Toe loop my gedagtes so dertig jaar terug toe ek, Frans Scheepers en Johan van Wyk een naweek Tzaneen toe is, onder meer om die mistiek van die Wolkberge te gaan belewe.
Frans Scheepers |
Ewentwel, ons kom destyds redelik laat die aand in Tzaneen aan en slaan ons tent in die munisiale kampterein op.
Kort voor lank ontvang ons besoek van ‘n kat. Met Frans se liefde vir katte is dié twee sommer gou dik vriende.
Die volgende oggend is ons vroeg daar weg, erg beïndruk met die stadsvaders se gasvryheid en die feit dat ‘n mens nie vir kampeerplek in die oord betaal nie. Ons het lekker in die omgewing gekuier, maar nooit die Wolkberg bereik nie.
Saterdagaand is ons terug na Tzaneen se munisipale ruskamp. Ons het skaars begin tent opslaan toe ‘n amptenaar met ‘n kwitansieboek opdaag en ons vir die nag se slaapplek aanslaan.
Só met dié dat hy sy boek toeslaan en die kwitansie oorhandig, daag die kat weer op en vlei hom ewe eie teen Frans se been aan.
“Kyk wie’s weer hier,” sê Frans glimlaggend en begin die kat streel.
“O,” sê amptenaar, “julle het gisteraand ook hier geslaap.” En hy slaan ons net daar vir nog ‘n aand se slaapplek aan!