Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

30.6.14

Geisja-danseres maak amok op NG Kerkraad

HANS LOMBARD skryf: Ná my besoek aan Japan in 1959 het ek ‘n boek geskryf oor my ervarings, “Straalvlug na die Ooste.” Dit is deur Nasionale Pers uitgegee.

‘n Resensie van die boek deur Frans Esterhuysen het op 6 Januarie 1962 in die Evening Post, ‘n koerant in Port Elizabeth, verskyn onder die opskrif: “Afrikaner liked Japan and its women.” (Leef Frans Esterhuysen nog? Ek het hom nooit ontmoet nie - Hans.)

27.6.14

Die Valiant kom terug

FRIKKIE VAN DER WALT skryf: Perskor het só baie publikasies gehad dat die manne in die fabriek groot geld met oortydwerk verdien het. Die meeste van hulle het soggens ingeklok en laat saans huis toe gegaan. Een van die baie voormanne, Rudie Mioch, het een aand gespog dat hy teen Woensdag reeds sy weeklikse kwota ure gevul het en op Donderdag soos hy dit gestel het op tyd en ‘n half gegaan het. As hy dan nog naweke gewerk het, was dit volgens hom dubbeltyd.

26.6.14

Om die storie te veroorsaak

PHILIP DEETLEFS skryf: Die Goudstadse Onderwyskollege was in die jare sewentig net om die draai van Perskor in Auckland Park en baie naby Brixton. Die polisie se blitspatrollie-eenheid met brigadier Theuns Swanepoel (die Rooi Rus) aan die roer van sake was ook in Brixton.

Ek weet nie of Buks Pietersen of (klein) Dana Niehaus hierdie storie nog kan (of wil) onthou nie, maar destyds toe ek misdaadverslaggewer by Die Transvaler was, was Buks misdaadverslaggewer by Rapport.

25.6.14

Geskiedkundige Persfoto’s opgediep

SOMARIE GREY, dogter van Perskor se oprigter, Marius Jooste, het ‘n versameling kosbare geskiedkundige foto’s uit die verlede van Die Afrikaanse Pers Beperk (APB), Die APB (1962) en Perskor tot K’rant se beskikking gestel. Ons spring weg met twee foto’s wat die geboorte van die Pretoriase middagblad Hoofstad herdenk en ‘n ietsie oor die stigting van die blad.

Goudstad en Hoofstad vat mekaar se hande

24.6.14

APB-man is een van wêreld se beste filmgrimeerders

JAPIE BOSCH skryf (byna 44 jaar gelede): Die APB het nou maar eenmaal baie talent in sy midde. Op die derde verdieping in Aucklandpark werk mnr John Dercksen, 'n proefleser, wat nie net as die beste grimeerdeskundige in Suid-Afrika geag word nie, maar as een van die bestes ter wêreld.

Uit: November 1970
En dis nie sommer net praatjies nie. Kort gelede het mnr Dercksen 'n tydskrif, Der Filmwelt, uit Duitsland ontvang waarin hierdie stelling gemaak word. Behalwe hierdie puik getuigskrif, het hy ook net ná die voltooiing van Die Kandidaat, 'n spesiale toekenning van die SA Vereniging van Rolprentverspreiders ontvang wat hom aanprys as die beste grimeerder in Suider-Afrika.

23.6.14

Prof Chris wag met breë glimlag vir sy storie!

JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Vroeg in 1982 moes ek as landboujoernalis ‘n artikel gaan skryf oor oorle prof Chris Barnard, meer beroemd vir sy hart-pionierswerk, maar toe skielik ook stoetboer met Simmentaler-beeste.

“Hy’t ‘n plaas gekoop daar naby Sedgefield in die Suid-Kaap en het groot planne met ‘n Simmentaler-stoetery. Gaan kry die storie vir ons,” kom die opdrag van die redakteur uit die Kaap.

20.6.14

Pannekoek en piesangs prikkel die lagspiere

KARIN PRETORIUS skryf: Na aanleiding van die Ope Vraag oor snaakse onderhoude het ek twee baie snaakse ervaringe gehad wat my nou byval. Eerste 'n onderhoud met Tobie Cronjé wat op 26 April 1978 in Rooi Rose verskyn het.

Die reën het neergesif op Pretoria se blink teerpaaie en ek was op pad na Tobie Cronjé vir ’n onderhoud vir Rooi Rose. Wat nuut kon ek oor die bekroonde akteur skryf wat nog nie gesê is nie en watter invalshoek kon ek gebruik, het ek gewonder?

19.6.14

Viool besorg Jacoby werk met die kwas

PIET EBERSOHN skryf: Victor Ivanoff is nie die enigste spotprenttekenaar wat op onkonvenionele wyse by Perskor se voorgangers werk gekry het nie. (Lees “Ivanoff-pêrels vir die 'swyne'.”

Dagbreek se besturende direkteur, mnr Marius Jooste, het die Hongaars-gebore George Jacoby in Rome raakgeloop toe hy en kollegas Willem Schoombee en Otto Schwellnus op ‘n sakebesoek daar was. Jacoby, met sy viool, en ‘n kitaarspeler het eters in ‘n restaurant met hul musiek vergas, en soms ook by die tafels vir hulle gespeel.

18.6.14

Die vetste hond in Indië

HANS LOMBARD skryf: K´rant vra: “Wat is die snaaksste ervaring wat jy in jou koerantloopbaan ervaar het?” My storie hier onder is eintlik 'n lag met 'n traan.

“No dogs and South Africans allowed.” Dit is die kennisgewing wat my in die gesig staar op die lughawe van Kalkutta in Indië.

17.6.14

Kunsredakteur nael 100 tree in 10.2s

Hooffoto:  Thijs Nel, die atleet, in 1958.
Inlas:  Thijs Nel, die kunstenaar, in 2014.
Gerhard Burger het verlede week onder meer vertel dat Thijs Nel, oudkunsredakteur van Die Vaderland, ‘n knap atleet was. Op versoek het Thijs in sy fotoalbums gaan soek en dié foto wat uit 1958 dateer, gekry. Dit het destyds die Noord-Transvaler se sportblad gehaal. “Ek was 13 jaar oud en het die 100 tree in 10,2 sekondes op daardie dag afgelê. Thijs was ook ‘n goeie 220 tree-, 440 tree- en verspringatleet. “Ook ‘n kranige swemmer maar toentertyd was daar nie skoolgalas nie,” vertel hy. “Dit voel soos 'n 100 jaar gelede.”

(K’rant sal graag foto’s van oudkollegas se sportprestasies wil ontvang. – Red.)

Ope Vraag 10: Is die media eerliker vandag of net nie skaam nie?

PHILIP DEETLEFS skryf: Piet Ebersöhn noem nou die dag dat die taalgebruik (en die gebruik van ons taal?) in die hedendaagse media veel te wense laat.

Die jong mense van vandag gebruik allerhande snaakse afkortings om vinnig iets vir 'n maat met sy foon te vertel. Koerante en tydskrifte gebruik nie meer regtig slangetjie- en krulletjie-karakters en die destydse Scope-sterretjies om growwe taal en kaalfoto's te verbloem nie.

13.6.14

Die misterie van etaoin shrdlu

SCHALK SWANEPOEL skryf: Wat my, as oud-Linotype-operateur by Perskor betref, is die Linotype-masjien ongetwyfeld die ingewikkeldste masjien waarmee ek te doen gehad het in my loopbaan in die koerantbedryf.

Dié wispelturige monster van ’n tikmasjien – uitgevind deur die Duitse horlosiemaker, Ottmar Mergenthaler en deur Thomas Edison beskryf as “die agste wonder van die wêreld” – kon ewe eens jou vriend of jou vyand gewees het.

12.6.14

Bekendes en beroemdes het saam met ons gewerk

GERHARD BURGER skryf: Ja, dit was nogal ʼn ding; die slag toe ek en JR Ewing mekaar in Londen raakgeloop het. Die Engelse het hom Larry Hagman genoem, maar ek het sommer van ou JR gepraat - dis mos hoe ons hom geken het.

Eintlik het ons mekaar nie werklik raakgeloop en gegroet nie. Hy het toevallig in ʼn swart motor voor ʼn hotel stilgehou toe ek verbystap. Lekker hardegat ook. Hy’t nie eens teruggewaai nie. Hy en sy vrou, wat ʼn mens nie juis as mooi kan uitskel nie.

11.6.14

Jasper beskryf joernalis-wees meesterlik!

Nog 'n reaksie op Jasper Schellingerhout se storie oor Die chemie van joernalistiek.

LITA KOTZE skryf: Ek wil graag hoor oor of Jasper Schellingerhout se bydrae in K’rant oor die chemie van joernalistiek spesiaal en vars vir K’rant geskryf is, of het K'rant dit opgediep uit ou argiewe? (Jasper het dit eksklusief en kraakvars vir K´rant geskryf - Red.)

Ek moet weet want ek is besig om dit die wêreld vol te stuur (danksy Japie Bosch, die joernaalmeester, se koevertjie onder links) aan vriende, familie en kollegas.

10.6.14

Dis mos lekkerte op lekkerte

Jasper Schellingerhout se storie Vrydag in K'rant oor wat hy noem die chemie van die joernalistiek, het 'n baie sagte plekkie in al wat koerantmens is, se harte getref. Ons plaas vandag en more die (chemiese) reaksie wat ons ontvang het.

PIET EBERSÖHN skryf: Wat ‘n lekkerte is dit nie om K’rant soggens te lees sonder enige verantwoordelikheid om dit “op straat” te kry nie. Volpunte aan die redaksie en die bydraers. Bespeur ek ‘n verdieping in die bydraes of verbeel ek my?

Drie stories het my nogal die afgelope paar dae getref. Schalk Swanepoel oor die brand by Hoofstad; Estelle de Bruyn oor die moderne joernalis; en Jasper Schellingerhout oor die chemie van die joernalistiek.

9.6.14

Gerhard praat met 'n wêreldrekordhouer

Daardie baadjie met die fênsie lapelle was al so vier of vyf jaar uit die mode toe Gerhard Burger ‘n onderhoud met Sydney Maree gevoer het. Hulle het in Rosebank, Johannesburg, gesels gedurende die jare toe Maree een van die beste middelafstand-atlete ter wêreld en Gerhard ‘n sportredakteur by Die Vaderland was.

Maree, wat op Cullinan gebore is, het in 1983 die wêreldrekord oortref toe hy die 1500-meter in 3 minute 31,24 sekondes gehardloop het. Hy het die afstand later in 3:29,77 afgelê – ‘n Amerikaanse rekord wat van 1985 tot 2005 gestaan het. (Video HIER.) Hy het die myl in 3:48,83 gehardloop, die eerste Fith Avenue Mile in New York  in 3:47,52 gewen, die VSA in 1987 by die wêreldkampioenskap verteenwoordig en ook as veldloper uitgeblink. Oor die tronkstraf wat hy ná sy terugkeer na Suid-Afrika uitgedien het, sê Gerhard: “Kom ons los dit eerder. Hy was ‘n ongelooflike atleet op wie ons baie trots behoort te wees.” (Foto en byskrif ingestuur deur Gerhard Burger.) 
 

6.6.14

Die chemie van joernalistiek


JASPER SCHELLINGERHOUT skryf: Jy kry ‘n tinteling in jou binnewerke – amper ‘n soort chemiese reaksie op ‘n plek wat jy nie eintlik weet waar dit in jou gestel lê nie – as jy iets hoor wat jy meen ander vir seker sal wil lees of wraggies móét weet.

En as jy die vermoë van visualisering in jou denke het, dan ‘sien’ jy voortydig al die storie en die opskrif (dalk op bl 1?). As ek darem die ou kan wees wat die storie breek! dink jy so ewe. ‘n Scoop verdriedubbel die adrenalien aan dié gedagte.

5.6.14

Waar is die dae?

ESTELLE DE BRUYN skryf: Waar is die dae waar daar skelm en soms nie eens so skelm nie op kantoor gedrink is, ‘n asbak op byna elke lessenaar gestaan het, snippermandjies tot oorlopens toe vol was en ‘n sub nie gehuiwer het om bulderend en vloekend oor die vloer ‘n jong joernalis in te lig wat hy van sy/haar taalgebruik dink nie.

Waar is die dae dat jong joernaliste die vrees van die dood vir die nuusredakteur gehad nie en “come hell or high water” jy nie sonder ‘n storie-idee by ‘n dagboekvergadering opgedaag het nie.

4.6.14

Berig roep ou herinneringe op

SOMARIE GREY, emeritus-professor en ondervoorsitter van die Dagbreektrust, skryf: Ek sien onlangs (31 Maart 2014) die berig in K'rant oor die gruwelike motorongeluk waarin my ouers (Marius en Margeurite Jooste) en die motorbestuurder in Oktober 1973 betrokke was en hulle genadig almal dit oorleef het. Ek was daardie tyd in Boston (VSA) en het eers daarvan te hore gekom toe alles verby was. Sowel my suster Elize as broer Klasie onthou die voorval goed en het die detail aan my deurgestuur.

3.6.14

Hermie Hendriks beseer

Hermie Hendriks
HANS LOMBARD skryf: Hermie Hendriks wat in die aftree-oord, Huis Hoëveld in Johannesburg woon, het ‘n ruk gelede in sy eenheid geval. Hy is met ‘n ambulans na die Flora Kliniek geneem waar gevind is hy het sy heup gebreek en hy moes ‘n operasie ondergaan. Ek het hom daar gaan besoek en hy het baie mooi aangesterk. Hy is nou ontslaan en opgeneem in die siekeboeg van Huis Hoëveld waar hy besig is om te herstel.

Hier's Ona!

Iemand het onlangs gevra wat van Ona Viljoen geword  het. Wel, sy bevind haar steeds in die Baai,waar sy na jare by die  Wolraad afgetree het, met seker 'n paar duisend radio-verslae van die  wolveilings agter haar naam. Maar sy bly bedrywig. Sy behartig steeds  die Wolraad se elektroniese nuusbrief en het onlangs haar kennis en  kontakte aangewend om Gerhard Burger se kleinkinders uit Australië te  gaan wys hoe die wol in Port Elizabeth gesorteer word. Soos almal kan  sien, dra Ona haar jare veel beter as Gerhard. (Foto en byskrif ontvang van Gerhard Burger. -- Red.

2.6.14

Die dag toe Hoofstad vlamgevat het!

SCHALK SWANEPOEL skryf: Dit was redelik onlangs dat ek K’rant op die internet ontdek het – ’n ontdekking wat my gedagtes meer as 40 jaar teruggevoer het na die begindae van Hoofstad en Oggendblad.

Laat my begin deur te sê my verbintenis met Hoofstad en later Oggendblad spruit nie uit die redaksionele sy van hierdie twee publikasies nie, maar wel uit die tegniese kant. Ná my vakleerlingskap by die Pretoria News in die jare sestig – aanvanklik as handlettersetter en later as Linotype-operateur – het ek my in 1970 by Hoofstad as Linotype-operateur aangesluit.