Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.8.12

Die Transvaler-Produksies bied aan "Tarzan" en "Death Card"!

GERT VAN ROOYEN skryf: Nou-ja, hierdie twee films was nooit op die “circuit” nie, maar vir baie Transvaler-redaksielede was dit “meesterstukke” wat nog lank in die geheue blywend sal wees.

Maar eers Tarzan. Laat ek die filmstel skets: Dittonlaan in Aucklandpark, 'n  swembad, twee flossies, Judy Weber en
Stella Fouché, en dan Tarzan. Bushy (Johann van Loggerenberg) het ʼn 8mm-rolprentkamera en daar gaan ons: Ligte, Klank en Aksie! Nou-ja, eers was Joe van Buuren die woudman. Hy moet vir die een flossie Lettie (Judy) red, maar sy word ontvoer. Midde-in die ontvoeringsdrama trek Joe kleinkoppie en ek neem die rol van Tarzan oor.

Hierdie Tarzan is egter ʼn bietjie skaam en hang-swaai aan sy tou. Maar, toe ʼn krokodil vir die een flossie in die “rivier” (dáárdie swembad)

Links:   Gert Swiegers, Stella (destyds Fouché) en Bushy (Johann van Loggerenberg).

wil opvreet is dit kaplaks! – Tarzan gaan red haar uit die dierasie se kake. Hy baklei met die ongedierte dat die water spat, Bushy se kamera rol en regisseur Joe (van Buuren) skreeu bevele uit. Tarzan het die krokodil oorwin, maar is nou eers moeg en dors en trek ʼn Black Label nader.


“Tarzan” was ʼn reuse-sukses en vervaardiger Johann van Loggerenberg beplan sommer dadelik ʼn volgende rolprent – ʼn Perskor-agtige Mafia film wat die hare gaan laat rys – Death Card!

Dit is hierdie keer Gert Swiegers en ekke. Ek is Don Spaghetti en Gert Don Ravioli. Swiegers is die gesofistikeerde Don, maar ʼn regte “baddie”

Links:  Gert van Rooyen links. Dis Joe van Buuren en Alwyn Strydon wat baklei.

en ek die goeie ou (vet weet hoekom), maar ʼn slonskous. Die openingstoneel is ʼn bankroof deur Spaghetti se manne in Ravioli se “territory”. Die twee Don's baklei oor hul gebied – Spaghetti wil Ravioli se gebied (Die Sans Souci) goedsmoeds inpalm, maar Ravioli sê aikona, hy’s myne!

Die twee Don's beraadslag met hul “hitmen”, André de Kock en Alwyn Strydom (Spaghetti s’n) en Joe en Bushy (Ravioli s’n). Een van die tonele is nogal een Sondag in prof. Wimpie se kantoor geskiet. Don Spaghetti sit daar agter dáárdie lessenaar, sy vuil voete op die tafel en rook dik, vet sigare. Elkers klap hy sy handlangers, want dié weet nie altyd of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie.

Ravioli, daarenteen, is statig, getooi in ʼn pak klere. Hy rook net Havanas en drink likeurbrandewyn. Handlanger Bushy hou wag met ’n skietding in die hand!

Die slottoneel was een van daardie juwele. Bushy stel voor die Braamfonteinspruit in Bordeaux, waar ek, Danie Malan en Joe ʼn woonstel gedeel

Links: Joe (links), Gert van Rooyen, Gert Swiegers en Bushy.

het. Nouja, so gesê, so gedaan. ʼn Tafeltjie met twee stoele word in die middel van die spruit (wat baie water gehad het!) neergesit en die Don's gaan kaart speel oor wie kry wie se gebied. Hul flossies (Stella Ravioli s’n en Rina Buitendag Spaghetti s’n) hang om hulle en die handlangers begin met mekaar te baklei. Bushy skiet dat dit klap en die Don's raak al meer gekletter, want sien, iemand het besluit ʼn Don moet darem ʼn "bramfientjie " byderhand hê as daar soveel op die spel is!

Nodeloos om te se, die slottoneel het natterig en in chaos geëindig! Ander akteurs en aktrises was Danie en Lala Wahl en André Pienaar. Goeie ou dae, wat ʼn mens laat wonder hoekom het dit ooit opgehou?