Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

23.8.18

Hillbrow ontbeen (Deel III van III)

Hillbrow se brandweer was eerste in Goudstad 

MAUREEN (HEYL) SWART skryf: In Johannesburg se beginjare was die uitbreek van brande 'n yslike kopsorg, want hoewel die Goudstad al vanaf 1889 elektrisiteit gehad het, is paraffienlampe vir beligting gebruik. Boonop was die boumateriaal in die delwerskampe hoogs vlambaar ‐‐ hout, grasdakke, seil. (Vir vertroosting en versterking was daar whiskey; vlambaar in meer as een opsig.) Brandweerstasies moes gebou word en een van die eerstes was die Berea‐brandweerstasie, wat in 1910 opgerig is. Sy amptelike naam was eers die Noordelike Distrikte‐brandweerstasie Hillbrow, maar die Hillbrowiete het dit die Hillbrow‐brandweerstasie genoem. Aanvanklik is brandweerwaens deur 'n span perde getrek. Die Pophuis is die oudste funksionerede brandweerstasie in Jozi en is in 2011 tot nasionale monument verklaar.

Die Pophuis-brandweerstasie.
(Ons sê soms dat iemand nie net 'n mooi gesiggie is nie. Nou ja, Die Pophuis is nie net 'n mooi fasade nie: onder leiding van Gammy de Beer (1921‐2010), eens hoofbrandweeroffisier en hoof van nooddienste in die groter Johannesburg, is hierdie stasie se brandweerdiens as een van die beste ter wêreld beskou. Brandweerkundiges het van oorsee af gekom om offisier De Beer se brandbestrydingstegnieke in digbevolke gebiede te bestudeer. Hy was veral bedrewe in die voorkoming van brande in hoë geboue.)

Die twee "Majestics".
Teen 1920 het verbeterde konstruksie‐tegnieke tot gevolg gehad dat die meeste van die Hillbrow‐huise deur multi‐verdiepings vervang is. En om en by die middel‐twintigs is Hillbrow se eerste vierverdieping‐woonstelblok opgerig, op die hoek van Clarendon Place (eens Clarendon‐sirkel) en Empireweg. Dit was die bekende en statige Majestic Mansions. (Daar was tot 'n swembad op die perseel, in 'n tyd toe swembaddens nog 'n nuwigheid in Johannesburg was.) In 1946 het die munisipaliteit egter die beperking op die hoogte van geboue opgehef en al hoe meer wolkekrabbers het verrys. Sodoende was Majestic Mansions naderhand ook een van die lae/laer geboue wat in die slag gebly het. Want in 1971 is hy gesloop om deur die twee massiewe wolkekrabbende Majestic Gate en Majestic Towers vervang te word.

Wie sou dit nou kon dink? Maar vyf‐en‐twinting jaar nadat bogenoemde beperking opgehef is, het daar in Hillies die Jan‐en‐die‐boontjierank‐hoë Telkom‐toring verrys, wat nie net bokant al die hoë Hillbrow‐geboue uittoring nie, maar ook bokant al wat wolkekrabber in Jozi is. Dié toring, 90 verdiepings (270 m*5) hoog, was eers as die J G Strijdom‐toring bekend, vernoem na adv JG Strijdom (1893‐1958), wat vanaf 1954‐58 die Eerste Minister van Suid‐Afrika was. Maar vanaf 2005 heet dit die Telkom‐toring, siende dat dit gedeeltelik aan Telkom behoort, die reus van telekommunikasie in ons land en ook 'n semi‐staatsinstelling. Vanaf 131m boontoe was ses verdiepings aanvanklik vir die publiek toeganklik, waar daar benewens 'n uitkykverdieping met teleskope, ook restaurante was: Die Heinrich‐restaurant, wat stadig en gladweg al in die rondte gedraai het (360 grade anti‐kloksgewys) en die Grill Room. Mense met vet beursies en ganse wat goue eiers lê, kon by die 'VIP Room' uithang.

Ek was een van die grootoog‐menigte wat die wentel‐restaurant gaan uittoets het, maar ek wonder of ek nog so sielsalig aan my biefstuk (of wat ek ook al gehad het) sou kon smul as ek geweet het dat die toring daar bo in die lug op 'n winderige dag soos 'n riet in die wind kan swaai, en dat dit op die plek waar die restaurant was, tot 41 cm heen en weer kan beweeg. Die mas op die toppunt kan tot 86 cm swaai; alles darem struktureel haarfyn uitgewerk. Vanaf 1981 is die toring egter om sekuriteitsredes vir die publiek gesluit en word dit as Telkom‐kantore gebruik. Dié ikoniese toring, ook die Hillbrow‐toring genoem, is deel van die stad se embleem; daai prentjie wat Johannesburgers elke maand op hul munisipale rekeninge sien.

Liewe Hillbrow. Van baksteen tot beton; van paraffienlamp tot neonlig. Dit is dan ‐‐ ten dele ‐‐ hoe die Hillbrow wat ons eens geken het, tot stand gekom het. Nou is (amper) alles weg. Maar miskien sal dit 'n pleister op 'n seer gemoed plaas as 'n mens dit wat nog oorgebly het as die spreekwoordelike halfvol glas beskou, eerder as 'n halfleë een. Of nie?

*1) Ander ou plase wat later Johannesburg sou vorm, was: Bergvlei, Boschkop, Diepkloof, Driefontein, Elandsfontein, Klipfontein, Klipriviersberg, Langlaagte, Middelfontein, Misgund, Mooifontein, Olievenhoutspoort, Olifantsvlei, Paardekraal, Palmietfontein, Rietfontein, Rietvlei, Syferfontein, Vierfontein, Waterval.
*2) Op 8 September 1886 het Kaptein von Brandis amptelik openbare delwery by 'n klomp plase, insluitend die Randjeslaagte‐driehoek, geproklameer. En volgens die Goudwet van 1885, het die eienaar van grond alle standplaaslisensies gekry; dit sou dus tot die staat se voordeel gewees het as die dorp op staatsgrond uitgelê kon word. (Dit is die enigste moontlike rede vir die hofsaak wat ek kon opspoor.)
*3) In Johannesburg se aanvangsjare is bakstene plaaslik vervaardig, in die Newtown‐gebied, toe "Brickfields," genoem, omdat die grond daar ryk aan klei was.
*4) In haar boek, 'Johannesburg Street Names,' noem Anna Smith dat Joubertpark reeds in 1889 as 'Joubertplein' op 'n standplaas‐kaart van Johannesburg aangedui is, maar dat die naam, 'Joubertpark,' in CW Tomkins se 'Plan of Johannesburg and Suburbs' (September 1890) verskyn. Sy skryf ook dat daar in 'A Guide to the Transvaal' (1905, bl 77) genoem word dat die park in 1889 uitgelê is. Maar sy noem voorts dat daar egter, volgens die stadsingenieur se verslag vir 1893‐94 (bl.24), in Oktober 1892 begin is om die park uit te lê.
*5) Sommige bronne noem 269 m.

Bronne:

Boeke:
  1. 'Johannesburg Street Names',' Anna H Smith, Juta & Kie, 1971, bl 253‐254.
  2. 'When Johannesburg and I Were Young',Juliet Marais Louw, Amagi‐boeke, 1991, bl 2, 75.
  3. 'Memories and Sketches: The Autobiography of Eric Rosenthal', Eric Rosenthal, Ad Donker‐publiseerder, 1979, bl 7, 20.
  4. 'South African Architectural Record', Maart 1952 bl. 75‐77; Junie 1949, bl 132‐134.
  5. 'South Africa's Yesterdays, Reader's Digest', 'Reader's Digest Association South Africa,' 1981, bl. 172.
  6. 'Remembering Old Johannesburg', 'National Council of Women of South Africa, Johannesburg Branch', geredigeer deur Claire Robinson, Ad Donker‐publiseerder, 1986, bl 80‐81.
  7. 'Johannesburg One Hundred Years', Chris van Rensburg‐publiseerders, 1986, bl 46, 163, 282.
Internet:

  1. Google Maps
  2. Johannesburg Timeline 1800‐1991
  3. http://Wikipedia
  4. https://johannesburg1912.wordpress.com
  5. https://joburg.org.za
  6. http://adcockhistory.wordpress.com
  7. http://artefacts.co.za
  8. www.heritageportal.so.za
  9. www.elesant.org.za
  10. http://blueplaques.co.za
  11. www.eskom.co.za