe skraler, en so het ek besluit die beste ding om te doen is om my eie storie te begin skryf!

Ek het feitlik grootgeword met ’n tas in die hand! My ouers het nooit lank op 'n plek gebly nie - maksimum so drie of vier jaar. Hierdie nomadiese leefstyl het my lewenswyse geword ook nadat ek uit die huis uit is, en ek het (sonder dat ek dit toe besef het) getrou met 'n man wat ook 'n swerwersgees het. My en my man, Dappie, se pad het baie interessante draaie geloop, en ek het besluit dit moet neergepen word ter wille van die nageslag. Maar toe ek begin het, het ek besef hierdie swerwersgees lê baie diep in my gees ingebed, en as ek regtig iets daarvan wil verstaan, sal ek by my voorsate moet begin. Ek moes uitvind hoekom hulle so rusteloos was! En dis waar alles begin het...

Lucia Prinsloo
My verhaal begin aan die voet van die berg Meru in hedendaagse Tanzanië. My pa is in die vyftiger-jare soontoe beroep as die eerste predikant van die Hervormde Kerk in die destydse Tanganjika. Hy is soontoe met my ma, Lucia, en my sussie, Friena (toe 'n paar maande oud). Sak en pak die wildernis in. Daar, in die dorpie Arusha, is my sussie, Elsa, gebore, en het my pa en ma 'n gemeente op die been gebring met absolute passie en entoesiasme. Dit was 'n avontuurlike lewe waarvan safari's, olifantjag, Afrika-misterie en die taal Swahili, deel uitgemaak het. Hulle moes eenvoudig Swahili leer om met die plaaslike mense te kon kommunikeer, en so het die woord Kwaheri deel van hulle alledaagse woordeskat geword. Dit beteken totsiens. Maar nie net totsiens nie. Ook mag dit met jou goed gaan en mooi loop en mag jou reis voorspoedig wees. Later het my ouers Tanganyika verlaat en het my pa 'n plaas gekoop op die walle van die Groot Letaba in die Laeveld. Hierdie plaas se naam was Kwaheri, en so het ons groot geword met hierdie woord as deel van ons familiegeskiedenis. Toe omstandighede in my eie lewe in 2003 sodanig verander het dat my man in Engeland moes gaan werk, en ek en ons vier kinders hier moes agterbly, het ons mekaar elke twee maande op die lughawe gegroet met Kwaheri, my geliefde... Mag jou reis voorspoedig wees.

Mense vra my dikwels hoe ek die navorsing aangepak het en hoe lank dit my geneem het om die boek te skryf. Glo my, dit was ’n BAIE lang en uitgerekte projek!

Kwaheri se buiteblad
In 2002 het ons in Pretoria-Oos gewoon. Ek het my pa op 'n dag gebel (hulle het toe in Pretoria-Noord gewoon) en gevra of ons mekaar kan ontmoet om bietjie oor ons familie se omswerwinge te gesels. Dit was die begin van vier jaar se gereelde afsprake. Een maal per week, so 'n uur lank, het ons iewers tussen Pretoria-Oos en Pretoria-Noord vir 'n koppie koffie ontmoet en op ons spore teruggegaan. Dit was kosbaar, want later het my pa vir my sy diepste hart oopgemaak, en vertel van sy en Ma se drome toe hulle die jong mense was wat op die buiteblad van die boek pryk. En hoe daardie drome nie noodwendig gerealiseer het nie. As kind weet mens nie die goed van jou ouers nie. Jy pak maar in as daar getrek word. Vir jou is die lewe een groot avontuur. Maar wat was hulle diepste begeertes en ideale, en hoe het hulle lewenstyl joune beinvloed? Ek is vandag diep dankbaar vir daardie tyd, want my pa is in 2006 oorlede, en toe het ek genoeg inligting gehad vir my spesifieke doel. Die boek bestaan uit vier dele, en aan die begin van elke deel is daar 'n kaart om die storie in konteks te plaas vir die leser. Daar is ook foto's van die rolspelers. Om dit alles bymekaar te kry was 'n groot poging – veral omdat ons gesin steeds aan die trek en aan die swerf was, en ek op 'n stadium vanuit Engeland moes werk.

Die rooi kol toon Tanzanië
Dit het toe uiteindelik amper tien jaar geneem om te voltooi. Toe ek met die werklike skryfproses begin het, het ek nog glad nie geweet wat die uiteinde van die verhaal gaan wees nie. Ek het reeds vroeër vertel dat my pa 'n gemeente vir die Hervormde Kerk in Tanganjika gaan begin het. Dit was absolute pionierswerk, want daar was niks toe hy daar aangekom het nie. Dit was altyd vir hom die uitdaging – die onbekende. Toe trou ek later met 'n tandarts wat vroeg-vroeg in ons verhouding laat blyk het hy gaan nog later 'n predikant word. Ek het dit aanvanklik nie te ernstig opgeneem nie, maar hy het voet by stuk gehou, die lang studie voltooi, en toe die eerste predikant van die Hervormde Kerk in Jeffreysbaai geword! Dit was ook pionierswerk, want hy was 'n tentmaker – ’n tandarts cum predikant! Nou is ons in die bevoorregte posisie dat ons jongste dogter, Aniena, 'n teologiestudent in haar vyfde jaar aan die UP is. Alhoewel ek dus met my ouers se lewe begin het, loop die boek dan in deel drie oor in my en my gesin se lewe, en eindig in 2010 toe ek en Dappie, my man, teruggekeer het Jeffreysbaai toe, waar ons nou woon en werk.

Die boek het my ook geleentheid gegee om te vertel van my tyd as joernalis. Ek kon eenvoudig nie anders as om te vertel van ‘n berig of twee wat ek geskryf het uit my koerantdae wat ’n diep en onvergeetlike indruk op my gemaak het nie!

Nou ja, om ’n boek te publiseer was vir my ‘n reis op sy eie! Ek het gou agtergekom Kwaheri, my geliefde, pas goed in in ons land se huidige situasie. Dat die boek nogal uiters relevant is! Nog nooit voorheen in ons land se geskiedenis was reis en bestemming so relevant soos juis nou nie. Daar is weinig gesinne wat nie geraak word deur afskeid op lughawens nie. Wat nie familie het wat in ver lande soos Australië, Nieu-Seeland, Kanada Engeland ens. woon en werk nie. So baie mense wat gereeld moet afskeid neem en groet met Kwaheri, my geliefde. Mag jou reis voorspoedig wees. Mag dit met jou goed gaan.

Dan is daar ook tans in Suid-Afrika ’n groot bewuswording van die rol wat ons land en van ons voorsate in die res van Afrika gespeel het. Baie navorsing word tans gedoen en publikasies verskyn oor bv. die dorslandtrekkers wat Angola en Namibië toe getrek het en daar gewoon en gewerk het, asook die geweldige invloed wat Suid-Afrikaners in Tanzanië uitgeoefen het – die mense wat my pa gaan bedien het as predikant. So ook in Kenia, Zimbabwe, Mosambiek – soveel ander lande op hierdie kontinent.

Laastens wil ek tog net sê dat ek besef dit is nooit te laat om te begin skryf nie. Ek was eintlik maar vir ’n bitter kort tydjie ’n joernalis in die ware sin van die woord, maar besef nou mens kan ook maar in jou hart een wees! Ek beplan om nog baie te skryf. Ek is opgewonde oor ’n moontlike volgende boek-projek en baie trots om enigsens deel te kan wees van sulke ervare joernaliste soos jul almal wat op hierdie blad skryf!

(Lucia se pa was die bekende kerk- en kultuurleier ds. Mossie van den Bergh, wat onder meer stigter van Radio Pretoria was. – Red.)