Hillbrow was doerie jare soveel van ons se tuiste en speelplek. Maureen Swart dink ook met groot nostalgie terug aan die “goeie” ou dae in Hillbrow. Sy het deeglik navorsing oor die Brow gedoen en deel dit met ons oor drie aflewerings. Vandag is die eerste hoofstuk. Terloops, die verwysingsbronne kom aan die einde van die laaste aflewering.
Hillbrow met al sy nostalgie herroep
MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Spyt kom altyd te laat. Dit besef ek vir die ontelbaarste keer in my lewe toe ek 'n foto van die Berea‐brandweerstasie op Google sien. Op die hoek van Mitchell‐ en Banketstraat, en op die grens tussen Berea en Hillbrow, staan hierdie brandweerstasie.
Terwyl ek in Hillbrow gewoon het ‐‐ 'n sug van nostalgie ‐‐ was dié gebou dikwels op my staproete vir oefening, baie lank voordat Fitbits die lewenslig aanskou het. Dan het ek met die onkundige ongeërgdheid van 'n jongmens gedink: "Cute" plekkie; dit lyk soos 'n pophuis. Min wetende dat dit inderdaad Die Pophuis genoem word, omdat die boustyl dit die voorkoms van 'n pophuis gee. Eers 'n leeftyd later het ek geleer ('n mens is nooit te oud om te leer nie) dat die boustyl nogal 'n mondvol is: Neo‐barok‐Edwardiaans.)
Nou hoe pas spytigheid in die prentjie?: