Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

22.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel II van III)

Perskebome het op Hillbrow se sypaadjies gegroei

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: Een van die eerste huise wat in Hillbrow gebou is,*3) was in Van der Merwestraat, tussen Quartz‐ en Claimstraat. Die eienaar was RJ Nicholas. Die huise het tuine/tuintjies gehad en vreemd soos dit nou mag klink, was daar toeka se tyd glo perskebome langs die Brow se strate. Daar was ook die dae van stowwerige grondpaaie in 'n tyd toe Johannesburg se eerste openbare vervoermiddel trems was, wat deur perde getrek is. Twiststraat was deel van die roete. (Oor die stegies en nagwaens sal ek liewer swyg.) Die bome is hoeka al deur beton en die mens verswelg, maar een van die eerste ou huise ‐‐ op die hoek van Van der Merwe‐ en Quartzstraat ‐‐ klou nog aan die lewe vas. Ek het byna elke dag daar verbygeloop, maar dié arme ou plekkie is nou al erg opgekrok. Onder vervloë dae se Hillbrow‐inwoners was bekende name:

Een van die eerste ou huise in Hillbrow ‐‐ op die hoek van Van der Merwe‐ 
en Quartzstraat ‐‐ klou nog aan die lewe vas.

a) Die eerste landdros van Johannesburg, wat ook die eerste mynkommissaris
van die Witwatersrand was, kaptein Carl von Brandis (1827‐1903), het 'n huis op die noordwestelike hoek van Twist‐ en Pietersenstraat laat bou. (Een straatblok noord van die huidige Fontana). Die huis was as Hanover Haus bekend en kaptein von Brandis is ook hier oorlede. In 1952 is die huis deur 'n blok woonstelle, genaamd Cresthill Mansions, vervang. Die Mansions se boustyl is ietwat Brasiliaans, 'n styl wat ná die Tweede Wêreld‐oorlog oral in Hillbrow kop uitgesteek het. Trouens, in 'n stadium is Hillbrow ook "Klein Brasilië" genoem en ja, 'n tikkie "Rio" is weliswaar in die vrolike reënboogkleure (nie almal in die spektrum nie) van die gebou se buitemure te sien. Pers, blou, pienk, geel, oranje, rooi. Soms word daar na Cresthill as Von Brandis Heights of die Von Brandis‐gebou verwys.

Cresthill Mansions
(Net soos wat Cresthill Mansions tans aan Friedenskirche (Kerk van Vrede) grens, het Hanover Haus ook langs die kerk gestaan. Op 'n Google‐foto van die huis kan 'n mens duidelik 'n gedeelte van die kerkgebou sien. Dié ouwêreldse kerkie ‐‐ ook as die Hillbrow‐Lutherse Kerk bekend ‐‐ is in 1912 opgerig om die Duitssprekendes in die omgewing te bedien. Mettertyd het hierdie gemeentetal egter gekrimp en hoewel daar steeds Sondae dienste gelewer word (in Engels en Duits), word daar ook 'n uitreikprogram vanaf die perseel aangebied. Die kerk is 'n nasionale monument. Die ander Hillbrow‐kerk uit toeka se tyd is Christ Church in Carolinestraat. Dit dateer uit 1908 en hier word ook uitreikprogramme aangebied.)

b) Eric Rosenthal (1905‐1983), joernalis, skrywer, radiopersoonlikheid en geskiedkundige, het in 'n stadium gedurende sy kinderjare in Kotzestraat gewoon. Nommer 77. Sy suster, Juliet Marais Louw (1910‐2001), ook van skrywersfaam, noem in haar boek, 'When Johannesburg and I Were Young,' dat die straat 'n entjie verder na die oostekant toe in gras, Transvaalse suikerbos en rotse geëindig het. Kotzestraat 77 is tans 'n woonstelgebou, Tapley Mansions, met winkeltjies op straatvlak.

c) Om en by 1898 het Generaal Jan Smuts (1870‐1950) 'n huis op die hoek van Twist‐ en Kotzestraat gehuur. Later het dit 'n apteek geword met die naam, Fred Ingram ‐‐ einste van die velroomfaam ‐‐ en die gebou het as Ingram's Corner bekend geword. Die resep vir die room is uitgevind deur 'n Duitse apteker, Hans Rose, wat in 1937 in Suid‐Afrika aangekom het. Hy het die resep aan Len Tannenbaum, bekend as Long Len, geskenk. Long Len het die Fred Ingram‐apteek bestuur en hy was een van die Tannenbaum‐broers, aanvanklike eienaars van die farmaseutiese reus, Adcock Ingram.

In 1951 het die oorspronklike Ingram's Corner plek gemaak vir 'n nuwe gebou met dieselfde naam. Die argitekte was Cowin & Ellis en die gebou is onwerp vir lede van die mediese beroep wat ná aktiewe oorlogsdiens teruggekeer het. Dit het bestaan uit mediese suites, asook 'n verpleeginrigting. Ter ere van die medici in oorlogstyd, is 'n beeldhouwerk ('Jong Gode In Smarthouding') deur die beeldhouer, Willem de Sanderes Hendrikz (1910‐1959), hoog op die muur bokant die ingang in Twiststraat geplaas. Later het die Café De Paris op die eerste verdieping geopen, maar al wat nou van hierdie gewilde restaurant oorgebly het, is sy bekende balkonreling met die Eiffeltoring‐motief. Op straatvlak is daar deesdae klerewinkels, handelsbanke en 'n plek vir wegneem‐"flame grilled chicken." Volgens eiendomsadvertensies is die gebou in 2016 herontwikkel en dit sluit 100+ woonstelle in. Die Ingram‐gebou is op die lys van Johannesburg se erfenisgeboue.

Een van Suid-Afrika se mooiste geboue, weggsteek in Hillbrow --
Die SA Instituut vir Mediese Navorsing in De Kortestraat.
(Bogenoemde balkonreling is moontlik die enigste oorblywende teken ‐‐ 'n soort
voetspoor ‐‐ van die baie Cafés, wat eens so eie aan Hillbrow was. En almal van ons wat die Brow geken het, sal seker nooit vergeet dat die Café Zürich, bekend vir sy Swartwoudkoek, in die laat tagtigtigerjare deur 'n bomontploffing vernietig is nie.)

Aangesien Hillbrow op 'n hoogte lê, bokant die destydse stowwerige delwerskampe, het die stadsvaders van weleer gereken dat die lug hier in die Brow (word ook Hillies genoem) skoon en gesond was en dat dit dus nét die plek was om 'n "behoorlike" hospitaal te bou. Want Johannesburg se heel eerste hospitaal was deel van die tronk in Commissionerstraat en die pasiënte was sommer deur tronkbewaarders verpleeg. (Dan praat ons van die "goeie ou dae.") Sodoende het Johannesburg se eerste rêrige hospitaal ‐‐ bekend as die Johannesburgse Algemene Hospitaal ‐‐ in 1890 in Hillbrow tot stand gekom. Later is die hospitaal na Hillbrow‐hospitaal herdoop en tans heet dit die Hillbrow‐gesondheidsgebied. Op sy dag het Hillbrow van hospitale, klinieke, apteke en ander mediese geboue gewemel, wat deel van hierdie voorstad se eiesoortige karakter was. Een van dié geboue is die wêreldbekende Suid‐Afrikaanse Instituut vir Mediese Navorsing, wat in 1912 gebou is.

Joubertpark het eens 'n blommehorlosie gehad.
Hillbrow is ook die plek waar Johannesburg se eerste munisipale park, Joubertpark, aangelê is, vernoem na die Boere‐oorlog‐held, kommandant‐generaal PJ (Piet) Joubert (1831‐1900.) Dit is in 1892*4) as 'n tipiese Victoriaans park uitgelê en die eerste parkbewaarder was 'n bekende tuinboukundige, genaamd Richard W Adlam (1853‐1903). Bome soos eikebome, dennebome en sipresse is aangeplant en later is 'n kweekhuis opgerig, waar daar, onder andere, papirusplante gekweek is. In die park was daar was ook: 'n Ornamentele fontein; 'n visdam met goudvissies, wat elke dag deur besoekende kindertjies gevoer is; roostuine; 'n (werkende) horlosie in die vorm van 'n blombedding; grasperke; wandelpaadjies en bankies, waarvan daar teen 1898 reeds 150 was. Hierdie sitplekke was mega‐gewild, veral naby die "band stand," waar daar Woensdae orkeste opgetree het.

Johannesburg se wêreldbekende
kunsmuseum in Joubertpark.
In 1915 het die Johannesburgse Kunsgalery (later wêreldbekend) daar geopen. In die sestigerjare is 'n semi‐opelugteater gebou en 'n reuseskaakbord in die park uitgelê. (Ek moes op 'n keer saam met die dierbare Willie Havenga as fotograaf 'n storie oor die skaakbord doen.) Nou is die blom‐horlosie en visdam iets van die verlede; die fontein is 'n moderne ontwerp, wat nie meer water uitspuit nie en baie van die kweekhuis se ruite is/was stukkend. Maar wag! Daar is darem 'n silwer randjie: Die kunsgalery is nog daar, en die skaakbord, asook die stokou bome en oorspronklike hekke van gegote yster. Daar is steeds tuiniers wat die park versorg en hoewel misdaad in die park volop is, is dit veilig genoeg om dit as deel van 'n groep te besoek; of so hoor ek.) Eens op 'n tyd was Joubertpark wyd en syd vir liggies en Kersliedere oor Kerstyd bekend. (Nog iets vir my spyt‐kom‐te‐laat‐lysie: Dat ek die park gans te min besoek het toe ek in Hillbrow gewoon het.)