Ek het vir oulaas my Perskor-tikmasjien gegroet by Die Vaderland in Doornfontein kort voor ons terugkeer na Windhoek. Omdat ek nie
werkloos hier wou aankom nie, het ek ‘n vriendin gebel om te hoor waar ek kon aanklop vir werk. Sy het my onmiddellik werk as nuusredakteur van die New Nation in die destydse Oorgangsregering aangebied en vroeg in 1987 het ek daar ingeval. Geluksgodin? Vir seker!
Min het ek toe geweet dat my laaste twee jaar van joernalis wees aangebreek het. Laat in 1989 het ek aansoek by die destydse Akademie in Windhoek gedoen om hul skakelwerk te doen. Dit was nadat een van die teruggekeerde SWAPO-lede my mooi laat verstaan het dat daar nie vir my ‘n regeringsjoppie sou wees in 'n onafhanklike Namibië nie.
Dit was naelkoudae waarin ons gewik en geweeg het of ons moet bly of ry. Gelukkig het ons net ons seun op die vliegtuig gesit na Oupa en Ouma Deetlefs op Bergplaas buite Nelspruit sodat hy darem nie deel van die bloedbad sou wees ná die verkiesing nie. Dit was presies ‘n dag nadat Anton Lubowski voor sy huis in Klein Windhoek doodgeskiet is.
Die verkiesing het gekom en gegaan en SWAPO het ‘n oorweldigende meerderheid behaal. Die bloed het nie gevloei nie, maar my dae by die staat was getel - tot die geluksgodin weer vir my geglimlag het.
Ek is ingeroep om die aanvaarding van die Grondwet op 9 Februarie 1990 te reël en omtrent middernag op 8 Februarie 1990 het ek kaalvoet en besem in die hand gevee waar al die grootkoppe die volgende dag sou saamtrek om die grondwet eenparig te aanvaar.
Hage Geingob |
Ek het die “terroris” geantwoord, daarna gaan slaap en my moeë lyf die volgende dag voortgesleep om die funksie deur te sien. Later die middag kry ek ‘n telefoonoproep dat Hage Geingob my wil spreek. So het ek hoofskakelbeampte in sy private kantoor geword totdat ek in 1996 weg is om die regering se skakeldirekteur by die Ministerie van Inligting en Uitsaaiwese te word.
Hosni Mubarak |
Jassar Arafat |
Martti Ahtisaari |
In 1996 is ek weg om die skakeldirekeur van die staat te word en omdat ek met baie hoë lui te doen gehad het asook met kabinetsbesluite gewerk het, het ek baie staatsamptenare en leiers geken en hulle vir my.
Die werk was stresvol en lang ure het daartoe bygedrae dat ek my gesin afgeskeep het. Ek het besluit genoeg is genoeg en was van plan om op vervroegde pensioen te gaan.
Parlementstuin, Namibië |
Tussen onderhoude het en na die kabinetskantoor gehardloop om sommer die dokumente vir die week te kry en ek het die kabinetssekretaris ontmoet wat my na sy kantoor na die onderhoude genooi het.
Ná die voltooiing van die onderhoude is ek weer kabinetskantoor toe en is daar meegedeel dat die president ‘n blanke vrou in die staatsdienskommissie wil hê en dat ek die uitverkorene is. Weer het die geluksgodin baie breed geglimlag, want weer eens het sy my op die regte tyd op die regte plek gesit.
Op aanbeveling van die president het die nasionale vergadering my aangestel en sedert 1 November 2010 is ek op ‘n vyf jaar lange kontrak as staatsdienskommissaris aangestel. Die grondwetlike liggaam het ‘n voorsitter en vyf lede en ons het die president oor verskeie personeelaangeleenthede in die staat geadviseer.
Die verandering van werksomstandighede was hemels, ek het baie nuwe dinge geleer en die woord stres nie meer in my woordeskat bestaan nie. Ek sal opreg by my aftrede kan sê dat ek my laaste werksjare baie geniet het.
Ek sal ook nooit ophou dankie se vir die geluksgodin wat gesorg het dat ek altyd op die regte tyd op die regte plek was nie – eers met ‘n besem in die hand en toe in die kantoor van die president!