Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

29.8.12

"Goeiemore, meneer"

JOHAN VAN WYK skryf: Johan (Essie) Esterhuizen en ek het mekaar 43 (!) jaar gelede in ‘n eerstejaarskamer in Dawie Dup op die Puk raakgedrink.

Ons is in die sewentigs Hoofstad se sportkantoor toe, waar ‘n tiran genaamd Neil Steyn ons sowat als van sportskryf af geleer het.

Daarvandaan is ons ook saam-saam Transvaler in Johannesburg toe, waar
John (“Gooi die imprint op die agterblad uit, Diggers moet in!”), Gert (“Ek wonder wat doen die arm mense nou”) Kotzé en Peet (“Jack Nicklaus was truly great, het jy geweet?”) van Staden ons sportredakteurs was.

Johan Esterhuizen
In die tagtigs is ek Rapport-Sport toe waar Phil (“Ons volk gaan ten gronde weens ‘n gebrek aan kennis”) Zaayman baas was. Essie het in die negentigs dieselfde pad geloop. Ek vier vanjaar my 31e veelbewoë Rapport-jaar; Essie het intussen uitgetree en doen nou sy ding in Rustenburg.

Ewenwel, ek kan baie staaltjies oor Essie vertel, maar dié een is vir my nogal besonders: Ons twee stap eendag in die gang op die Perskorgebou in Doornfontein se eerste verdieping op pad sportkantoor toe.

Van voor af kom ‘n redelik groot en gesette man met spierwit hare. Toe hy langs ons is, sê Essie: “Goeie môre, meneer.”

Ek wonder toe wie dié kennis is en vra vir Essie: “Wie’s dit?”

Waarop Essie verbaas vra: “Jo, wil jy vir my sê jy ken nie meneer Jooste nie?” Die “meneer” was toe Koos van Staden…

(Koos was finanisiële redakteur van Die Vaderland. -- Red.)