PEET skryf: Dr Willem Gauché was ‘n algemene praktisyn met ‘n groot praktyk in Pretoria. Hy was iemand wat nie juis meer in God geglo of kerk toe gegaan het nie en berigte oor die “kastige genesings” by Dan Bosman se dienste het hom omgekrap.
Dr Willem Gauché |
Toe hulle daar aankom was die saal reeds vol en mense het by deure en vensters gestaan. Hy self was by ‘n deur.
Ná hy deel van ‘n preek moes aanhoor, sou die biddery vir siekes begin. Bosman het mense met rugkwale vorentoe geroep, want dikwels het mense rugpyn oor hul bene nie ewe lank is nie, het hy verduidelik.
Daardie aand doen hy toe iets wat nie altyd gebeur nie – hy vra: “Is hier nie miskien vanaand ʼn mediese dokter wat wil kom kyk wat gebeur nie?”
Dr Gauché het my later vertel hy het iets gedink soos: “Ha, nou vat jy 'n kans mannetjie – jy’t nie gedink hier sal ‘n dokter wees nie, maar hier is ek!” en hy het sy weg deur die mense na die verhoog gebaan.
“Dan het my vriendelik verwelkom en verduidelik wat hy gaan doen. Hy sou mense op die stoel laat sit, hulle bene optel – hakke teen mekaar. Dan sou mens kon sien of die bene ewe lank is. Indien nie, sou hy vir die Here vra vir ‘n wonder.
“Kom gerus nader dokter, maak seker dat jy mooi kan sien!”
Die eerste geval was van ‘n jong meisie wat polio gehad het. Die linkerbeen was misvorm en ‘n hele paar sentimeters korter as die ander been. Die bobeen was ook korter want die knieë was nie eens langs mekaar nie.
“Tydens die gebed het ek so naby gekyk dat ek my kop uit die pad moes kry – so vinnig het daardie been langer geword!”
“Ek was geskok en uit die veld geslaan. Daar is nog vir verskeie ander siekes gebid. Een se ruggraat was S-vormig en het reguit geword tydens gebed. Ek het haar voor die tyd en daarna ondersoek.
(Mev Gauché het die twee se telefoonnommers geneem en dr Gauché het hulle dae later gebel. Albei se toestand was steeds soos ná gebed).
“Daardie nag kon ek nie slaap nie. Ek het rondgerol en alkante toe gedink oor wat ek gesien het en later tot die slotsom gekom dat ek ‘n psigiater moet gaan sien, of anders skort daar iets met my oë. Die derde moontlikheid is dat daar ʼn God is wat nog wonders doen.
Vroegdag het ek onrustig aan die slaap geraak.
Ek het geweet dit gaan ‘n moeilike dag in die spreekkamer wees. Teen elfuur kon ek nie meer uithou nie. Ek het die ontvangsdame aangesê om die pasiënte ‘n bietjie te vertraag ek gaan net gou uit. Naby was ‘n boekwinkel. Ek het haastig soontoe geloop en ‘n Bybel gekoop.
Terug by die spreekkamer het ek die deur agter my toegetrek en vir die eerste keer in ‘n lang tyd gebid: “Here, nou weet ek U is daar, maar hoe gaan ek aan my vriende en kollegas verduidelik wat ek gisteraand gesien het? Wys my in die Bybel as ek dit nou oopmaak asseblief.”
Ek het die Bybel met bewende hande oopgemaak en my oë het dadelik geval op 'n vers wat lees: “Voorwaar Ek se vir julle: As iemand in My glo – die dinge wat Ek doen sal hy ook doen, en groter dinge!”
Sjoe! Dit was ‘n skok!
Ek het dadelik huis toe gebel: “My vrou, nie alleen is daar ‘n God nie, maar Hy het nou net met my gepraat en ek weet my lewe is nie reg met Hom nie. Bly net daar ek kom jou nou oplaai !”
Ek is haastig by die spreekkamer uit – gelukkig was daar nie ‘n pasiënt nie. Die arme ontvangsdame wou besorgd weet of ek siek is. “Nee, maar kanselleer asseblief alle afsprake tot etenstyd!” en ek is daar uit en haastig huis toe.
Gelukkig het Dan die vorige aand vir my vrou sy telefoonnommer ook gegee. Ek het hom gebel en ons is reguit na sy huis waar ek hom vertel het wat gebeur het en dat ek en my vrou ons lewens wil regmaak met die Here. Ons het dit gedoen. Ek was so opgewonde en bly. Ek kon nie swyg nie en het kollegas en vriende vertel.”
Die storie het in verskeie koerante verskyn. Sy naam is genoem en daarvoor het die Mediese Raad hom bygekom: Die klag was dat hy onprofessioneel opgetree het om sy naam in die koerant te laat kom. Hy maak reklame om sy praktyk te bou!
Dr Gauché se verweer was: Ek het nie toestemming gegee dat die koerante my naam noem nie en ek verseker u my praktyk is so groot ek moet mense wegwys – ondersoek maar gerus of dit waar is!
Op die ou end het die Raad net die dokter gewaarsku om nie verder met koerante te praat nie.
“En toe dokter?”
“Nee, toe ons uitstap en alleen is, klop die voorsitter van die raad my vertroulik op die skouer en vra; “Die been wat jy sien uitgroei het – het dit werklik gebeur?”
(K’rant beskou bostaande as ‘n weergawe van ‘n joernalis se waarnemings en ervarings in die uitvoering van sy pligte en plaas dit uit hierdie oogpunt. K’rant is steeds nie van voorneme om godsdienstige debatte te voer nie. – Red.)