MAUREEN (Heyl) SWART skryf: MAUREEN (Heyl) SWART skryf: Wat ís dit tog met Hillbrow dat ons hom nie kan uitlos nie en hy ons nie wil laat gaan nie? Net toe ek gedink het dat alles wat daar oor die "Brow" te sê is, reeds gesê is, was Karin Pretorius se heerlike en interessante storie in K'rant.
Helaas, hierdie eens geliefde voorstad het 'n plek geword om te vrees. Hóór deesdae net die naam, "Hillbrow," en alarms begin in jou kop skree: GEVAAR! BLY WEG!
Daar is oorbevolking, erge armoede, baie van die geboue, 'n swetterjoel daarvan gekaapte plekke, is in so 'n vervalle toestand dat dit lewensgevaarlik is om daarin te woon en elke soort misdaad onder die son vier in hierdie woonbuurt hoogty.*1)
Trouens, Hillbrow word as die misdaad‐"hoofstad" van Johannesburg beskou en daar word gesê dat verblyf in Hillbrow tydelik is, want jy kan enige tyd vermoor word.
In Desember 2008 het BBC2 'n Louis Theroux‐dokumentêr met die titel "Law and Disorder in Johannesburg" vrygestel, waarin die wetteloosheid in dele van Johannesburg, veral Hillbrow, internasionaal onthul word.
'n Mens kan nogal kop skud oor die ironie daarvan dat al hierdie misdaad reg
onder die neus van die hoogste hof in die land gebeur ‐‐ die ConCourt, op Konstitusieheuwel aan die westelike rand van Hillbrow. (Die aangrensende gebied in Hillbrow is veral vir prostitusie bekend en dus word daar soms na Konstitusieheuwel as Prostitusieheuwel verwys.)
Ewenwel, van tyd tot tyd word groep‐staptoere deur Hillbrow gereël, want blykbaar kan 'n mens dit nog waag om bedags as deel van 'n groep hier te loop. Maar, aikôna, dis nie vir my nie! Te veel van 'n bangjan.
Toe gebeur die onverwagte ‐‐ een aand bevind ek my in die hartjie van hierdie gevreesde voorstad!
Dit was laat‐April 2010. Ek moes 'n aandvlug Melbourne toe haal en 'n vriendin het my OR Tambo‐lughawe toe geneem. Die trippie lughawe toe was haarfyn beplan. Ons sou met Saratogalaan*2) langs ry, 'n roete wat ons albei goed geken het. In vrolike luim vat ons toe laatmiddag die pad.
Wat hierna gebeur het, laat my dink aan 'n advertensie wat ons deesdae dikwels op televisie sien ‐‐ allerhande dinge gebeur en kort‐kort vra 'n stem (in Engels): "Wat kan verkeerd gaan?"
Inderdaad. Wat kón verkeerd gaan?
Waarmee ons nie rekening gehou het nie, was dat Jozi in daardie stadium 'n vlaag van padwerke beleef het soos wat jy nog nooit gesien het nie en hopelik nooit weer sal sien nie. Waar jy ook al gegaan het, het padversperrings en ompaaie jou lewe versuur. Asof dít nie erg genoeg was nie, het ons daardie dag nie net één nie, maar sommer twéé ompaaie teëgekom.
Ons het nie GPS gehad of 'n padkaart nie en tel daarby die feit dat al twee van ons ringtingbedinges was, en "voilà!" moeilikheid was ons voorland. Een oomblik was ons nog in Houghton (dink ek) en toe ons ons kom kry, sit ons in 'n maalstroom van mense en motors met Hillbrow se wolkekrabbers wat bokant ons uittoring.
Ons was verslae. Hoe het ons hier beland?
Spitstyd in Hillbrow. Dit was al skemer en die hoë geboue het die laaste bietjie
daglig afgekeer. Motors het sentimetertjie vir sentimetertjie vorentoe beweeg, terwyl 'n horde voetgangers aanhoudend tussen die voertuie die straat oorsteek, rats en onverskrokke. Heen en weer. Kruis en dwars. Heeltyd 'n kakofonie van toeters.
Ná 'n ewigheid het die verkeer 'n bietjie skiet gegee, maar toe begin ons in sirkels ry, so verdwaal as wat jy kon kry. Op 'n kol was ons in Twiststraat. Altans, so vermoed ek, want alles was bekend, dog onbekend en straatname was plek‐plek agter motors en mense weggesteek. Ek kon nie glo dat 'n omgewing wat ek eens soos die palm van my hand geken het, in so 'n vreemde wêreld verander het nie. Of dat my geheue my so in die steek kon laat nie. Eenrigtingstrate was ook 'n pyn.
Kort‐kort kon ons die Hillbrowtoring se rooi liggie uitnodigend sien flikker. 'n Landmerk, wat soos 'n kompas kon werk ‐‐ as ons net geweet het hoe om daar uit te kom.
Wat 'n nagmerrie! Ons het die ritteltit gehad ... twee vroue alleen in een van die gevaarlikste plekke in die land; nogal in die aand, want teen dié tyd was daglig lankal iets van die verlede. Maar ons ergste vrees -- bo alles -- was dat bloot net die wit kleur van ons vel enige oomblik 'n vonk vir vyandigheid word.
Tyd het aangestap. Die moontlikheid dat ek my vlug kon verpas, het al hoe sterker geraak. Nou nie net meer op die uitkyk vir gevaar nie, het ek ook angstig die horlosie op die paneelbord dopgehou. Tik‐tok, tik‐tok. Voor my geestesoog kon ek sien hoe ons soos blindemolle deur Hillbrow se strate ry totdat ons nie meer 'n druppel petrol in die tenk het nie, hoe my naam aanhoudend by die lughawe oor die interkom uitgeroep word en hoe die vliegtuig oplaas sonder my die naghemel in opstyg.
Skielik was ons in Berea, heelwat rustiger as Hillbrow. Maar die wonderlikste van alles: daar was jou wrintiewaar 'n vangwa langs die straat geparkeer!
Polisiemanne op die sypaadjie. (Moes my skietgebedjies gewees het wat verhoor was.) Behulpsame manne in blou het toe met die vangwa vooruit gery, ons ewe hoopvol agterna tot by Saratoga. Van hier af was ons aan ons eie genade oorgelaat.
Maar eind goed, alles goed. Uiteindelik het ek wel my vlug gehaal, naelskraap of te nie. Moet erken, nog nooit was 'n wyntjie op 'n vliegtuig so welkom nie.
*1) Sedert 2007 is verskeie projekte aan die gang om Hillbrow, asook ander vervalle en onveilige gebiede in Johannesburg, te herstel. Stadig, maar seker word gekaapte geboue teruggeneem en opgeknap. Die gemeenskappe spring ook in om hul omgewing skoon en veilig te maak en buurtwagte word op die been gebring.
*2)Deesdae sal ek liewer van Saratogalaan af wegbly, hetsy bedags of snags, want die hoek van Harrowweg (nou Joe Slovo‐rylaan) en Saratoga is een van Johannesburg se sogenaamde "hotspots" vir motorkapings.