Soek iets? Tik 'n woord(e) hieronder en kry al die berigte waarin dié woord(e) voorkom.

2.5.14

Terug na waar ek hoort

ESTELLE DE BRUYN skryf: K'rant vra ek moet skryf oor die joernalistieke pad wat ek sedert my Perskor-dae geloop het. Dit sit my aan die dink.

Dit is ‘n lang en kronkelrige pad, oor die spreekwoordelike berge en dale.

Ek was maar vir so ‘n jaar en ‘n half by Perskor voor die liefde my
noordwaarts oor die Oranjerivier na Namibië gelei het. André de Bruyn het by Republikein in Windhoek begin werk en ek was smoorverlief. Het my tasse gepak, bedank en Windhoek toe getrek sonder dat ek ‘n werk hier gehad het.

André de Bruyn
Mmmmm ... dis net as jy 23 jaar oud en hondsdol van verliefdheid is dat jy so onverantwoordelik is. Gedink ek sal oorleef van vryskutwerk vir Die Vaderland en The Citizen. Helaas! Dit was ‘n duur lessie in oorlewing. Ná ek my eerste tjek van Perskor ontvang het, het ek besef: sussie, jy moet ‘n vaste werk met ‘n vaste salaris kry!

Ek het ‘n pos by die Windhoek Advertiser gekry en vir paar maande daar gewerk voor ‘n geleentheid hom by die destydse Suidwes-Afrika Uitsaaikorporasie (SWABC) voorgedoen het.

Ek het ‘n pos as TV-joernalis gekry. Aanvanklik was daar net twee aande ‘n week TV-nuus, maar dit was nogtans ‘n uitdaging om die nuwe medium onder die knie te kry. Ek moes leer redigeer en die TV-taal van “auto cue” en wit balans en “stand uppers” en “voice overs” bemeester. Dit het maar gesukkel.

Uiteindelik het die bulletins meer geword, vyf in die week en ‘n aktualiteitsprogram op ‘n Sondag. Vir enige naweek-nuus moes die Namibiese TV-kykers maar wag tot Maandagaand.

Op 1 April 1989 het die lank verwagte implementering van Resolusie 435 van die Verenigde Nasies se veiligheidsraad begin. Namibië was amptelik op pad na onafhanklikwording. Dit was interessante tye met UNTAG-troepe onder hulle blou barette die land vol. UNTAG: Die Verenigde Nasies se bystandsgroep vir die oorgangsproses.

In November 1989 is die eerste demokratiese verkiesings in Namibië gehou, ‘n grondwetskrywende vergadering is verkies. Daar is begin met die skryf van die nuwe land se grondwet. Die grondwet is op 9 Februarie 1990 aanvaar en die land het op 21 Maart 1990 onafhanklik geword.

In dié tyd het die SAUK my genader om by hulle aan te sluit en op 1 Mei 1990 breek ‘n nuwe hoofstuk in my lewe aan toe ek by die SAUK in die Pretoria-kantoor begin werk.

Afgevaardigdes by KODESA
Aan die begin van 1992 beland ek in die politieke redaksie van die SAUK en met die intrapslag begin
KODESA by die sogenaamde World Trade Centre, of soos ons dit genoem het, die Neels Swart Pleasure Dome, in Kemptonpark.

Die hele demokratiseringsproses, onderhandelinge vir ‘n nuwe grondwet vir Suid-Afrika en die 1994-verkiesings volg.

Die hoogtepunt was toe Calle Long en ek Natal toe gestuur is om nuusdekking te gee toe oudpres. Nelson Mandela sy kruisie gaan trek het.

Ná die plaaslike owerheidsverkiesings in Suid-Afrika het ek by Freek Robinson se Fokus-span aangesluit en as regisseur gewerk.

In 1997 is ek terug Namibië toe en het by die redaksie van Republikein aangesluit.

Des Erasmus
Ná al die jare in die uitsaaiwese was dit nogal ‘n aanpassing. Des Erasmus was gedurig op my spoor omdat ek so swak gespel het. As 'n mens vir radio en TV werk en jy doen met jou stem verslag, sien niemand mos hoe vrot jy spel nie.

Met Des en baie geduldige subs se hulp asook met die hulp van die rekenaarprogram wat Afrikaanse spelling nagaan, gaan dit deesdae darem beter.

Ek is op 1 Augustus 2010 aangestel as redakteur van Republikein.

In dié tyd het Democratic Media Holdings, die moedermaatskappy van Republikein, die Duitse dagblad, Allgemeine Zeitung en die Engelse dagblad, Namibian Sun oorgeskakel na ‘n elektroniese nuusstelsel.

Op 11 Mei 2013 het ek 55 jaar geword en besluit dis dalk tyd om die tuig neer te lê. Van redakteur-wees het ek genoeg gehad. Ek het kennis gegee, maar is gevra of ek bereid sou wees om aan te bly as politieke redakteur en het die aanbod met graagte aanvaar.

Ja, natuurlik is dit ‘n groot eer en voorreg om die redakteur te wees, maar dit vat ook al die pret en plesier van joernalistiek en skryf weg. Dit is die een bestuursvergadering ná die ander, 'n mens werk met bemarkers en kliënte en dissiplinêre verhore.

Nou is ek weer waar wil wees en hoort. Ek is ‘n joernalis. Ek gaan parlement toe en ek voer onderhoude en gesels met mense en bo alles SKRYF ek en dit is wat ek wil doen tot ek regtig aftree.

Van my vriende wat nie in die joernalistiek is nie, het al gevra of ek nie ‘n boek wil skryf nie. My antwoord hierop is om Noel Coward aan te haal wat gesê het: Every good journalist has a book inside him. Good place for it to stay.”