Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

6.8.12

Raaksê-opskrifte

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: So van raaksê-opskrifte gepraat – Een van die treffendes was destyds gepleeg deur die oorlé Rand Daily Mail met die inwyding van die Verwoerddam. Dit het mooitjies begin oorloop met die luisterryke plegtigheid en die opskrif was heel gepas: The dam that rose to the occasion.

Wyle Johann van Loggerenberg het destyds op Perskorhaan verwys na ‘n berig oor Russiese skoene wat van so‘n swak gehalte was dat die sole binne enkele weke deurgeloop is: Die sool is die kous nie werd nie.

Waarop Piet Roos laat weet het van ‘n storie dat Penny Coelen, die mooi enetjie, ‘n mak paddatjie gehad het en net voor die Mej. Wêreldwedstryd word die padda deur ‘n slang opgevreet: Slang pik Penny se padda.

En wyle Hannes Cilliers aan dié een herinner het: Karen Muir swem dat die stof so staan.

Piet Ebersöhn onthou ‘n berig in Beeld toe die Wes-Transvaalse o.20-rugbyafrigter, Schalk Hoogenboezem, ontevrede was omdat sy heelagter, Jannie Tiedt, vir die bond se senior span gekies is: Hoogenboezem suur oor Tiedt.

Hoogenbozem het self heelagter vir Wes-Transvaal gespeel. Verder was hy die eienaar van die Potchefstroom Herald en ‘'n paar ander streekkoerante wat hy aan Nasionale Pers verkoop het. Hy was ook die Voorsitter van die Gemeenskapspersvereniging toe die KWV-pryse vir Ondernemende Joernalistiek vir die Gemeenskapspers in 1983 ingestel is.

Hoogenboezem is spottenderwys “Schalk Hightits” genoem. Hy was 'n baie gemoedelike mens en 'n ware karakter in die joernalistiek.

• Lesers word genooi om nog voorbeelde van Raaksê-opskrifte te stuur.