Ek en Solly van Staden is Komatiepoort toe gestuur. Daar was gerugte dat ons vlugtende Portugese by die grenspos gaan kry en groot stories
van ellende, waarvan die koerant hou, en hartseer waarvan die lesers hou.
Marieta Roos |
Solly (waar is hy nou?) was fotograaf by die polisie voordat hy by Die Vaderland kom werk het.
Kom ons in Komatiepoort aan, boek ons in by die motel. In Johannesburg was dit nog koud en hier in die Laeveld was dit stikwarm. Ons is dadelik na die grenspos.
Daar staan ons by die poort na Mosambiek. Alles is doodstil. Ons wag 'n ruk en laatmiddag is ons terug motel toe en ons drink 'n biertjie teen die hitte. En ek doen verslag.
Volgende oggend sê ek vir Solly ek kan die hitte nie langer verduur nie en is in die dorp in om 'n kortbroek te koop. Ek sal nooit daardie pienk-geel terylene kortbroek vergeet nie. Dis al wat ek kon koop met die klein voorskot wat ons had.
Weer na Rosana Garcia, die grenspos. Niks. Net die gewone deurgangers en selfs baie minder as gewoonlik, want almal was bang vir Mosambiek en Frelimo.
Ons vertel Johannesburg en die koerant sê stuur 'n storie dat dit stil is. Wat 'n plesier! Ons drink 'n biertjie. Middagete eet ons tunaslaai. En ek doen verslag.
Ons gaan staan op die brug by die Krokodilrivier en kyk na die groot visse in die water.
Solly vra wat moet hy afneem. Ek sê: "Jong vat 'n kiekie van die leë grenspos"
Die koerant sê bly nog dag of wat en skryf maar dis doodstil, die mense is bang en ek doen dit.
So vertoef ons nog 'n paar dae by die grenspos, neem 'n foto of twee, terug na die rivier, bier en tunaslaai en ek doen verslag.
Dit was nou 'n heerlike storie!