Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

11.6.18

Nimmereindigende liefde

JAPIE BOSCH skryf: In die vroeë 1970’s was SP Barnard een van die kleurryke Nasionale Party-stadsraadslede in Johannesburg. Sjarmant, ondeund en uitdagend in sy toesprake en ‘n suksesvolle sakeman.

Dié week het van sy manewales my bygeval toe ek op Google op ‘n liedjie afkom wat my aan hom herinner het.

Daardie tyd was Johannesburg al jare lank deur die Verenigde Party regeer. Barnard het g’n liefde vir hulle gehad nie. Hy het dit veral tydens raadsvergaderings gewys.

Illustrasie
Die gebruik was dat as ‘n raadslid ‘n raadsvergadering binnekom of verlaat, hy vir die burgemeester moes buig. Vir Barnard was dit ‘n verpestelike ding. Maar hy moes die reëls nakom. Waar ander raadslede hul rûe darem so 30 of wat grade laat sak en met waardigheid regop gekom het, het Barnard sy rug met net een graad gebuig.

Barnard kon mense om sy pinkie draai. Hy het ‘n wyk in die suide van Johannesburg verteenwoordig. Ek onthou tydens ‘n munisipale verkiesing in omtrent 1972 hoe hy mense by die stembus verwelkom het. Dan en wan, as ‘n vrou (mooi of nie mooi nie) daar aangekom het, het hy sy hande saamgeslaan en dan ewe verbaas gesê: “Ek kan dit nie glo nie, mej Suid-Afika in eie persoon!”. Alle oë was dan op haar en Barnard het haar NP-tafels toe begelei.

In dieselfde tyd was daar ‘n liedjie, “Never ending song of love”, van die New
Seekers op die treffersparade. Die deuntjie was nogal aansteeklik met ‘n lekker ritme. Barnard was dol daaroor.

Tydens sy veldtog in ‘n munisipale verkiesing het Barnard ‘n plan bedink om sy naam op almal se lippe te kry. Hy het ‘n orkes en sangers van plaaslik jong mense in sy wyk bymekaar gekry en dié liedjie laat opneem. Barnard het ‘n paar honderd solusseweplate daarvan laat maak. Dit het ‘n etiket met ‘n bietjie inligting oor hom en die verkiesing daarop gehad en is in ‘n omslag geplaas. Dié verkiesingsfoefie het hom wye reklame in al wat ‘n koerant is, besorg.

n Video van die lied is HIER.
Maar voordat die musiek begin speel het, het Barnard eers kortliks verduidelik hoe sleg die Sappe is, dat hy nie sal toelaat dat sy wyk agteruitgaan nie, want hy gee om vir sy mense. Dan verklaar hy dat hy die lied aan die kiesers van sy wyk opdra.

Die woorde is onder meer: 
I've got a never ending love for you
From now on, that's all I want to do
From the first time we met I knew
I'd have a never ending love for you.

Barnard en sy werwers het die plaat van huis na huis versprei. Musikaal en klankgewys was dit nie van die beste gehalte nie, maar Barnard het sy naam gevestig. Die plaat was selfs in aanvraag.

Hy het die verkiesing gerieflik gewen.