Hillbrow met al sy nostalgie herroep
MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Spyt kom altyd te laat. Dit besef ek vir die ontelbaarste keer in my lewe toe ek 'n foto van die Berea‐brandweerstasie op Google sien. Op die hoek van Mitchell‐ en Banketstraat, en op die grens tussen Berea en Hillbrow, staan hierdie brandweerstasie.
Terwyl ek in Hillbrow gewoon het ‐‐ 'n sug van nostalgie ‐‐ was dié gebou dikwels op my staproete vir oefening, baie lank voordat Fitbits die lewenslig aanskou het. Dan het ek met die onkundige ongeërgdheid van 'n jongmens gedink: "Cute" plekkie; dit lyk soos 'n pophuis. Min wetende dat dit inderdaad Die Pophuis genoem word, omdat die boustyl dit die voorkoms van 'n pophuis gee. Eers 'n leeftyd later het ek geleer ('n mens is nooit te oud om te leer nie) dat die boustyl nogal 'n mondvol is: Neo‐barok‐Edwardiaans.)
Nou hoe pas spytigheid in die prentjie?:
⦁ Ek voel spyt, omdat ek nie met 'n noukeuriger en meer waarderende oog na dinge gekyk het toe ek in Hillbrow gewoon het nie. Ek het gesien, maar ook nie gesien nie; as't ware met oogklappe rondbeweeg.
⦁ Spyt, omdat ek naïef geglo het dat alles altyd dieselfde sou bly en nie 'n dagboek gehou het waarin ek my indrukke neergepen het toe alles nog "in lewende lywe" was nie. Maar watter jongmens ken tog die woorde: "Ek kan nie meer onthou nie?" (As ons toe al selfone gehad het, kon ek sommer op die daad foto's ook geneem het.)
⦁ Spyt, omdat ek Hillbrow se sypaadjies platgeloop het sonder om vir 'n oomblik te wonder hoe dit gebeur het dat al die staal en beton juis hier ‐‐ in 'n voorstad wat nie net 'n plek vir pret en jolyt was nie, maar vir baie van ons 'n veilige tuiste gebied het ‐‐ kom wortelskiet het?
Die driehoekige stuk uitvalgrond. |
Hillbrow is op 'n driehoekige stuk staatsgrond geleë, ook genoem "uitvalgrond," *1) tussen die plase Braamfontein (wes), Doornfontein (oos) en Turffontein (suid).
"Uitvalgrond?" Vir 'n verdwaasde oomblik het ek gedink dat dit iets met ontstoke boere te doen het, wat 'n uitval oor 'n stuk grond gehad het. Maar toe nou nie. Die ding is, daardie jare het boere tydelik hul plaasgrense met hopies witgekalkte klippe aangedui, terwyl hulle vir 'n landmeter gewag het om die permanente grense amptelik af te baken. In sommige gevalle het die grense oorvleuel en soms was daar groot gapings tussen‐in. Hierdie gapings was bekend as uitvalgrond of oortollige land en het aan die staat behoort.
Op 'n tyd het boere hul neuse vir 'n groot deel van dié grond opgetrek. |
Hillbrow beslaan die bopunt (noordelike deel) van die driehoek en op 13 Julie 1893 het die hof beslis dat die grond as afgepende myngrond (kleims) aan 'n man met die naam, J Nicholls behoort.*2) Hy het dit dadelik aan Transvaal Mortgage, Loan & Finance verkoop en in 1895 is die gebied noord van Pretoriastraat en oos van Banketstraat in erwe uitgelê, wat opgeveil is. Vandag beslaan Hillbrow die gebied tot by Wolmaransstraat. (Banketstraat is een van die Hillbrow‐strate met goudmynname. Die ander is Claim, Quartz en Nugget.)
Bruce- en Quartzstraat kruis hier. |
Tydens my verblyf in die woonstelle het daar in een van hierdie winkeltjies se agterplaas 'n (onsigbare) hond gewoon, en êrens elders in die buurt was daar nog 'n (onsigbare) hond; waarskynlik die enigste honde in Hillbrow. Maar hulle was erger as al die honde in wyle Al Debbo se liedjie, 'Die Brakke van Turffontein' saam, want snags het hierdie twee vir mekaar geblaf dat die wolkekrabbers antwoord gee. My dééglik uit die slaap gehou. Toe het ek sommer ook uitgevind hoe hoog en hoe ver klank kan trek, want ek was op die elfde verdieping.