Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

28.8.12

Joernalistiek is in sy bloed

BENNIE NEETHLING, was 'n jarelange Perskorjoernalis en later redakteur van die Noordelike Stem op Kroonstad. Tharine Geldenhuys, redakteur van Kroonnuus, het ná sy aftrede meegaande artikel oor hom in Kroonnuus geskryf.

Bennie Neethling, ’n bekende naam wat waarskynlik meer as ’n miljoen keer op koerantpapier gepubliseer is.

’n Naam wat aan ander name erkenning gegee het.

Vandag is dit sý beurt om erkenning te kry.

Bennie is ’n Noord-Vrystater in murg en been. In sy grootwordjare het hy matriek in 1954 aan die Hoërskool Heilbron voltooi en toe aan Tuks (Universiteit van Pretoria) so ’n bietjie “tyd gemors”. Dit is eers in die 1960’s dat die skryfgogga Bennie gebyt het.

“ ’n Vriend, Johan Kruger, was verslaggewer by Die Transvaler en van toe af het ek vir meer as 40 jaar in die koerantwese my voete gevind, die kinderskoene van skryf aangetrek en in 1999 die inkpot met my aftrede eenkant toe geskuif,” vertel Bennie. Sy joernalistieke loopbaan het hom in sy jongmansjare na Pietersburg by Die Noord-Transvaler, toe op Witbank by Die Oos-Transvaler en in 1978 as redakteur by die Noordelike Stem (in die volksmond as die Times bekend) op Kroonstad die leisels geneem.

Dit is op Kroonstad waar hy wil bly en hom besig hou met skryf, die kunste, ’n uitgebreide messeversameling, antieke versamelstukke, stapels gebinde koerante onder sy redakteurskap uitgegee en sy hond se daaglikse staproetine.


Ink vloei in dié koerantman se are. By die destydse Noordelike Stem was die stil, presiese linkerbreinman (heeltemal die teenoorgestelde van joernaliste wat onder hom gewerk het) betrokke by letterlik alles om ’n Stem op straat te kry.

Links: Bennie in sy unieke haarkapperstoel wat hy as televisiestoel benut. Hy hou ’n olieverfskildery was waarop hy besonder trots is en wat ‘nie te koop is nie’. Foto: Tharine Geldenhuys 

 “Ons het by Perskor in Murraystraat die foto’s ontwikkel en afdrukke gemaak, vakmanne gehelp om plate op te maak en op ’n eenvoudige Olivetti die wel en weë van Kroonstad en die omgewing met twee of drie vingers getik.”

In die ou dae is ’n berig deur die verslaggewer op die Olivetti, waarmee hy terloops ná sy aftrede weggedoen het, getik, waarna dit na die setter gestuur is om oorgetik te word. Dié setter se setmasjien het alles in spieëlbeeld oorgetik.

Die setmasjiene het die letters in lood geset en die letters en prente is in rame geplaas, vasgebout en na die rolpers gestuur. “Min mense besef hoeveel moeite gedoen is om destyds ’n koerant tot in die leser se hande te voltooi.”

Die destydse Perskor het gehelp om die geskiedenis op Kroonstad te vergestalt. In die middel 1990’s is dié groep deur Naspers oorgekoop. Noordelike Stem het vir ’n paar jaar onder die Naspers-vaandel as verkoopte koerant op Kroonstad voortgegaan, maar ’n sakebesluit is destyds geneem om die koerant te sluit.

’n Tipiese joernalistieke vraag: Wat is jou hoogtepunte in jou joernalistieke loopbaan? Eenvoudig: “Ek is gevra om ’n private familiefoto van wyle staatspresident C.R. Swart te neem en het skouers met dr. Hendrik Verwoerd, eerste minister van die ou Suid-Afrika, geskuur.”

Elke joernalis het iewers ’n onvergeetlike blaps gemaak of snaakse onthougeleentheid beleef. Watter fout of snaakse voorval het gesoute Bennie Neethling in sy 40 jaar in die koerantbedryf begaan?

“Destyds, by die Transvaler, moes ek en ’n kollega ’n FM-toring by die Hartbeespoortdam gaan afneem.

“Dit was ’n gedoente om op ’n plank met ’n kabelkarretjie die toring te bestyg. “Ons het ’n toelae vir iets te ete gekry, maar ek het dié toelae gebruik om my kamerasak met koue bier vir die dag se uitstappie vol te pak.

“Soos die noodlot dit wou hê, glip my kamerasak etlike meters bokant die grond van my skouer af. Die botteltjies bier het gebreek en die lafenis het die wêreld vol uitgeloop – tot kopsakskaamte van my en my kollega toe die mense van die toring alles wou doen om te red wat te redde is.”

Bennie het ’n bedrewe hand met ’n kwas en die allermooiste skilderye hang in sy kinders se huise. “Ek is te suinig om enige van die kunswerke te verkoop.”

Talle Kroonstadters spog met gepubliseerde sketse van hul bedrywighede in Kroonstad se bloeitydperk. Die realistiese sketse van veral mans se gesigte is iets waarby dié woordekunstenaar én talentvolle spotprenttekenaar sy naam met trots kon teken.

Die agterstevoor Mercedes-Benz-wieldophorlosie met die woorde “Oudword – nee, sit die tyd net in trurat” kan met reg van toepassing op Bennie Neethling gemaak word – dié stil weergawe van ’n gesoute joernalis.