
Een oggend kry ek met 'n beriggie te doen wat wemel van die Engelse woord, "maritime." Dit was"maritime" voor en "maritime" agter. Al te verskriklik.

Boeta! Waar was my kop?! Want in die subkantoor was direkte vertalings omtrent so welkom soos 'n muishond in 'n parfuumwinkel.
Ek wis egter van g'n sout of water nie. Handig ewe trots my stukkie werk in en gaan doodluiters met die res van die vertalings voort. Dit was eers toe 'n sub -- ek kan nie meer onthou wie hy was nie, en ek was in elk geval vir hulle almal ewe lugtig -- met die geluidloosheid van 'n wolk wat voor die son inskuif, skielik langs my lessenaar kom staan en my die Leviete voorlees, dat ek my fout agtergekom het. En net daar het die wolkie voor die son in 'n donker stormwolk verander wat die res van my dag kom verfoes het.
Laat ek darem net byvoeg: die sub was nie rêrig so vreeslik goor met my nie; dit het meer daaroor gegaan dat ek tot in murg en siel gegrief gevoel het oor die onregverdigheid daarvan dat ek gekapittel was oor 'n woord, wat op swart en wit in die woordeboek gestaan het. Eisj!
Gert skryf van wraakgedagtes teenoor die subs. Nou ja, ek kan nie onthou of ek enige wraakgierige neigings gehad het nie, maar indien wel, sou die wraak soet gewees het. Soeter as die stroopsoetste turksvye in die Oos-Kaap.

Gerieflikheidshalwe het ek egter my oë gesluit vir die feit dat tye verander het en dat die verlede en hede van mekaar verskil soos 'n donkiekar en 'n hommeltuig. Wat jare gelede mense sou laat frons of na vlugsout sou laat gryp, is nou aan die orde van die dag. Dieselfde geld seker maar vir taalreëls. Nietemin was my "oorwinning" van soete aard.