Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.8.12

Gert moes minister "help" toe Biko sterf

Piet Ebersöhn en Stella Niemand skryf: DIS selde dat ’n minister ’n joernalis om raad vra. Hulle skryf koerantmanne eerder voor.

Maar met die swart aktivis Steve Biko se dood in aanhouding in 1977, gebeurde wat wêreldwyd weerklank gevind het, het die destydse minister van polisie, justisie
en gevangenisse, Jimmy Kruger, baie gou vir Gert Swiegers, Die Transvaler se misdaadverslaggewer, gebel op soek na raad oor hoe om dié turksvy in die media te hanteer.
.
Wat Gert se raad was, kan ek nie onthou nie, maar dit het nie die regering se bas gered nie.

Stella Niemand (destyds Fouché) en Gert se lessenaars was teenaan mekaar geskuif in Nieu-Doornfontein en sy het ’n ander storie oor hom en die minister te vertel.

Jimmy Kruger
Steve Biko
“Een middag toe Gert om 14:00 aan diens kom, vol OBS bygesê, het Gert vir Jimmy gebel en kliphard iets gesê soos ′Hallo oom Jimmy, dis lelike ou Gert wat praat′.

″Ek was op die lyn met ds. Attie van der Colff van die Lindense NG Kerk. Dit was maar ’n gesukkel om die dominee mooi te hoor met Gert se harde stem oorkant my. ″Skielik het ek verstar. Gert sê vir Kruger: ’Haai nee, oom Jimmy, jy kan my n**i as ek weet.’

“Ek het dadelik my gesprek met Van der Colff gestaak en vir Willie Buys, toe die nuusredakteur, gaan roep en vertel wat Beertjie kwytgeraak het.

“Willie het die foon by Beertjie geneem en groot om verskoning by die minister gevra. Toe sê Kruger, nee wat, dit pla hom glad nie, dis hoe hy ou Gertjie ken. Amen.”

Stella het hom die bynaam Beertjie gegee “omdat hy nes ’n teddiebeer gelyk het met sy mooi gesig en ronde lyf”.

Sy vertel verder:

“By ’n ander geleentheid, toe nog in Aucklandpark, het ons die oggend tee gedrink. Uit die bloute sê hy: ‘Mense, kom ons n#$%!” Een van die ouer verslaggeefsters het letterlik in haar tee verstik. Sy was uiters geskok en ons jong klomp stoutgatte het weer kliphard gelag. As iemand dit vandag vir my sê, skop ek hom.

“Steeds in Aucklandpark het Beertjie die neiging gehad om al sy ou koerante agter sy stoel op te stapel. Dit het naderhand twee stapels geword wat tot by die vensters van ons hokke gegroei het. Ek het vir Beertjie gesê daar gaan muise en kakkerlakke onder sy stapels koerante uitbroei.

“Wat op ’n dag in my destydse warkoppie ingevaar het, behalwe dat dit my ook grensloos geïrriteer het, kan ek nie onthou nie, maar ek het my aansteker geneem en die koerante aan die brand gesteek. En toe vat die goed wraggies vlam! Ek het saam met die ander jong verslaggewers die brand geblus.

“Jy het net brandsels in die lug sien vlieg. Beertjie was nie eens kwaad nie. Die brand het nie sy OBS in sy onderste laai geraak nie.

“Verder het hy ’n hoofrol as die mafiabaas vertolk in ’n fliek wat Bushie (wyle Johann van Loggerenberg) gemaak het. In dié fliek het ek sy minnares gespeel, hehehe!

“Gert en nog iemand het om hul lewens kaart gespeel binne-in die Braamfonteinspruit by Fontainebleau. Hulle het ’n tafeltjie in die vlak stroompie neergeplak met twee stoele weerskante. Gert was in ’n deftige swart pak geklee. Hy het net sy sokkies en skoene uitgetrek.

“Net ná die verfilming moes hy die seremoniemeester by die troue van vriende wees. Hoe hy dit gedoen het, weet nugter, want die ouens het die hele dag deur gesuip.

“Ons het soveel pret gehad. Beertjie was ’n groot bok vir sports.”

Indien nie die beste nie, was Gert sekerlik die kleurrykste misdaadskrywer wat DT opgelewer het en een van die grootste geeste wat dáár agter ’n tikmasjien ingeskuif het.

Mervyn Rees van die Rand Daily Mail was hoog aangeskryf as voorste misdaadverslaggewer toe Gert, ’n gewese junior diplomaat in Luanda, Angola, dié ronde by DT oorgevat het. Al gou het Rees gedugte teenstand ervaar.

Met tye het Gert se “byline” twee, drie keer per week bo-aan die hoofstorie op bladsy een gepryk. Die meeste van sy stories het ruim skaafwerk nodig gehad – maar hy kon hulle uitsnuffel soos min.

Hy het ’n formidabele kontaknetwerk opgebou. Met sy innemende geaardheid het hy van die minister af tot by die nederigste konstabel om sy pinkie gedraai – en moenie die manne van die onderwêreld weggooi nie. Bowenal was hy ewe op sy gemak in almal se geselskap (behalwe laasgenoemde) en het ’n mens die indruk gekry dat die meeste van hulle geëerd gevoel het om onder Gert se kontakte te tel.

Trilogie
Kollegas se monde het oopgehang toe Gert in ’n enkele telefoongesprek met Kruger (sy eerste) gevorder het van „Goeiemiddag, Meneer die Minister” tot by „my f&#, oom Jimmy”! Gert het sy partytjies geniet, maar was geen ligsinnige mens nie. As hy die klassieke kitaar onder die blad vasknyp, kon ’n mens maar luister. Hy het ook die destydse musiekgroep Trilogie, onder leiding van Jannie du Toit, bestuur.

Van tyd tot tyd het hy ook sy hand aan die digkuns gewaag, maar ek kan nie onthou of hy ooit iets gepubliseer het nie.

Hy het sy eksentrisiteite gehad. Hoewel hy slegs op die eerste verdieping van ’n woonstelgebou in Hillbrow gebly het, het hy daarop aangedring om altyd die hyser, met outydse hekke en al, te gebruik – al was die trappe waarskynlik gouer. Hy betaal vir die gebruik van die hyser, het hy geredeneer!

As misdaadverslaggewer was Gert eintlik maar deel van die nagredaksie. Laat aand, nadat die koerant gesak het, het ons dikwels oorgestap Vegkop toe om die dag se spanning uit die gestel te spoel.

Dan was Gert in sy element met die “Jew box”, soos hy dit bra sinies genoem het, en het sy gunstelinge soos Mississippi en Viva Espana male sonder tal die bedompige atmosfeer opgehelder.

Soms was ons later as gewoonlik en wou Diamond al die deure sluit. Dan het ons maar ’n paar rondes bier aangeskaf en die kroeg is gesluit, terwyl ons onder Zebulon se wakende oog en knopkierie in die sitkamer klaar gekuier het.

Watter groot gees Gert by DT en onder sy kontakte was, word dalk ten beste geïllustreer deur die wye samewerking rondom die reël van sy rampartytjie en trougeskenk toe hy en Estelle besluit het om af te haak.

Die rampartytjie is sommer nadat die koerant in die bed gesit is op kantoor daar in Nieu-Doornfontein gehou.

Toe Gert uiteindelik bes gee en sy kop op die hande lê, is die ambulans ontbied en Gert met loeiende sirene na die lykhuis in Hillbrow afgevoer. Daar is hy sonder seremonie in ’n laai gepak.

Toe hy besef waar hy is, was daar een allesoorheersende behoefte by Gert. Hy moes onmiddellik in ’n stortbad klim. Gelukkig had die lykhuis ’n stortbad en kon hy dadelik stort – sommer so in sy pak klere.

Wat die trougeskenk betref, is besluit om ’n spesiale uitgawe van DT te druk en dit op hul troudag by die kerk uit te deel. Die dominee wou net nie dat dit voor die diens versprei word nie – dan lees die mense die koerant pleks van na sy preek te luister.

Die hele voorblad het uit artikels oor Gert en Estelle bestaan. Willem de Klerk het selfs ’n spesiale hoofartikel vir die uitgawe geskryf. Tot die gereelde Oude Meester-advertensie op DT se voorblad is aangepas met Gert se profiel op die etiket.

Dit het gelei tot een van die beste voorbeelde van samewerking tussen die redaksie en die ander afdelings – veral die opruiming om seker te maak geen spoor word nagelaat nie.

Die plaat is ook aan die bruidspaar geskenk.

Wyle Johann van Loggerenberg het by geleentheid op Perskorhaan vertel van die kontak wat Gert gereeld van die lykhuis af gebel het: “Gert hier het ’n mooi lyk ingekom.”
    Dan het Gert maar ’n bottel “bramfien” saangevat om die grusaamheid beter te kan verduur.